Baie mense is onder ‘n wanindruk wanneer dit by kraamverlof kom. Wat dit wel NIE is nie, is verlof! Dit is geen vakansie of blaaskans nie. Alhoewel jy party dae in jou slaapklere deurbring (not by choice, I’ll have you know), is dit beslis nie ‘n vier maande lange vakansie nie. Jy is fisies en emosioneel uitgeput. Party dae grens jy aanhoudend en ander dae grens jy aan waansin. Wat kraamverlof wel is, is die moeite werd.

Die Vierde Trimester
Ek het al van die vierde trimester gehoor en gelees terwyl ek swanger was en het dit afgemaak as ‘n foefie - daar is net drie trimesters en dan is jy ‘n ma. Finish en klaar. Woe is me, het ek maar net geweet die vierde trimester is báie real. So, kom ek probeer hierdie in ‘n neutedop vasvang.
Soos ek hier sit, vat my dogtertjie haar middagslape en ek geniet ‘n warm koppie koffie met Spotify in die agtergrond - mamma het so bietjie ‘me-time’ nodig. Vandag is ons klein poppelopsie ‘n volle twee maande oud en ek is in totale denial oor hierdie feit - HOE is dit al twee maande? Tussen haar geboorte en vandag het daar sekerlik nou maar eers drie weke verby gegaan, dan nie? Maar die kalender herinner my vir die hoeveelste keer dat dit vandag inderdaad twee maande is vandat my en my man se lewens onherroeplik verander het.

Improvise. Adapt. Overcome.
Jy en jou splinternuwe baba leer mekaar nog ken en julle almal probeer hierdie nuwe lewe navigate. Mamma probeer van dag een af alles onthou en implementeer wat tydens die voorgeboorte klasse gesê is en blaai gereeld in haar notaboek rond om te kyk wat normaal is en wat nie. Pappa is maar nog effe awkward met so klein mensie in sy arms en boonop probeer julle van vroeg af ‘n roetine implementeer, want baba moet mos by jou aanpas, dan nie? Min het ek geweet dat hierdie klein mensie se slaappatrone en voedings ons lewe so sal regeer - needless to say, ons pas nou by haar roetine aan en val by haar planne in.

Die trenches
Die eerste drie weke het ons almal lekker snot en trane gehuil vir verskeie redes. Ék oor die feit dat borsvoed blêrrie seer is, my lyf is oral seer, ek het heavy erge body image issues en die hormone wat in overdrive is, het nou nie juis gehelp met enige van hierdie nie. Net ‘n tip vir amper-mammas: maak seker dat dit nét jy en jou man by die huis is vir minstens daardie eerste week - géén kuiermense. Ek het ge-ugly cry aan tafel voor my skoonouers, wat nie vir my die greatste oomblik was nie. Op daardie noot, maak seker almal weet wat julle plan is vir wanneer baba daar is en kommunikeer dit duidelik aan hulle, bv. Geen kuiermense die eerste week of twee nie, moet nie die baba soen nie (vir BAIE obvious redes), moenie foto’s van my kind rondstuur of op sosiale media plaas nie ensovoorts. Met nommer twee (DV) sal ek beslis strenger wees met hiérdie soort reëls. Die people pleaser in my het bietjie gesterf ná daardie eerste week toe ons drempel deurgetrap is.

It humbles you
Die vierde trimester is daar vir ons, as mammas veral, om met ons kroos ‘n onbreekbare band te smee. Dit is hiér waar jy die Here keer op keer ontmoet terwyl jy deur die diepste trenches van borsvoed gaan of wanneer slegs gebed jou gillende kleintjie se krampe onder beheer kan kry. As ek terugdink aan die afgelope twee maande, kan ek duidelik die Here se hand in elke liewe dag sien. Ons bid vir poef doeke en is só dankbaar wanneer dit gebeur en boonop nog die regte kleur is (it’s a thing). Ek raak emosioneel wanneer ek in my dogtertjie se glimlaggende gesiggie kyk en besef oor sewe weke moet ek haar by ‘n dagsorg of kleuterskool gaan aflaai om terug te gaan werk toe. Hoe, hoe, hoe moet ek dit doen? Hoe plaas ek al my vertroue in ‘n totale vreemdeling om mý dogtertjie te dissipel, te vertroos wanneer sy so vreeslik hartseer huil of om haar die liefde te gee wat net ék kan? Al hierdie emosies en gedagtes maal meer as een keer ‘n dag deur my kop…

Ses weke later
Fast forward ses weke en sussie weeg al meer as vier kilogram, ek het die groen lig by die dokter gekry en ons het soortvan ‘n roetine. Die slaap is maar steeds min en sommige dae is rowwer as ander, maar ons verruil dit vir niks. Ek sukkel maar steeds met my selfbeeld, maar dis mý issue om uit te sorteer. Geduld het in emmers opgedaag en my man kry sy energie van Bo alleenlik, want hy is steeds elke oggend wakker soos normaalweg. Ek en baba het darem al ons eerste koffie afspraak gehad, ons gesinnetjie was al Dromersmark en rivier toe en ons ken al Vida e Café se spyskaart effens te goed. Die onsekerheid oor wat ons gaan maak ná my kraamverlof verby is, bly maar in my agterkop, maar ek probeer om elke dag in die oomblik te leef - Carpe Diem en Mindfulness en al daardie dinge.

Dankbaarheid in elke vorm
Ek is dankbaar vir vriendinne wat bid en bemoedig, kollegas wat kom inloer vir ‘n koffie en ‘n sussie op wie se skouer ek kan huil as alles bietjie oorweldigend raak. Ek is dankbaar vir die oumas wat hulle raad en advies deel wanneer ek onseker is, ek is dankbaar vir kitskoffie en ons Air Fryer en ek is onmenslik dankbaar vir my man wat ‘n absolute steunpilaar en masjien van ‘n pappa is! Sonder hom sou hierdie vyf keer moeiliker gewees het…en sou ek heel moontlik al in ‘n inrigting beland het. Wat ‘n absolute voorreg om ons dogtertjie se ouers te wees. Ons leer elke dag iets nuuts van haar, onsself en die Liewe Vader se liefde vir Sy kinders. Dit is ongekende liefde. ‘n Liefde wat opoffer. ‘n Liefde wat vergewe 70x7.

Daar is soveel meer wat hierdie trimester oplewer, onderandere exploding poef doeke, T-Rex geluide, wilde active sleeping, jy wat leer om okay daarmee te wees dat daar meer as een keer per dag op jou opgegooi word en silent reflux wat 'n pes is. O ja, jou kind kry ook omtrent sewentien verskillende byname wat strek van Bollie tot Patroondoppie. Hierdie trimester kom met sy eie bitter en sy eie soet, maar laasgenoemde wen keer op keer.
N.S: Dit het my vier dae geneem om hierdie opiniestuk te skryf, as dit enigsins ‘n aanduiding en opsomming van Trimester 4 is.