Toe Chantel de Meyer en haar man, Jaco, meer as ‘n jaar gelede Serobe Adventures oorgeneem het by familie, sou hulle nooit kon raai dat hiérdie plek soveel lewens kon aanraak nie.
Agtergrond
Frik en Magriet Badenhorst was vir twee dekades eienaars en aan die stuur van sake by Serobe Adventures en het met die grootste liefde die bestuur oorhandig aan Jaco en Chantel. Serobe Adventures is gefokus op ontwikkeling [op alle vlakke] deur gebruik te maak van die natuurlike omgewing.
Magriet Badenhorst was ‘n hoërskool hoof in die Vrystaat ,Frik was ‘n skoolhoof in Gauteng en 'n bekende in die sportkringe. Hiérdie twee dinamiese mense het dit goed gedink om die pret deel van skool, naamlik kampe, te vat en dit te kombineer met die buitelug en natuur. Wat begin het as ‘n lekker wegbreek vir kinders en onderwysers, het so gegroei dat hul omtrent elke naweek gasheer is vir verskeie skole in en om die area. Die hele familie het ‘n groot liefde vir diere en die natuur oor die algemeen en alle aktiwiteite (wat bou projekte insluit) word op só ‘n wyse gedoen dat die area se fauna en flora steeds bewaar word. Die Badenhorsts is steeds betrokke by Serobe Adventures, veral in 'n bemarkingshoedanigheid. Hulle is opgewonde om hulle droom, onder nuwe bestuur, te sien groei.
Spasie vir die nasie
Die perseel spog met ‘n nuutgeboude koshuis wat 200 kinders kan akkommodeer, die Boskamp kan 66 persone huisves en sodra die nuwe chalets gebou is en die bestaandes klaar opgeknap is, sal dié ‘n verdere 100 persone met ‘n holte vir hul kop voorsien. Met so baie slaapplek is dit geen wonder dat leier ontwikkeling, spanbou naweke, kerkkampe en graad agt kampe slegs ‘n paar van die groepe is wat by die teerpad afdraai na hierdie gronde toe. Een van Serobe Adventures se doelwitte is om elke kind huis toe te stuur met ‘n lewenservaring en bewustheid, nie net van hulself nie, maar ook van die groter prentjie.
Nuwe vaardighede is ‘n móét
Die gronde bied ‘n groot verskeidenheid fasiliteite en aktiwiteite, onderandere: hindernisbane, high ropes bane, ziplining, abseiling, muurklim, staproetes, boogskiet, nagmars, lantern bekruip, sterrekyk en ‘n lekker groot swembad. Hul bied ook binnehuise uitdagings en aktiwiteite aan wat weer ander vaardighede ontwikkel en versterk. Die hoof doelwit wat die span tydens naweke het, is dat elke kind (of besoeker) ‘n nuwe vaardigheid leer. Ontwikkeling van die kinders is die belangrikste aspek vir die kamp. Laasgenoemde is ook hoe die kamp hul sukses meet - as elke liewe kind die kampgronde verlaat met ‘n nuutgevonde vaardigheid.
Elke groep se aktiwiteite word spesifiek deur die fasiliteerders uitgewerk en verskil van mekaar, byvoorbeeld die netbalspanne se naweek program verskil hemelsbreed van die spanbou naweek program.
'n Tipiese netbal naweek
Sportkampe volg dikwels 'n soortgelyke skedule, maar dit word aangepas om te voldoen aan die spesifieke behoeftes van elke span of skool. Vir netbalspelers ontvou 'n tipiese naweek soos volg:
Dag 1: Die aankoms is geskeduleer tussen 10:00 vm. en 2:00 nm., waarna die spanne begin met ysbreker aktiwiteite om kameraadskap onder die deelnemers te bevorder. Daarna verskuif die fokus na 'n spesifieke vaardigheid, soos fiksheid, gevolg deur 'n sessie wat gewy is aan die bespreking van netbalreëls—afrigters en spelers word afsonderlik ingelig. Die aand sluit af met 'n prettige aktiwiteit, soos sterrekyk of 'n talentaand.
