As jy van plan is om die Abraham Kriel Kinderhuis se Liggiefees hierdie jaar by te woon, bring gerus die kinders saam! Ons weet hoe belangrik dit is om die kleingoed gelukkig te hou, en daarom het ons ‘n spesiale Kinder Area waar hulle kan speel, lag en al hul energie uitwoed. Terwyl jy self lekker saam kuier, word daar vir die jongspan behoorlik gesorg.
Veilige Polsbandjies
By die ingang kry elke kind ‘n gratis polsbandjie vir hul veiligheid. Dis ons manier om seker te maak dat jy met ‘n geruste hart kan ontspan terwyl die kinders hulself geniet. Geen kind verdwaal by ons nie – ons hou dop!
Pret vir Kleuters
Vir die kleingoed van 7 jaar en jonger het ons ‘n spesiale afgesperde area waar hulle veilig kan speel. Geen groter kinders word hier toegelaat nie – want ons weet hoe belangrik dit is dat die kleintjies hul eie veilige plek het.
Daar sal ‘n kindoppasser wees om seker te maak dat almal vriendelik speel en geen trane oor speelgoed is nie. En as jy 'n kleintjie met ‘n avontuurlus het, moenie vergeet om “Oupa se Wa” te probeer nie – ‘n rit van formaat wat net reg is vir die jong avonturiers.
Speel-Pret vir Ouer Kinders
Maar wag, daar’s meer! Vir die ouer kinders (en selfs vir die grootmense wat nog kind in die hart is) is daar hope speletjies en aktiwiteite om van te kies. Wacky Ball, Ski-Putt, Beat the Buzzer, Crazy Driver, Muscle Man, Basketball en ons gewilde F1 Racing simulator sal jou besig hou. Ons het ook springkastele en die opblaas-Raket om seker te maak almal kry ‘n kans om lekker te baljaar. Dit klink na pure lekkerte, nè?
‘n Liggiefees vir die Hele Familie
Of dit nou jou kinders is wat die pret geniet, of jy wat na hulle kyk terwyl jy aan ‘n koppie koffie teug – die Kinder Area bied iets vir almal. Dis ‘n plek waar nuwe vriendskappe gebou word en herinneringe gemaak word. Bring die jongspan, bring die glimlagte, en laat ons saam ‘n Liggiefees vol vreugde vier!
Kry jou Kaartjies hier Quicket : Kliek Hier