Elke jaar wag Potchefstroom se gemeenskap met groot opwinding op een van die belangrikste geleenthede op hul kalender—die Abraham Kriel Liggiefees. Vanjaar is geen uitsondering nie en die gemeenskap tel alreeds af na 29 November.
Uitgenooides kan uitsien na nog 'n fantastiese, feestelike Gala Aand
Die Gala Aand, wat as die amptelike opening van die fees dien, vind op 27 November plaas. Hierdie aand is elke jaar 'n sukses en beloof weer om vol van gemoed en gees te wees. Uitgenooides kan uitsien na heerlike kos, uitstekende vermaak, en waarskynlik 'n paar trane, aangesien die aand emosioneel gelaai is met vreugde en dankbaarheid. As 2024 se Gala Aand so merkwaardig soos 2023 s'n gaan wees, is genooides in vir 'n behoorlike bederf! Om hoogtepunte van verlede jaar se Gala Aand te lees, kliek hier.
Die kinders ís die fees
Wat hierdie fees regtig spesiaal maak, is die aktiewe betrokkenheid van die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis. Vanaf die Gala Aand, tot by die einde van die fees, speel hulle 'n sentrale rol—of dit nou is om besoekers te verwelkom, by die ingang kaartjies te verkoop, of by een van die kosstalletjies te help. Hulle is oral sigbaar en dra regtig by tot die feestelike atmosfeer.
Vanjaar se kunstenaars
Vanjaar se feesprogram het weer groot kunstenaars wat hul talente op die verhoog sal bring, en die opgewondenheid onder feesgangers is reeds besig om op te bou. Kaartjies is beskikbaar vooraf via Quicket en sal ook by die hekke te koop wees.
Waarna die gemeenskap kan uitsien
Die gemeenskap en besoekers kan uitsien na nóg méér sprankelende liggies, geliefde kosstalletjies, pret vir die kinders en 'n verskeidenheid interessante stalletjies. Soos gewoonlik gaan dit beslis 'n onvergeetlike ervaring wees vir almal wat die Liggiefees bywoon, waar die gees van samehorigheid en feestelikheid skitterend weerspieël word in die liggies wat die nag verlig. Besoekers kan ook uitsien na nuwe verskaffers en uitstallers - meer oor dié in 'n latere artikel.
Besoek gerus hul Facebook blad om op hoogte te bly van enige en alle verwikkelinge, nie net rakende Liggiefees nie, maar ook dít wat by Abraham Kriel Kinderhuis gebeur.
Johané van Dyk - Potchefstroom