Nadat hy die verhaal, Haar naam is Mandie, gelees het, het 8-jarige Christie Saayman se hart gebreek en het hy toe reeds geweet sy roeping is om eendag betrokke te wees by kinders in nood. Alhoewel dit ‘n ruk geneem het, staan Meneer Christie jare later eindelik aan die stuur van Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom wéét hy dit is waar hy moet wees.
Waar dit alles begin het
Na die Tweede Vryheidsoorlog het Abraham Kriel besef daar is baie kinders weerloos gelaat. Dominee Abraham, sy vrou en Maria Kloppers het besef iets moet gedoen word en het hulself beywer vir behoeftige kinders. Hulle het in Langlaagte, ‘n uitbreiding in hedendaagse Johannesburg, ‘n plaas by die regering gekry waar hulle ‘n Huis vir Kinders begin het; so is die eerste Abraham Kriel Kinderhuis gestig. Van die begin af het Abraham ‘n probleem gehad met die naam ‘weeskind’. Daar is baie negatiewe konnotasies aan dié woord en in baie gevalle was die kinders nie wees nie, die ouers kon net nie na hulle omsien nie. Die kinderhuis bestaan steeds vandag, maar is nou bekend as Abraham Kriel Bambanani.
Van Toeka tot Nou
In 1956 het hulle 760 kinders gehuisves in ‘n huis waar die maksimum kapasiteit eintlik 200 was. Die einste huis het vandag steeds die kapasiteit om net na 200 kinders te kyk. Gegewe die groot behoefte aan kinder behuising en met hulp van die regering het Abraham Kriel ‘takke’ in Pretoria en Potchefstroom ontstaan. Terwyl daar aan die twee nuwe takke gewerk en gebou was, moes die instansie noodgedwonge ‘n alternatiewe oplossing kry rakende behuising. Destyds het [die regering] die kinders op ‘n beestrok gelaai, na Potchefstroom gebring en by HTS Potchefstroom se gronde afgelaai; hiér het hulle tydelik in tente gebly terwyl hul gewag het vir die bouspan om die kinderhuis te voltooi. Omrede die regering ‘n plaas voorsien het, het die kinders geboer en geplant; akademiese fokus was nie van soveel belang soos vandag nie. Christie vertel dat hy vir Dora, die kinderhuis se eie donkie, baie goed onthou - ook haar harde byt. Dora het die melk vanaf die kombuis na die verskillende huise toe geneem en dié instelling het eers in 1986 tot ‘n einde gekom; die Saaymans was toe reeds betrokke by Abraham Kriel Kinderhuis. Die geboue is feitlik identies aan die oorspronklike fondasies en destydse doel was om 150 kinders by die Potchefstroom tak in te neem; maar nadat daar twee addisionele geboue opgerig is, noem meer as 230 kinders vandag Abraham Kriel hulle huis.
Die jaar was 1982
Soos aan die begin genoem, het Christie op 8-jarige ouderdom alreeds ‘n diepe roering ervaar nadat hy die boek, Haar naam is Mandie, gelees het. Sy hart het geruk en hy het met sy ouers begin praat en gevra of hulle nie dalk ‘n kind in pleegsorg moet neem nie; alhoewel hy en sy suster gelukkig was, het hy gevoel hulle kort nog ‘n maatjie in die huis. Drie maande later het sy pa ‘n pos by Abraham Kriel gesien, aansoek gedoen en die werk gekry. Voor hy sy posisie by die kinderhuis beklee het, was sy pa ‘n rekenmeester. Die einste maand trek die Saaymans by Abraham Kriel in en sedertdien is hulle gesin op een of ander manier betrokke by die kinderhuis. Alhoewel sy pa destyds Adjunkhoof was, het Christie saam met die ‘laaities’ groot geword, gespeel en [baie] pakslae gekry.
