Kyk, daar is hoeveel video’s van vrouens wat swangerskap toetsies vat en in trane uitbars sodra hul die resultaat sien - die meerderheid, glo en vertrou ek, is tears of joy. Maar wat die kamera nie sien nie, is wanneer die realiteit werklik in sink…daardie oomblik tussen ongeloof en onwerklik is oorweldigend. Dit was nie tot en met onlangs wat ek self hierdie ‘limbo’ oomblik ervaar het nie - daar het die + tekentjie so duidelik soos daglig gesit en ons het net na mekaar gestaar. Natuurlik wil enige vrou haarself eers van ander moontlikhede oortuig, maar wanneer daardie digitale Clearblue toetsie(s) die volgende dag sê Pregnant, kan jy maar weet, jy is pretty much swanger.
Week 1 - 6
Die eerste paar weke vir my was baie vreemd. Ek het toe eers werklik die ruspe ervaar waarvan my ma my in my grootmaak-jare gepraat het, my eetlus was iets verskrikliks… Natuurlik probeer jy gesond eet, maar vir die eerste ses weke het my dieet hoofsaaklik bestaan uit Air Fried Skinny Fries (en dalk ‘n tamatiesousie bo-oor). Ek was bekommerd oor my liefde vir koffie, maar gelukkig (?) kan ek nie eens aan koffie dink nie. O ja, wat ook al jy doen, MOET NIE decaf koffie koop nie - dit is die slegste sleg denkbaar én drinkbaar. Min het ek geweet dat daardie ruspe vinnig-vinnig vervang gaan word met ‘n goggatjie wat níks in die maag wil hou nie…daar is niks in die pens om mee te begin nie, maar alles moet uit!
'Morning' sickness
Morning sickness is ‘n joke…ek weet nie wie het op die term besluit en dit eksklusief tot die oggend beperk nie, want dit is ‘n naarheid wat regdeur die dag strek. Klaarblyklik sê my Ginekoloog “hoe sieker jy is, hoe gesonder is die baba”...
I have my doubts. Ek en hierdie kleintjie gaan ‘n ernstige gesprek moet hê wanneer hy of sy hul verskyning maak, ek begin al hoe meer Worsie Visagie van Vetkoekpaleis se ma, Ella, se pyn en leiding verstaan en ek is nou eers by week elf!
Op dié stadium van die wedstryd is my mentaliteit ‘fed is best’, as ek iets inhou, fantasties - maak nie saak of dit ‘n hoender en mayonnaise toebroodjie of ‘n halwe pakkie Mariebeskuitjies is nie. Ek gaan nou nie nege kilogram in hierdie eerste paar maande verloor soos my sus nie, maar ek gaan ook nou nie vir twee eet nie. Eerstens omdat ek nie juis baie kán eet nie en tweedens wil ek ‘n gesonde swangerskap en baba hê en makliker my fiksheidsvlakke kry waar dit was voor Die Stokkie.
Daardie eerste afspraak
Die eerste afspraak by die Ginekoloog is senutergend, bloot vir die feit dat jy eintlik eers die dokter tussen ses en tien weke kan sien. In die tussentyd hoop jy alles is orraait daar binne en dat dít wat moet gebeur, wel gebeur. Ek weet nie hoe het ek verwag om te reageer nie, want (weereens) is dit net snot en trane op sosiale media wanneer ouers die hartklop vir die eerste keer hoor. Ek het net my man se hand vasgehou, na die monitor gekyk en aandagtig na my dokter geluister - ‘n gevoel van rustigheid en vrede het in die kamer geheers. By gesê, ek het ook nie op my troudag gehuil nie, my man aan die anderkant het maar die sakdoek naby gehou…Dit was net vir my twee joyous dae in my lewe gewees, hoekom daaroor huil? Ja, ek verstaan sommige mense huil van vreugde, maar ek kon eenvoudig nie ophou glimlag nie en dis ook okay.
Wanneer vertel jy vir wie?
Om hierdie groot geheim vir jouself te hou, verg nogal selfbeheersing. Jou kollegas begin agterdogtig raak wanneer jy vir die tweede keer die week vroeg huistoe gaan omdat jou ‘maag gogga’ steeds nie uitgewerk is nie, elke keer wanneer jou ma of sussie met jou gesels en vra ‘wat’s nuus’ en jy sê maar same old, same old, en boonop lyk dit of jy gewig optel, maar ook sterf jy van die naarheid…Maar motherhood is ‘n joy, sê hulle.
Eerste trimester coming to a close
Dit is amptelik week 12 - die einde van die eerste, gevreesde trimester. Teen dié tyd weet ‘n handjievol mense reeds, maar jy het nog niks op sosiale media gedeel nie, wat ook fine is. Almal hoef nie altyd elke detail van jou lewe te weet nie, ek het eers uitgevind my een vriendin is sewe maande swanger toe ek haar vra of sy nie lus is vir ‘n 10km wedloop nie (let wel, sy bly in Hermanus, so dis ook nou nie asof ons mekaar gereeld sien nie); die samelewing het net gewoond daaraan geraak om alles op sosiale media te sien en deel.
Ons spreek lewe
Ek is steeds versigtig, want daar kan steeds so baie verkeerd gaan, maar soos my man my gereeld herinner “ons spreek lewe”. My swangerskap toep het my so ewe ingelig dat morning sickness nou moet begin afneem - the lie! Dié girl is steeds sterk met ons, maar ek glo en vertrou (en bid kliphard) dat dit wel binnekort die geval sal wees.
Wees op die uitkyk vir Trimester Twee se Op My Seepkissie waar ek hopelik oor die gewilde ‘pregnancy glow’ sal kan skryf.