"A party without cake is just a meeting" - Julia Child
'n Lafenis vir siel en maag
Ons het die afgelope naweek ‘n besoek aan Pesto @Môredou , die koffiewinkel en restaurant by Môredou Interiors, afgelê en hulle het beslis nie teleurgestel nie! Die groot, grasgroen perseel met kleurvolle blomme en lowergroen bome laat ‘n mens dadelik in ‘n rustige luim. Die oopplan restaurant is heerlik ruim en die stoep wat reg rondom strek, skep ‘n plaashuis effek. Nicolle Venter is die eienaar van Pesto en klante praat met lof oor haar, haar span en hulle werk - en ons het gesien hoekom hulle so populêr is.
Hulle hande staan vir niks verkeerd nie
Die kelners is vriendelik en behulpsaam en alhoewel daar ‘n funksie was, was die tafel nie luidrugtig nie en die res van die klante kon die rustigheid, saam met hul drankies, behoorlik indrink. Pesto is bekend vir hul amper absurde groot koeke en die kombinasies is iets wat niemand in hul stoutste (of is dit nou soetste) drome kon uitdink nie. Hulle speel ook gasheer vir vele geleenthede - van ‘n kombuistee na ‘n 30ste verjaarsdag. Nicolle en haar span gaan uit hul pad om elke geleentheid ‘n besonderse spesiale een te maak.
O, koek!
Die drankies en disse is net so lekker en van goeie gehalte. Van Cappuccinos tot Karamel Yskoffie en alles tussen-in; hierdie restaurant spog met 5-ster resensies en aanbevelings oor verskeie platforms. Omrede hulle nie jou gewone een-laag sjokolade of vanilje koek bak nie, neem dit langer (en so bietjie meer liefde) om hierdie meesterstukke te maak. Die koeke word elke Maandag vars gebak en is eers vanaf Dinsdae beskikbaar, maar slegs terwyl voorraad hou…wat gewoonlik nie té lank is nie. Teen die naweek is die keuses redelik beperk, maar steeds heerlik. "Op is op."
Môredou Interiors
Nadat klante hierdie juweeltjie besoek het, kan hulle liefs ‘n draai deur Môredou Interiors gaan loop en hulle siele verder versondig. Dié plek, wat gekoppel is aan Pesto, spog met dié mooiste meubels en die personeel staan reg om enige vrae te beantwoord of hulp aan te bied waar nodig.
Vyf sterre
Pesto @Môredou kry beslis al vyf sterre van ons af! Doen jouself ‘n guns en gaan besoek hulle gerus, maar maak seker jy vat nie jou 'calorie tracker' saam nie, eerder jou soettand en 'n hartsvriendin; want "there's nothing better than a good friend, except a good friend with cake."
Om ander koffiewinkels in ons dorp te besoek, klik gerus hier om na ons webblad herlei te word en sien waarmee ons dorp nog spog.