Nou ja, hier sit ek…Pens en pootjies in die lug onder ‘n aircon, want dit is Januarie in Potchefstroom - if you know, you know. Die magie het nog nie gesak nie en kan dus nog dien as ‘n skinkbord. 9 maande. 36 weke. Nog vier om te gaan. Dis die weird ding, nè? Nege maande is gewoonlik 36 weke (as jy op vier weke per maand werk), maar vrouens loop met baba tot op 40 weke - so ons is tegnies 10 maande swanger, dan nie? Nietemin, hierdie swangerskap het gevlieg!
Almal gaan deur 'n helse tyd
Hierdie trimester het beslis sy eie uitdagings, alhoewel dit nie ‘n patch is teen trimester een nie, is hierdie laaste enetjie wild op sy eie manier. Sciatica nerve pain is real, ek rol rond soos ‘n rotisserie hoender wanneer ek in die aand slaap en gereelde badkamer trippies is nou deel van my slaap roetine. Dan praat ek nie eens van die swangerskap waggel wat kort-kort kop wil uitsteek of die vergeetagtigheid (pregnancy brain noem die slimmes dit). Mý pregnancy glow is, sonder twyfel, sweet, want alles is drie keer moeiliker en vat vier keer langer met hierdie logge lyfie.
Sooibrand is in volle swang en night sweats het ook hierdie gesprek betree - dankie tog eers tydens hierdie trimester! Daar is ‘n vroutjie wie ek op Instagram volg wie vir byna 22 weke morning sickness gehad het en haar nuutste simptoom is dat sy in haar slaap opgooi (sheesh!)…altyd iets om voor dankbaar te wees, nè? Ek prys die Here vir ‘n gesonde swangerskap tot dusver!
Die Babatee en Doekebraai
Trimester drie het ook natuurlik die babatee en doekebraai ingehou vir my en my man. Kyk, ek is glad nie een vir die kollig nie en as iemand te lank na my kyk, raak ek super selfbewus, so dit was maar ‘n mental uitdaging vir my, want dit is redelik moeilik om my en my pensie mis te kyk. Mans, in hierdie opsig, is so chilled oor hierdie dag. Hulle gaan slaan ‘n paar balle op die gholfbaan of gaan gooi ‘n visstok in die dam en daar sal hulle blom vir die hele dag; onthou net ‘n tjoppie en doppie en hulle is happy campers. Dit is ook natuurlik iets wat heeltemal verander het van wat ek kan onthou en wat my ma my vertel het.
Vroeër jare het hulle sommer ‘n babatee by iemand se huis in hulle tuin gehou, die mamma het nie daarvan geweet nie en was skoon uit die veld geslaan sodra sy besef wat aangaan. Sommiges moes selfs ‘n doek aantrek en ‘n groot fopspeen om hul nek dra terwyl daar lekker, lawwe speletjies gespeel word. Vandag se tees is baie meer dainty en gesofistikeerd. Daar word ‘n venue gehuur vir die groot dag, ‘n spyskaart word vooraf bespreek en bestel en mamma weet natuurlik van alles. En moenie dink daar was 'n ding soos 'n doekebraai nie. Ons is dankbaar vir vooruitgang!
Almal dink hulle weet waarvan hulle praat
Elke Elma en haar vriendin dink deesdae hulle is ‘n influencer. Daar is hordes video's op sosiale media platforms waar verbruikers hul geboorte ervarings deel of ‘n nuwe mamma wys hoe om kraam te induce. “Drink raspberry leaf tea, eet minstens vyf dadels per dag en vars pynappel behoort jou nuwe beste vriend te wees. O ja, moenie vergeet van curb walking en The Miles Circuit nie.” Al hierdie dinge hits jou lyf aan om spontaan en normaal in kraam te gaan…of so sê hulle.
Strekke, tee en dadels
Ek het self so bietjie gaan oplees oor hierdie en wat ek wel gevind het, is dat dadels en pynappel wel net help om die serviks sag te maak; dit veroorsaak nie noodwendig dat jy in kraam gaan nie. Ander inhoudskeppers wys weer watter strekke gedoen kan word om te verhoed dat jy skeur of watter soort oefeninge jy moet doen om jou baba in minder as 20 minute uit te druk. Die lank en die kort van die saak is dat daar nie ‘n waarborg op enige van die bogenoemde is nie. Jy kan jou hele swangerskap deur elke dag oefen, al die strekke doen, jou dadels en pynappels eet of jou tee klokslag drink en dit is dalk steeds nodig om induksie of ‘n keisier te kry en/of jy kan vir twee ure druk en boonop derdegraadse skeurwonde opdoen. Elke vrou se liggaam is anders en niemand se journey is dieselfde nie. Raadpleeg maar gerus jou ginekoloog, vroedvrou of dokter vooraf.
Die stres begin nou inskop
Afgesien van die laaste simptome wat nou kop uitsteek, begin die klein stres-stemmetjie ook posvat hier in die agterkop. Stres rakende die bevalling, wat dit gaan inhou, hoe dit gaan gebeur, wat ek moet doen… En dan ook, gaan dit nodig wees vir ‘n keiser? Daar is so baie flieks waar die vrou se geboorteplan byna so dik soos ‘n boek is. Mý geboorteplan? Natuurlike kraam. Epiduraal. Kry ons baba. Sushi. Maar ek is ook oopkop indien daar intervensies moet wees, solank kleintjie net orraait is, sal ek fine wees. Die mengsel van vrees en opwinding ná ons ontslaan word, is óók ‘n faktor wat in berekening gebring moet word. Hier word ons vertrou met ‘n LEWE. Ons moet hierdie klein dingetjie, wat 100% afhanklik is van ons, grootmaak…Uhm, ekskuus?! Ek spot steeds gereeld met my man dat ek ‘n Teen Mom is - op die ryp ouderdom van 29 (30 klop ook dié jaar aan mý deur, maar dít is ‘n insetsel vir ‘n ander dag). Of ons nou gereed voel of nie, hierdie kleintjie is op pad!
Kyk, dat ons lewens onherroeplik gaan verander, is ‘n feit soos ‘n koei. Dit gaan ‘n groot aanpassing wees vir almal, maar ek is vol vertroue dat ons vinnig ‘n roetine sal kry wat vir ons almal werk. Dankie tog vir Jesus, koffie en ons village. Kleine baba, ons sien uit na jou koms!