Daar was planne om dié einste koelteboom op 17 en 18 Januarie báie te snoei, maar Moeder Natuur het ander planne gehad.
Eers 'n kennisgewing, toe 'n harde slag
Eers was daar 'n kennisgewing uitgereik om die publiek in kennis te stel dat die groot, gewilde boom wat reg langs die bekende koffiewinkel, deMilko, staan gesnoei moet word juis omdat dit blyk of dié binnekort kan omval en in die volgende sosiale media plasing, kan daar gesien word hoe die einste boom sy laaste asem uitblaas. Eienaars en gereelde besoekers het hul skok en hartseer op sosiale media uitgedruk en hul 'medelye' gedeel.
Dit is die tweede boom wat omval binne 'n maand
deMilko is een van die Bult se bekendste koffiewinkels en het al die toets van tyd weerstaan en het oor die jare uitgebrei van 'n piepklein instap winkel na 'n heerlike ruim spasie waar klante onder die koeltebome en afdakke kon sit. Die val van die boom kan te doen hê met ouderdom, siekte of die sterk wind en reën wat Potchefstroom die afgelope tyd beleef. Dit is die tweede boom wat binne 'n maand omgeval het in Borcherd Straat; die eerste een was die bekende Eikeboom voor Texas.
Alhoewel die buite-sitplek area groot skade ondergaan het, het niemand seer gekry tydens die insident nie en die munisipaliteit is reeds besig om die boom te verwyder.
Johané van Dyk - Potchefstroom