Dag 2: Die dag begin met 'n opwindende bergklimsessie vroeg in die oggend, wat die toneel stel vir die ontwikkeling van netbalvaardighede, met klem op aanval- en verdedigingstrategieë. Na middagete fokus die aandag voort op balhantering en voetwerk en die dag eindig met 'n verfrissende swem.
Dag 3: Die finale dag is gewy aan volledige dagwedstryde, met uitkloprondtes en eindig met 'n prysuitdelingseremonie. Dit is ook 'n dag waar ouers aangemoedig word om te kom en hul kinders te ondersteun.
Die kampe is voordelig vir talle redes. Miskien is die belangrikste voordeel die geleentheid vir provinsies om mekaar se vaardighede en tegnieke te sien en te leer. Afrigters baat ook by hierdie ervarings, met toegang tot oefeninge, skeidsregterkursusse en wenke oor strapping tegnieke, wat die algehele afrigtings- en speelervaring verbeter.
Nommer een prioriteit
Veiligheid is die nommer een prioriteit by Serobe Adventures. Chantel en Jaco het beide NQF 4 diplomas in Avontuur en het elkeen hul AQF Kursus voltooi. Al die gidse is op een of ander manier gekwalifiseerd of het ‘n relevante diplome in Avontuur en/of Toerisme. Die fasiliteerders doen deurentyd kursusse en in-house training vind op ‘n gereelde basis plaas. Die personeel het óf Vlak 2 óf Vlak 3 Noodhulp en sommiges is gespesialiseer in Wilderness Based First Aid. Selfs elke personal flotation device (PFD) het ‘n veiligheid sertifikaat. “Ons het hard gewerk om te kom waar ons is in terme van opleiding”, het Chantel genoem. Die bestuurspan by Serobe doen ‘n risiko assessering vir elke aktiwiteit, leerders moet vrywaringsvorms inhandig voor die tyd, die leerders word in kleiner, veiliger groepe verdeel en die kinders word nie sommer alleen gelaat nie - daar is altyd ‘n fasiliteerder in die omtrek.
Splish splash
Waar daar water betrokke is, is die risiko altyd hoër as met ander aktiwiteite. Wanneer die leerders swem, plaas die fasiliteerders hulself reg rondom die swembad en hou hul die kinders met valkoë dop, “dis snaaks hoe vinnig jy leer tel”, vertel Chantel laggend. Maar dit is heeltemal te verstane - ongelukke gebeur in ‘n oogwink. Wanneer die kinders nie [mag] swem nie, hardloop hulle deur die sproeier “soos toe ons klein was” en wanneer 'n speletjie soos Ring around the Rosies inkorporeer word, baljaar die kinders net so lekker soos wanneer hulle in ‘n swembad sou wees.
Alles en nog meer
Vir leerders met spesiale behoeftes word die aktiwiteite vergemaklik, dit word nie uitgehaal nie. Hiérdie kinders wil alles ervaar wat ander kinders tydens hierdie kampe ervaar, “jy hanteer hulle soos enige ander kinders in terme van dissipline, maatreëls en dies meer”. Chantel kies spesifieke fasiliteerders soos die spesifieke groepe benodig en sy weet by watter fasiliteerder die kinders maklik aanklank sal vind.
Los dit op die berg
Byna elke kind wat die kamp bywoon het ‘n traumatiese ervaring gehad of gaan deur ‘n moeilike [emosionele] tyd. Dit is tydens hulle stil ‘berg sessies’ wat die kinders regtig ‘n ander tipe vrede en verligting ervaar - dit is werklik ‘n heilige oomblik. Alhoewel dit nie intensioneel gedoen word nie, is die oggende op die berg ‘n besonderse ervaring en ‘n persoonlike hoogtepunt vir Chantel. Dit is ook wanneer sy self besef dat dít wat hulle doen, werklik ‘n verskil maak in ‘n kind se lewe - in meer as een opsig. “Elke kind moet ten minste vier keer in hul lewe op ‘n skoolkamp gaan - twee op laerskool en twee op hoërskool”, het Chantel genoem. “Dit is nodig om deur daardie [verskillende] trauma te werk.”