Van Mafikeng na Thakaneng
Toe die tyd kom om universiteit toe te gaan, wou Christie met alle mag en mening Maatskaplike Werk gaan swot, maar sy ouers was gekant teen dié idee. Op die ou end is Christie Mafikeng toe; maar daar was altyd die hunkering om by die kinderhuis betrokke te wees. Na sy pa se aftrede, het sy ma die leisels oorgeneem en as Hoof gedien. Soos die noodlot dit wil hê, het ‘n noodgeval Christie terug gedwing na Potchefstroom waar hy toe by die Thakaneng Straatprojek betrokke geraak het en vir tien jaar was hy in sy element. “Dit is seker die lekkerste ding wat ek nog in my lewe gedoen het”. Dié kinders word nie gekommiteer* soos ander kinders voordat hul in die kinderhuis opgeneem word nie en hierdie kinders word ook nie volgens 'n hofbevel in die skuiling geplaas nie - dit is omdat hul nie meer in hul omstandighede wil bly nie, hetsy as gevolg van armoede, dwelms en drank of mishandeling is. By hierdie skuiling word ‘n hele ander benadering gebruik.
Die einde van 'n era
Tydens sy indiensmening by Thakaneng het Christie daagliks dorp toe gery en byna 70 kinders op die Bult ontmoet, bal begin skop en as hy weer kyk, speel almal saam. Op hierdie wyse het hy vertroue en verhouding met die kinders gebou. Na ‘n week sou hy vir die kinders vra of hulle honger is en wanneer hulle dan ‘ja’ antwoord, gaan eet almal saam middagete by Thakaneng (in Potch Industria) waarna Christie hulle terug neem Bult toe. Die doel was dat die kinders moet sien dat daar wel vir hulle 'n veilige hawe is en hulle maak dan self die besluit om weg te stap vanuit hul omstandighede. Aan die begin was daar slegs een huis wat 20 kinders kon huisves. Dié het hulle later vergroot dat die kapasiteit tot 40 gegroei het. Die personeel en gemeenskap het ‘n tweede huis gebou vir nog 40 kinders en toe ‘n Oorbruggingshuis wat ‘n verdere 40 kinders kon huisves. Aan die einde van tien jaar, toe Christie se seisoen tot 'n einde kom, kon Thakaneng vir 120 kinders as veilige hawe dien. Christie is baie familievas en hy en sy pa het saam ‘n besigheid begin, maar dit was nie regtig wat hy wou doen nie - en deurentyd was die roering vir die kinderhuis steeds in sy binneste.
‘n Sameloop van gebeure
Ongelukkig (of is dit eintlik gelukkig?) het die seuns by Abraham Kriel probleme begin veroorsaak en het die vroue personeellede al hulle dae met die seuns gehad. Net daar en dan maak die Here vir Christie sy deur oop en kry hy uiteindelik die geleentheid om permanent by Abraham Kriel in te skakel en hy het nog nie een dag teruggekyk nie. Hy het as Kindersorg Bestuurder begin en het homself intussentyd bewys en opgewerk, soveel so dat hy vier jaar gelede as Hoof aangestel is. Christie en sy gesin tesame met die Adjunkhoof, Me. Annelien Yzelle, en een maatskaplike werker woon op die perseel, omdat dit noodsaaklik is in meer as een opsig. Nie net is hulle naby vir noodgevalle nie, maar op hierdie wyse bly hulle ‘connected’ en betrokke in die kinders se lewens. “Ek wil altyd die kinders ken”, het Christie genoem.
Wat hulle droom
Die visie is eenvoudig: Abraham Kriel kinders moet die wêreld verander - finish en klaar. Hulle wil die kinders só opvoed dat hul enigiets waarop hul besluit en hul visier het, kan vermag. Dit gesê, is die missie om alles in plek te hê dat die personeel en bestuur vir die kinders die tipe sorg kan gee dat wanneer hul uit die kinderhuis gaan, hulle soveel meer is as net ‘n kind wat ‘n blyplek gehad het, relatief veilig was en nou nêrens het om heen te gaan nie. Hul einddoel is om kinders op te rig en hulle te sien streef. Christie wil een duidelike boodskap aan die gemeenskap en publiek rig, “ ‘n kinderhuis kan nooit dieselfde sorg [en liefde] gee wat ‘n ouerhuis kan nie; dis onmoontlik”. Om laasgenoemde reg te kry, het hulle ongelooflik baie sisteme in plek en alhoewel bestuurslede, kinderversorgers en ander personeel alles in hul vermoë doen om aan alle behoeftes te voorsien, kan hulle ongelukkig nie vir ‘n kind so goed wees soos hul eie huisgesin nie. Een van die hoofredes is die feit dat daar in die meeste gevalle 25 kinders en slegs een of twee versorgers in een huis is. Maar met dít wat hulle wel het, doen hulle vreeslik goed - alhoewel dit nie ideaal is nie.
