Ek het onlangs ‘n baie interessante plasing op ‘n sosiale media groep raakgelees. Hier volg ‘n opsomming van die scenario:
So paar weke gelede, tydens haar ooievaarstee, het 'n spesifieke mamma se skoonma vir haar ‘n onesie gegee met die naam Maggie* op en mamma het ‘n hemp gekry met die woorde Maggie se Mamma. Maar hier is die ding - Maggie is nié baba se naam nie en Magdalena is “heel toevallig” skoonma se naam. Mamma het toe vir skoonma verduidelik dat hulle nié familiename gaan gee nie, net soos hulle met hulle eerste dogtertjie nie familiename gegee het nie. Alhoewel Pappa vir Mamma ondersteun, wil hy nie sy ma omkrap nie. Sussie se naam gaan eers bekend gemaak word met haar geboorte, maar Mamma hou niks van konflik nie en wil die vrede so ver as moontlik bewaar… En ek is seker skoonma se wange is tien bar gepomp na dié ‘ontnugtering’; alhoewel sy dit eintlik al lankal weet.

Vreemde name
Kyk, ek weet nie hoe hierdie mamma so kalm gebly het by haar ooievaarstee nie - mý moermeter sou in die rooi gewees het as my skoonma so ballsy move getrek het en dit nogal voor almal. En kom ons wees nou eerlik, dit is baie selde dat jy nog mense in vandag se tyd kry wat regte, egte familiename vir hulle kleintjies gee. Ek kan nie dink wanneer laas ek na iemand se ID gekyk het en gesien het Anna Francina Magdalena Dorothea nie, indien ooit - dit is nie meer deesdae ‘n ‘ding’ nie. Vandag se generasie is meer geneig om name te kies met ‘n dieper betekenis, maar ook kry jou Amerikaners wie hulle kinders Ocean, Apple of North noem… Maar Amerikaners is mos maar ‘n spesiale spesie. Laat ons liefs nie vergeet van X Æ A-12 Musk nie.

Ek verstaan die sentiment, maar dis net nie wie ons is nie
Kyk, ek verstaan dat daar van sommige families verwag word dat die naam voortleef, maar meeste van die tyd is die naam afgelei van die oorspronklike stamwoord (my Afrikaanse Huistaal onderwyseres sou nou trots gewees het dat ek dié outjie onthou; dié een is vir jou, juffrou Holtzhausen). As ‘n vrou, het ek al lank reeds ‘n hele lys met name waarvan ek hou - en nie één is ‘n familienaam nie. Natuurlik is daar ook baie storieboekhelde se name op my lys; die nadeel daarvan om ‘n boekwurm te wees. Ek en my man het ook al lankal tot die ooreenkoms gekom dat daar nie familiename of spesifieke voorletters moet wees nie. Kyk, ons is baie lief vir ons mense, maar dis eenvoudig nie wie ons is nie.
“Leonie en Dries kry vir Lefries”

Radio Raps het ‘n Bietjie Liedjie gedoen genaamd Name en hiér word duidelik uiteengesit hoekom ouers nie té fancy moet gaan met hul kinders se name nie. Soos hy in die liedjie sing, kinders is wreed…Of sommige ouers is weer heeltemal behep met saamgesmelte name, so “Leonie en Dries kry vir Lefries”. Ek dink sommige ouers vergeet dat daardie kinders groot moet word, vra maar vir Carmelita von Solms of Gegé van der Merwe. Terwyl ek nou op die vanne onderwerp is, as jy jou kind ‘n eksotiese naam wil gee, maak net seker dit pas by jou van en dat dit reg klink. Dit is ‘n bietjie vreemd as iemand haarself aan jou voorstel as Avalon Pitts of Armani Koekemoer - en ek judge dan so bietjie die ouers in hierdie opsig, just saying.
Terug by Ouma
In elk geval, terug by die kern van ons storie - gewaagde ouma wat die onus op haarself plaas om sommer vir baba te benoem en dit nogal na haarself. Ek sou in absolute skok gewees het en net gewonder het “where do you get off, lady?!”, eerlikwaar. Hoe kan een mens so voor op die wa wees? Wat ‘n onsmaaklike manier om die kollig op jouself te plaas en dít boonop op jou skoondogter se spesiale dag! Dié tannie het seker wit na die troue toe ook aan gehad… Ek verstaan dit is ‘n groot eer en voorreg om jou kleintjie na ‘n familielid te noem, maar om sommer net te besluit dit is hoe dit SAL wees, is ‘n bietjie far fetched, dink jy nie, Ouma?
Vir die ouers van hierdie pienkvoet wil ek so paar dinge noem:
Dit is JULLE kind en julle noem haar wat julle wil. Ouma het haar beurt gehad.
Pappa, trek so bietjie jou onderbroek (of briefs) op en staan jou man - onthou, dit is jy en jou vrou teen die probleem.
Don’t bend the knee - as julle NOU ingee met hierdie geval, gaan julle altyd moet tevrede stel en ‘n middeweg vind vir alles.
Ek is daarvan oortuig dat groot Maggie vir klein Maggie tot in die afgrond in gaan bederf en julle oudste baie minder aandag van ouma Maggie gaan geniet, wat heeltemal onregverdig teenoor haar is.

Ouma, jy het jou kans gehad
Vir Ouma Magdalena wil ek net sê, Ouma, jy het jou kans gehad om kinders na jouself te vernoem. Gun nou jou kinders húlle hart se begeertes. Die naam wat hulle gekies het, het tien teen een ‘n besonderse spesiale betekenis; Magdalena het ook ‘n pragtige betekenis, maar staan terug. As jy nie nou hierdie situasie in die kiem smoor nie, gaan jy die verhouding tussen jou kinders versuur en gaan jy heel moontlik jou kleinkinders minder sien. ‘n Ouma se rol is om te bederf en te geniet, so moet asseblief nie nou wéér Mamma wil speel nie.
Die Skoonma-kaart
Ek wou nie hierdie kaart speel nie, maar siende dat die situasie dit vereis - jy is die skoonma. Moenie my verkeerd verstaan nie, daar is skoonma’s en dogters wie se verhoudings sterker as dié van bloedfamilie is, maar soos die stereotipe (en soms samelewing) dit al male sonder tal bewys het, ‘n skoonma het aansienlik minder inspraak in haar skoondogter se lewe as die dogter se ma self. Ouma, moet nou nie ‘n Jane Fonda op jouself trek en in ‘n regte, egte Monster-in-Law ontaard nie, dit sal nie ayoba wees nie.
Ek sluit af. Ma en Pa, hou by julle naam wat lank reeds op julle harte geplaas is. Ouma, back off en geniet hierdie kosbare tyd. Daar hoef nie altyd ‘n middeweg te wees nie en ons as skoondogters hoef ook nie altyd onsself te verduidelik nie. Soos my sussie altyd sê: Jy kry wat jy kry en jou hartjie is bly.
*Name is verander om die identiteite te beskerm