Ek is nou op daardie ouderdom en stadium in my lewe waar almal óf swanger is óf reeds kinders het óf dié onderwerp heeltemal vermy. Die afgelope tyd begin daar al hoe meer pienkvoetjies deur my gedagtes trippel en ek besef ek vra myself baie af, ‘wanneer weet ek ek is reg’?
Kommunikasie is die sleutel
Natuurlik is dit nie net mý insette wat van belang is nie, ek moet natuurlik my man se gevoelens ook in ag neem. Elke dan en wan kom die onderwerp in ‘n gesprek op of ons praat intensioneel daaroor. Dit is van kardinale belang dat jy en jou wederhelfte op dieselfde bladsy is oor hierdie onderwerp - dit help nie een van julle het al ‘n kleurskema vir die babakamer in gedagte en die ander persoon beplan die volgende drie jaar se oorseese, romantiese vakansies vir net julle twee. Hetsy dit casually in ‘n gesprek opduik of julle besluit om tyd af te staan om daaroor te sit en gesels, deurlopende kommunikasie is ongelooflik belangrik. Indien julle nie haastig is nie, is daar geensins druk nie, maar is dit steeds nodig om byvoorbeeld elke ses maande by die ander persoon in te check en seker te maak hul voel steeds dieselfde, al dan nie.
‘n Wipplank van emosies
Kyk, ‘n vrou se emosies is alreeds all over the place danksy ons hormone, maar die gedagte van ‘n familie begin, laat my emosies behoorlik wipplank ry. Die een dag sal ek bitter opgewonde en broeis wees wanneer ek deur Ackermans loop, maar die volgende dag sal ek my sterre dank dat ons nog net katte het; veral wanneer daar iemand agter my in die Dischem-ry staan wie se kleintjie ‘n aanhoudende, skrillende keel opsit. And don’t get me started oor huilende babas en bedrywige peuters in die kerk… My arme man is aan die einde van ‘n maand net so deurmekaar soos ek. Party dae dan sal ek net ‘n gevoel kry en spontaan met hom deel “ek dink ek is reg” en dan so paar uur later, terwyl ek onversteurd op die bank lê in my skoon huis, besig om my boek te lees wat ek so lank al uitstel, dink ek ‘I think I like this little life’.
Kontrasterende opinies
Ons lewe in die moderne era waar vroue lankal nie meer kaalvoet en swanger voor die stoof staan nie. Nee, hiérdie vroue sal jy eerder in ‘n suksesvolle CEO posisie kry, ander is besig om die wêreld te sien of ander is heel tevrede met hul ongekompliseerde lewe en dit gaan ‘n wonderwerk verg om dié leefstyl op te gee. Daar is ook sommige vroue wat lank reeds besluit het dat hul nie kinders in hierdie wêreld wil bring nie - elk met haar eie rede. Terwyl ons Desember met vakansie was in die Kruger Wildtuin, het daar twee gillende en laggende kinders verby ons in die kampterrein gehardloop. Die ma het doelgerig en half geïrriteerd agter die tweetjies aangeloop en toe sy verby ons stap, kyk sy na ons en sê “don’t have kids.” Ander met wie ons ook al gesels het, het ons laat verstaan dat geen [kinders] ook ‘n opsie is. Nou kyk, vir iemand wat alreeds in ‘n struweling is oor of ons gereed is vir die volgende fase in ons lewe, is opmerkings soos dié nogal discouraging.
Advokaat Mammas
Aan die anderkant van die muntstuk is die ‘advokaat mammas’; dié wie van kleins af geweet het dat hulle ‘n mamma wil wees of sommer dadelik swanger geraak het na die troue. Dié mammas wat above and beyond gaan vir hul kinders se verjaarsdae en mylpale aanteken dat die biesies bewe. Die Bybel noem in Spreuke dat daar ‘n paar goed is wat nooit versadig sal wees nie “the grave, yawning for another victim, the barren womb, ever wanting a child, thirsty soil, ever longing for rain, and a raging fire, devouring its fuel. They’re all insatiable.”
Daar is niks fout met een van hiérdie twee vroue nie, inteendeel - darem wéét hulle wat hulle in die lewe soek wanneer dit by babas kom!
Millennial drama
Ek vorm ook deel van die generasie wat, in my opinie, nie meer twee (of meer) kinders voor die ouderdom van 29 het nie. Natuurlik is daar jou uitskieters, maar die ouderdom raak al hoe ouer, omrede vroue eers meer gevestig wil raak of toer of nog nie bereid is om hul man te 'deel' nie. Die samelewing probeer ons bang maak met ons ‘biologiese klok’ wat elke dag nog so bietjie nader aan ‘onvrugbaarheid’ of ‘n ‘hoë-risiko swangerskap’ tik en iewers in my agterkop steek dié gedagte tog vas. Maar dan dink ek net weer aan Sara wat haar eerste kind, Isak, op die ryp ouderdom van 90 in die wêreld gebring het - faith makes a fool of what makes sense. Die samelewing wil ons oortuig dat ons in ons dertigs nie meer so baie energie sal hê soos in ons twintigs nie of dat ons vroeg kinders moet kry, sodat ons ons dertigs kan geniet. Die wêreld probeer ons wysmaak dat die lewe vir ‘n vrou op dertig verby is - wat ‘n absurde gedagte! Wat het geword van thirty, flirty and thriving? IYKYK.