Die maatstaf waaraan ‘n kinderhuis hulself meet
Een van die maatstawwe wat gebruik word om hulself as kinderhuis te meet, is hoeveel van hul huidige inwoners se kinders eendag in ‘n kinderhuis eindig. In die 68 jaar wat die kinderhuis bestaan, was daar min of meer 8000 kinders gehuisves en van dié 8000 kinders, was daar slegs twee kinders [van voormalige inwoners] wat in die kinderhuis beland het - en dít spreek boekdele. Daar is baie sukses stories van kinders wat uit Potchefstroom se tak kom wat vandag in suksesvolle beroepe staan as prokureurs, ouditeure en polisiebeamptes. Die groot groep in geheel is alreeds beter af en jaar na jaar is Abraham Kriel Kinderhuis besig om die verandering te sien.
Grootste uitdagings
Finansies. “Wat ons moet doen en wat ons wil doen, maak die verskil.” Abraham Kriel se kleintjies kom met ‘n groot agterstand by die kinderhuis aan en dít gepaard met hulle trauma, het ‘n negatiewe neurologiese impak tot gevolg. Sodra die kinders ingeneem word, begin die personeel met ekstra insette rakende skoolgereedheid, biokinetika ensovoorts. Maar al hierdie addisionele insette kos geld en dít wat hulle wel het, is net genoeg om die basiese te dek.
Sielkundige bystand. Sielkundiges is een van die ‘afdelings’ waar Abraham Kriel nie terughou nie omrede daar so baie trauma is waardeur hul kinders moet werk, maar ongelukkig is daar nie genoeg sielkundiges in Potchefstroom om deurentyd sessies met die kinders te hou nie. Met verlede jaar se fondsinsamelings kon hulle by verre die meeste sielkundige hulp, tot op hede, bied. Maar dit is steeds nie voldoende nie as gevolg van die voortdurende groei aan dié behoefte.
Pendeldienste. Vier Sprinter bussies staan elke oggend gereed en om 06h15 begin hul by die hekke uitry na die 22 verskillende skole in en om Potchefstroom en die laaste kinders stap op die kop 08h00 by die skoolhek in. Alhoewel daar koshuise in die dorp is wat meer as 1 000 kinders huisves, hoef daardie skole se personeel nie as pa en ma op te tree vir hul inwoners nie. Die personeel by Abraham Kriel gaan above and beyond en doen soveel meer as wat die departement vereis, want elke personeellid se hart klop teen ‘n unieke ritme vir hierdie kinders. Wanneer die kinders die kinderhuis verlaat, behou die personeel steeds kontak met hulle. Die doel is om elke leerder by die universiteit of tegnikon in te kry en wanneer tersiêre onderrig nie haalbaar of realisties is nie, help die personeel skoolverlaters om werk te soek.
Verskillende vlakke van alles
Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom huisves kinders van amper alle groeperings regoor die land, met verskillende vlakke van alles. Die beginsel is dat ‘n kind wat daar is, die reg het om in sy of haar eie taal groot gemaak te word. Die kinderhuis het personeel van byna alle etniese groepe en omrede die kinders nog in hul ontwikkelingsfases is, leer hulle baie vinnig tale aan. “As jy met jou rug na ‘n groep toe sit [en met hulle praat], weet jy nie watter kleur hulle is nie”. Christie noem dat laasgenoemde tot groot voordeel vir die kinders is, want hulle kan dan met selfvertroue in die gemeenskap gaan en met byna almal kommunikeer. Hulle neem ook natuurlik die kinders se vermoëns in ag en wanneer ‘n kind ingeneem word, doen hulle so gou as moontlik die nodige toetse om te bepaal waar [en op watter vlak] die kind moet wees; die 22 skole vorm deel van hierdie besluite.
