Elke ouer wat al 'n bord groente moes aanbied aan 'n peuter wat met een kyk kon sê "nee dankie", sal weet: dit verg geduld, humor en 'n hele klomp planne om 'n kieskeurige peuter gesonder te laat eet. Hier volg n praktiese gids vir enige ouer wat sukkel met 'n kind wat broccoli sien as 'n vyand en wortels as 'n straf.

Skep ’n lekker eet atmosfeer
Die eerste ding wat jy moet leer is om nie die peuter te dwing om te eet nie. Druk, smeek en dreig – dit maak net alles erger. In plaas daarvan sit die gesin saam aan tafel, sonder afleidings soos TV of selfone. Almal eet dieselfde kos, gesels oor die dag en maak van etenstyd 'n rustige gesinsaktiwiteit.
Deur self aan groente te eet sonder om gesigte te trek, wys ouers dat gesonde kos deel is van die normale daaglikse roetine – nie 'n “moet” vol drama nie.
Bied verskeidenheid aan, maar hou dit eenvoudig
Peuters moet nuwe kosse bietjie vir bietjie gewoont raak. As 'n nuwe item net een keer op die bord verskyn, gaan dit waarskynlik nie geëet word nie. Maar as dit keer op keer, rustig en sonder druk verskyn, word dit al hoe minder vreemd.
Bied ook gewoonlik een nuwe item aan saam met iets wat die kind reeds ken en geniet. Byvoorbeeld: wortels saam met pasta, of 'n klein happie vis saam met aartappels. Dis ook belangrik dat die porsies klein bly – ’n reuse-hoop kos skrik net af.
Betrek die peuter by die proses
Wanneer kinders help om kos te kies of voor te berei, is hulle meer geneig om dit te eet. Laat jou peuter help om tamaties te was, vrugte in bakke te sit en piesangs te skil. Dis dalk morsig, maar die kinders voel betrokke en trots – en is dan meer bereid om hul eie skeppie te proe.
Slim peuselhappies
Tussen-etes is belangrik, maar net as dit gesond is. Ouers het geleer dat te veel lekkers en stysel tussen etes hulle kinders se eetlus vir aandete bederf. Twee klein, gesonde happies per dag is genoeg – iets soos ’n appel met grondboontjiebotter of komkommer met bietjie roomkaas. Hou ook by vaste snack-tye om te keer dat kinders heeldag “net ietsie” soek om te knaag.

Moenie kos gebruik as beloning of straf nie
Dis maklik om te sê: “Eet jou groente, dan kry jy iets soets.” Maar dit leer die kind dat groente iets sleg is wat eers geëet moet word om iets lekker te verdien. Begin liewer om ander belonings te gebruik – ’n uitstappie park toe, of 'n storietyd saam.
Hou aan probeer
Kinders se smake verander. Wat hulle vandag haat, kan hulle volgende maand geniet. Moet nie ophou om kos aan te bied net omdat dit die eerste keer geweier is nie. Soms vat dit tien pogings voor iets aanvaarding kry.
Probeer ook verskillende maniere van aanbied – gekookte wortel is dalk nie gewild nie, maar rou, gerasperde wortel is skielik “lekker krakerig”.
Laat ander help
Party kinders eet makliker saam met iemand anders. 'n Oupa, ouma of selfs 'n vriendjie van dieselfde ouderdom kan ’n groot verskil maak. Sommmige kinders eet meer as hul sien ander kinders dit ook doen – en dit lyk soos pret.
Maak dit 'n speletjie
Kos hoef nie altyd ernstig te wees nie. Begin om groentes in gesiggies te rangskik of ’n “reënboogbord” te maak met verskillende kleure. Dit help om die kind se belangstelling te prikkel sonder enige druk.

Wys hoe dit gedoen word
Kinders leer deur te kyk. As ouers self oop is vir nuwe kosse en wys dat hulle gesonde dinge geniet, volg kinders gou. Sê hoe lekker iets proe, al was dit nie altyd waar nie! Net om daardie eerste happie by die kinders te kry.
Bly geduldig
Dis belangrik om nie moed op te gee nie. Etenstye raak maklik frustrerend as ’n peuter vir die vyfde keer iets weier, maar ouers moet dit nie persoonlik op neem nie. Haal rustig die bord weg sonder 'n toespraak, en probeer dit 'n ander keer weer.
Waarom dit alles saak maak
Goeie voeding in die vroeë jare help kinders om gesond te groei en hul brein behoorlik te ontwikkel. As hulle van jongs af aan verskillende geure, teksture en kossoorte blootgestel word, is hulle meer geneig om later in hul lewe ook gesond te eet.
En dit gaan nie oor wat hulle in een dag eet nie – dit gaan oor die groter prentjie oor 'n week of twee. Solank hulle iets uit die vier hoofvoedselgroepe inkry (vrugte en groente; stysel; suiwel; en proteïene soos vleis, eiers of bone), is alles op koers.
Slotgedagte
Daar is nie ’n vinnige oplossing is nie. Maar met aanhou, bietjie kreatiwiteit en ’n ontspanne houding, begin kieskeurige peuters stadig aan nuwe kosse probeer. En partykeer... verras hulle jou en vra vir meer.En wanneer daardie dag kom, is dit ‘n klein oorwinning – een worteltjie op ’n slag.
Potchefstroom
Skool Kosblikke : Potchefstroom Vrugte en Groente : Potchefstroom