Iets wat my witwarm onder die kraag maak, is wanneer iemand op ‘n sosiale media groep ‘n plasing maak en die individu vra vir ‘n kwaliteit produk of diens wat “nie ‘n arm en ‘n been kos nie”. Kyk, dan is my stertvere alreeds in 'n krul getrek en nog voordat ek deur die hele plasing gelees het, is ek goed opgeklits.
It adds up
Weet dié mense dan nie dat die produk of diens wat hulle teen ‘n belaglike prys versoek het, duur is nie? En nie net duur in terme van geld nie. Verskaffers en entrepreneurs moet nie net ‘n bestaan maak nie, maar hul moet die produkte aankoop; boonop petrol uitry om dit te gaan optel en kom ons wees nou eerlik met mekaar, die petrolpryse lyk nie of dit sommer vinnig weer onder R20 gaan wees nie. Dan is daar huur en salarisse wat betaal moet word, tyd wat hul opoffer om die produk of diens aan jou te lewer, hulle moet begroot om hul besigheid te bemark…en dis maar net ‘n druppel in die emmer. En al daardie uitgawes? It adds up. Dit is nog voordat verskaffers ‘n prysplakker op hul produk gesit het.
Goedkoop koop is duurkoop
Die spreekwoord “goedkoop koop is duurkoop” is báie waar en as jy nie bereid is om jou beursie so bietjie groter oop te maak om vir kwaliteit te betaal nie, moet dan nie by jou ‘bargain verskaffer’ gaan kerm en kla na die tyd nie. Ons ekonomie is alreeds in sy glorie in en almal probeer ‘n bestaan maak op een of ander manier. Hetsy dit jou voltydse werk of ‘n ‘side hustle’ is; klein, plaaslike besighede en verskaffers trek swaar - en dan sal jy so waar as wragtig mense kry wat nog wil redekawel oor die prys. Jy gaan nie Woolworths toe en stry die prys van jou inkopies by die kassier af nie - a, nee a!
Wees realisties
Kyk, ek is self stout vir ‘n winskopie en bloedrooi Uitverkoping bordjies trek my soos ‘n magneet, maar ek is ook realisties. Hoe wil jy R80 vir ‘n handgemaakte item betaal wat die verskaffer ure gevat het om te maak, die materiaal gekoop het, in die meeste gevalle word hul eie huis se elektrisiteit gebruik en dan moet sommiges nog betaal vir hul stalletjie se staanplek by ‘n mark… Ek sê ook nou nie dat dit ‘n 300% winsgrens regverdig nie, ek dink ons almal moet net bietjie ‘n meer realistiese benadering en perspektief hê voordat daar belaglike versoeke gerig word. Alles in die lewe kos geld en dit gaan ongelukkig nie goedkoper raak nie.
Keyboard warriors
Enige Jan Rap en sy maat kan vir jou iets teen ‘n ‘special price’ doen, maar moet dan nie verbaas wees as dit (of jy) na die tweede keer se gebruik nie meer lyk soos toe jy dit gekry het nie. Baie entrepreneurs en verskaffers loop deur wanneer keyboard warriors hul vingers oor die sleutelbord laat gly en gal braak op sosiale media oor die prys van hul produk of diens. Foto- en videograwe, gebeurtenisbeplanners, skrynwerkers en selfs entrepreneurs wat handgemaakte items maak, is al oor die vingers getik omdat hulle pryse ‘n arm en ‘n been kos…Let wel, hierdie is die mense wat ure spandeer om vir jou as verbruiker die beste produk of diens te produseer. En dit is ook die mense wat dit doen vir 'n lewe, daardie geld is hul enigste inkomste.
In kort
So, kom nou mense. As jy, as verbruiker, bitter graag iets wil hê wat jy nie sommer iewers anders sal kry teen die prys wat dit tans aangebied word nie, moet jy maar bereid wees om jou hand bietjie dieper in jou sak te steek en oë toe te knyp voordat jy daardie plastiek kaartjie laat brand. En indien jy nie bereid is om dit te doen nie, beweeg aan.