Toekomstige sportsterre
Hulle het groot uitblinkers op die sportveld en dieselfde geld hier ook in terme van finansies en voorsiening - hulle doen wat hulle kan om ‘n kind die geleentheid te bied om die beste te wees. Die sport presteer op so ‘n vlak dat Abraham Kriel die afgelope vyf jaar elke jaar ‘n inwoner gehad het wat SA’s toe is vir ‘n spesifieke item en die bestuur doen alles van hulle kant af om dit te ondersteun. As hulle nie die nodige finansies het nie, vra hulle; maar hulle spesifiseer, hulle vra nie net sommer in die lug of oor die algemeen nie.
Geestesgesondheid en emosionele welstand
Vanaf Maartmaand sal daar vyf permanente maatskaplike werkers deel van die personeel wees. Elke maatskaplike werker kyk na twee of drie huise se kinders en hulle sien elke middag die kinders; net om in te loer, hoor hoe dit werklik met hulle gaan en of daar iets is waarmee hul sukkel. Hierdie ‘in-check sessies’ vind plaas op ‘n rotasie sisteem sodat die maatskaplike werkers ‘n beurt by elke huis het. Die kinderversorgers leef saam met die kinders in die huise en wanneer hulle agterkom dat ‘n kind nie hom- of haarself is nie, rapporteer hulle dit dadelik aan die maatskaplike werker. Wanneer die maatskaplike werker se terapie nie genoeg is vir hierdie spesifieke inwoner nie, kry hulle iemand van buite af in of gaan hulle na een van die praktyke in Potchefstroom om professionele hulp op te soek. Omdat daar so ‘n groot behoefte is, gaan ‘n groepie kinders op ‘n weeklikse basis Witrand toe om sielkundiges te sien of Witrand se personeel kom na die kinderhuis toe. Die maatskaplike werkers maak ook gebruik van speelgroepies en groepwerk; dit is baie effektief en wanneer daar iets fout is (hetsy in die huis of met ander inwoners), kom dit gewoonlik tydens hierdie sessies uit.
Abraham Kriel en die gemeenskap
Die kinderhuis is so gelukkig en geseënd om daaglikse skenkings te ontvang; daar gaan nie ‘n dag verby waar daar nie ‘n donasie gemaak word nie. “Ons mense kyk saam met ons na ons kinders”. Christie se pa het in 1982 ‘n voorraad beheer program geskryf wat Abraham Kriel tot vandag toe gebruik en die doel is om kontrole toe te pas oor elke item wat die perseel binnekom en verlaat. Met hierdie program en sisteem spaar hulle ten minste R1 000 000 per jaar. Abraham Kriel is seker een van die kinderhuise in die land waar die kinders die beste eet; daar word nie met kos gemors nie en die kinders kry wat hulle moet, dus kan daar nie diskrimineer of voorgetrek word nie. Deur dié program, kos dit Abraham Kriel slegs R2.50 per maaltyd in vergelyking met R15 by ‘n sekere Gautengse kinderhuis. En daardie R13 word ongelukkig deur personeellede of die bestuur by die hek uitgedra.
Merkwaardige oomblikke wat die sukses van Abraham Kriel uitbeeld
Die lekkerste gevoel vir Christie is tydens die jaarlikse Liggiefees. Sommige mense noem op sosiale media dat hulle nooit die kinderhuis kinders sien tydens die fees nie, maar hulle is salig onbewus dat die kinders wat hulle by die hek of kosstalletjies help, voormalige en huidige inwoners van Abraham Kriel is. Dít in opsig self is ‘n groot pluimpie - vir die personeel, bestuurslede én kinders.
Die hartklop van Abraham Kriel Kinderhuis
Christie Saayman is ‘n man op ‘n missie en ons as die Potchefstroom gemeenskap sien uit daarna om die hoogtes en mylpale saam met hom en sy span te vier en by te dra waar nodig. Saayman, ‘Kriel-kinders’ en kie - julle is die ware hartklop van Abraham Kriel Kinderhuis.
*Dit is wanneer maatskaplike werkers ondersoek gaan instel en die omstandighede waarin sekere kinders grootword, vasstel en waarneem. Wanneer daar nie pleegsorg of familie beskikbaar is nie, is die kinderhuis gewoonlik die laaste opsie - daar is nie eintlik ‘n keuse vir hierdie kinders nie.
Meer foto's, stories en plasings van voormalige Abraham Kriel Kinderhuis Langlaagte inwoners kan op hulle Facebook Blad gevind word.
Johané van Dyk - Potchefstroom