Die vreugdes van oom en tannie
Wanneer jou sibbes ‘n nuweling in die familie verwelkom, is dit sekerlik een van die beste, lekkerste ervarings. Jy kan die funtie of funcle wees, al die lekker dinge saam met hulle doen en wanneer die dag om is of wanneer die kleintjies ‘n bietjie te veeleisend word, kan ‘n mens hulle net teruggee aan Ma en Pa. Hierdie interaksies tussen oom, tannie en kleintjie is ook ‘n goeie oefening en aanduiding oor hoe jou wederhelfte ‘n klein bondeltjie hanteer. Natuurlik, dit kan nie vergelyk word met jou eie nie, maar dit gee die ander persoon ‘n beter perspektief oor hoe jy sal reageer wanneer jy ‘n vuil doek moet ruil of wanneer baba skielik op jou spoeg - jy weet, al daardie lekker dinge wat met ouerskap gepaard gaan.
Op ‘n skaal van 1 - 10
Hierdie onsekerheid het my al in ‘n downward spiral gestuur; soveel so dat ek uitgereik het na my suster, wie al vir byna vier jaar ‘n mamma is, my beste vriendin wie se seuntjie drie weke oud is en ‘n ander goeie vriendin wie nou haar tweede enetjie verwag. Ek het vir elkeen gevra “Op ‘n skaal van een tot tien, hoe sal jy ouerskap rate?” En elkeen het ‘n ander antwoord gegee - wat my natuurlik geensins in 'n definitiewe rigting gehelp het nie. My suster is sommige dae op ‘n agt en ander dae op ‘n een, my nuwe-mamma-vriendin is smoorverlief op haar kleintjie en sal dit beslis aanbeveel - ‘n solid 10/10 en my ander vriendin en haar man gee ouerskap ‘n vier. Gemengde reaksies all around. In my opinie is daar natuurlik ‘n hele paar dinge wat hierdie glyskaal beïnvloed: ‘n man wat jou ondersteun in absoluut alles (van winde uitvryf tot skottelgoed was), ‘n sterk, gevestigde verwysingsraamwerk en familie wat help waar en wanneer hul kan - hetsy hulle bloed is of nie.
Soms is dit nié ‘n gevoel nie
Ek het met so ‘n illusie aan hierdie hele nuwe hoofstuk gedink. Ek het gedink dat ek een oggend gaan wakker word en Heilige Gees gaan vir my sê “Dis nou sulke tyd, ou girl.” Ek is seker dit is hoe sommige vroue dit ervaar, maar ek is van mening dat dit eenvoudig net die volgende stap is vir so baie paartjies. Na twee jaar of meer, begin beide partye dalk daaraan dink omdat dit die ‘volgorde’ van die samelewing volg. So soms is dit nie ‘n gevoel nie, soms is dit net die volgende stap en hoofstuk wat julle moet betree - it's inevitable. Tog, diep binne ons is daar ‘n stemmetjie wat ons aanhits om wel hiérdie onbekende, opwindende hoofstuk aan te pak, ten spyte van die onsekerheid en dit is omdat ons geroep is daarvoor.
“Be fruitful and multiply”
Die afgelope tyd is God besig om my hart te verander en sag te maak oor hierdie teer saak waarmee Hy weet ek so wroeg. Skielik lyk al die redes wat die wêreld na my kant toe kan gooi, soos verskonings. “Jou lyf gaan nooit weer dieselfde wees nie. Julle gaan vir die volgende 18 jaar nie ‘n naweek vir julself hê nie. Hierdie skoon huis gaan nie meer langer skoon wees nie.” Maar wat van dít wat God sê?
1 Timothy 2:15 - But women will be preserved through the bearing of children if they continue in faith and love and sanctity with self-restraint.
Psalm 127:3 - Children are a heritage from the Lord, offspring a reward from Him.
Wat ‘n voorreg sal dit wees om ‘n mensie in die lewe te bring wat 50% jy en 50% die liefde van jou lewe is. Hoe amazing sal dit wees om hulle te sien grootword, mylpale vier en sien hoe hul in die lewe thrive. In Genesis word ons as mensdom beveel: Then God blessed them, and God said to them, “Be fruitful and multiply; fill the earth and subdue it; have dominion over the fish of the sea, over the birds of the air, and over every living thing that moves on the earth.” Wat ‘n voorreg sal dit nie wees om die volgende generasie Kingdom Warriors groot te maak en hulle van God en Sy liefde te vertel en wys nie, sodat hulle weer dieselfde vir ander kan doen.
Wanneer die wêreld onsekerheid by my wil kom saai, onthou ek net die woorde van een van my geestelike mentors en vriendinne: “Elke vrou is geroep om ‘n ma te wees.” So, ek dink nie ‘n mens weet werklik, met 150% oortuiging, wanneer jy reg is vir ‘n nuwe asempie in jou huis nie. Ek dink dit is elke paartjie se eie journey en indien dit so bestem is, sal Vader jou, as vrou, se baarmoeder op Sy tyd oopmaak - dit sal die perfekte tyd wees en dit sal die beste tyd van jou lewe wees…of so word daar aan my vertel. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!