Trimester twee is hier (en ook al amper verby), maar wow, daar is só baie dinge wat verander het sedert die eerste trimester. Ek sal nou nie sê ek glow nie…maar as ek doen, is dit heel moontlik sweet. Maar ek kan in alle eerlikheid sê dat ek hierdie trimester van swangerskap werklik geniet.
Week 16 - ek begin eindelik mens voel
Vir sestien weke was ek 110% man down! Ek weet nie of dit ‘n mind ding is nie, maar die dag toe ek sestien weke slaan, was die erge naarheid heeltemal weg. Daar was maar nog die odd dag wat ek en die porselein troon mekaar omhels het, maar soveel beter as daardie eerste ruk - dankbaarheid in oorvloed!
Die aap is uit die mou
Teen dié tyd het ons al ‘n oulike fotosessie gehad en pragtige foto’s geneem vir ons amptelike pregnancy announcement, so nou weet almal wat nog nie geweet het nie. Soos verwag, het baie mense ons geluk gewens, maar net so vinnig het hulle belangstelling verloor. Daar is natuurlik die een of twee vriendinne wat steeds inloer om te hoor hoe dit gaan en vir húlle het ek die wêreld se tyd!
‘n Intieme gender reveal
Na ‘n hele situasie wat bloedtoetse vereis het vroeër in my swangerskap, het ons sommer besluit dat die labratorium vir ons die geslag ook bevestig while they’re at it. Ná wat gevoel het soos vyf maande, het ons vyf weke later weer voor die dokter gesit waar sy met ons die resultate deurgegaan het - prys die Here alles is normaal met baba! Ons het die dokter gevra of sy vir ons die geslag op ‘n papiertjie sal skryf en in ‘n koevert sit, waarna ons na ‘n restaurant toe wil gaan en ‘n melkskommel met die oorstemmende kleur van die geslag bestel…let wel, dit was die plan in ons koppe.
Terwyl die dokter met ons gesels het, het sy die verslag omgeblaai en lewensgroot het die geslag simbool op die papier gepronk. Dit was vir my en my man so komieklike oomblik, juis omdat die dokter vir ons gesê het sy weet nie waar op die verslag hulle die geslag bevestig het nie…wat sy toe eventueel gesien het nadat ek net so na die simbool gewys het. Ons almal het so bietjie awkwardly oor die situasie gelag.
Needless to say, ek en my man het steeds Wimpy toe gegaan en ‘n melkskommel bestel. En net om die familie se siele so bietjie uit te trek, het ons die foto swart en wit gemaak, op die familiegroepe geplaas en gesê hulle moet raai watter kleur is die melkskommel. Hierdie intieme oomblik was só kosbaar vir ons, want op daardie tydstip het net ek en my man geweet dat ‘n klein prinsessie haar opwagting binnekort gaan maak. Dit was een van die lekkerste geheime om met mekaar te deel.
Verandering op soveel vlakke
Kyk, ek het geweet dat daar baie veranderinge plaasvind tydens swangerskap, maar daar was ‘n paar dinge waarvoor ek nie gereed was nie. Die eerste een is ‘n skielike liefde vir enigiets sjokolade geur - ‘n melkie, sjokolade self, warm sjokolade, koekies. As iets sjokolade té lank stil staan, is dit reguit pens toe. My bederf is deesdae om na ‘n dag se werk ‘n glasie Nesquick oftewel hasiemelk, soos ons dit noem, te maak…sjokolade geur, natuurlik. Die eetlus is in volle swang terug en enigiets hoender is my Achilles Heel - of dit nou ‘n chicken sandwich van Fat Cake City is, ‘n hoender mayonnaise toast broodjie of ‘n hoender wrap, ek en hoender is beste maatjies.
My ingesteldheid rakende kos en my lyf het ook heeltemal verander vandat ek uitgevind het ek is swanger. Ek is nie meer so selfbewus nie en ek beperk nie meer my kosse nie, ek dink die slimmes noem dit intuitive eating; iets wat vrouens ongelukkig nie het nie. Ek benader ook nie etenstyd met die gedagte van “ek moet nou vir twee eet” nie, ek probeer steeds gesonde(r) keuses maak vir beide my en baba.
Daaglikse bumpdates
Soos baba groei, groei die baarmoeder en natuurlik die pensie ook. My klere sit nou stywer en ek het amptelik kennis gemaak met Shein se fantastiese maternity klere - ‘n pregnancy jean is die beste ding sedert gesnyde brood, naas ‘n pregnancy pillow! Ek neem elke oomblik van hierdie swangerskap in, juis omdat dit so vinnig verby gaan. Dus probeer ek om daagliks foto’s te neem van my magie…en ook om vir my man te wys hoe lyk ek in my outfit of the day. Net gister kyk ek terug na my 20 week-foto en kan nie dink hierdie magie het so vinnig gegroei in net vyf weke nie. Die oorblywende paar weke weke gaan interessant wees.
Tyd stap nader
So gepraat van tyd wat vinnig verby gaan, my keel wil-wil toetrek wanneer ek dink aan hoe naby ek aan die einde is. Nog 15 weke om presies te wees. En die feit dat my datum ná my vorige besoek met vier dae vervroeg het, help nou nie die situasie nie… [Insert Ross Gellar se "I’m fine" nadat hy te veel Margaritas gedrink het].
Ek moet sê, wanneer die paniek wil oorvat, is ek so dankbaar vir my man. Hy is regtig die rustigheid vanself en bly my gerusstel dat ons alles betyds sal reg hê voor baba kom. Ons het al ‘n laaikas, klere en so paar oulike goedjies. O ja, en die Takealot wenslysie is gereed vir Black Friday se uitverkopings! Ek wéét ons sal alles reg hê en dat al ons dinge in orde sal wees…ek moet net eers bietjie uitfreak.
Hierdie trimester geniet ek regtig. Ek kan weer [rustiger] oefen, the bump is bumping en ek waardeer elke dag wat ek en my man alleen is voordat ons ons nuwe avontuur buddy verwelkom. Soveel soos wat ek so dan en wan angstig raak, oorheers die opwinding beslis die onsekerhede en met elke skoppie of hik wat ek voel, is ek van voor af ongelooflik dankbaar vir die voorreg wat ek het om dié klein lyfie te dra.
Ek kan nie glo ek sê dit nie, maar wees op die uitkyk vir Trimester Drie se 'dagboek inskrywing'.