Verhelderende en verrykende ervarings
Serobe Adventures maak voorsiening vir enigiemand, hetsy dit in terme van dieet vereistes, geloof of fisiese beperkings is. Hulle is ook oop vir ander voorstelle in terme van unieke of spesifieke aktiwiteite wat die onderwysers graag met die leerders wil doen. Chantel vertel van een skool waar die leerders deur die loop van die dag, na elke aktiwiteit, ‘n spesifieke kleur kaartjie gekry het. Dié kaartjies het verskillende bestanddele verteenwoordig en teen aandete, het hul potjiekos gemaak met dié ‘bestanddele’ wat hul teen die einde van die dag bymekaar gemaak het. Die leerders het self hul aandete voorberei - van vuurmaak tot die bestanddele in die pot meng; alles onder ‘n wakende oog van die fasiliteerders, natuurlik. Dit is verhelderende en verrykende ervarings soos dié wat Serobe uniek maak.
Hoe lyk die toekoms?
Daar is baie planne en vooruitsigte waarna besoekers kan uitsien by Serobe Adventures. Hulle is besig om ‘n addisionele swembad te bou, ‘n nuwe volleyball baan, rugbyveld en binnehuise sport arena. By die ‘oord afdeling’ is hulle tans besig om nuwe chalets te bou en is van plan om die bestaande chalets te restoureer. ‘n Springmat en glybaan gaan ook hier aangebring word. Die afgeleë Boskamp gaan ook ‘n spreekwoordelike nuwe laag verf kry wat afdakke en ‘n klimraam vir die kleingoed insluit. Vierwielmotorfiets roetes en perdritte is ook nog ‘n droom wat Chantel vir die kamp het.
Hulle volg nie tendense nie
Alhoewel hulle hul “eie ding doen” en nie juis steur aan die nuutste tendense in die industie nie, doen die personeel deurlopend kursusse om op hoogte te bly van veranderinge of nuwe veiligheidsmaatreëls in die industrie. Die Departement van Toerisme stel instansies in kennis van ‘n wet wat verander en dan moet die instansies dié nuwe wet implementeer. Met al die deurlopende veranderinge, leer die bestuur én personeel elke dag iets nuuts van die industrie. Hulle streef daarna om die programme ‘vars’ te hou om te verhoed dat dit vervelig word. “Jy dink deurentyd aan nog hindernisse wat jy kan bou, dink aan nog aktiwiteite wat jy kan doen”, het Chantel vertel.
Grootste uitdagings
Vir Chantel, persoonlik, is die grootste uitdaging wanneer jou energie (as fasiliteerder) nie die energie van ‘n groep ewenaar nie. Die oorhoofse uitdaging is onderhoud in die algemeen. Omrede hul so baie keer back to back bespreek is met kampe, is dit moeilik om die hindernisse of aktiwiteite te onderhou. Dit is juis hoekom hulle die winter maande nou gebruik om al die onderhoud en instandhouding te doen, sodat hulle slaggereed is wanneer die groepe weer op Serobe neersak.
Met 1.5km se rivierfront en 27 hektaar se ruimte, gepaard met die stiltes wat slegs die Vrystaat vlaktes kan bring, is daar ‘n rustigheid wat oor Serobe Adventures heers. En dit is in hiérdie stiltes waar jy die hartklop van die lewe die hardste en duidelikste ervaar.
Johané van Dyk - Potchefstroom
______________________________
Die gemeenskap is welkom om hulle op Facebook te volg of vir Chantel direk te kontak met enige navrae rakende kampe of akkommodasie oor naweke of gedurende vakansies: 071 764 3297
Vir meer inligting oor die Netbalklinieke wat hierdie jaar by Serobe aangebied word, kontak gerus vir Heleen Humpel, stigter en afrigter van Panthers Netbal Klub by pantherspotchnetball@gmail.com