In die woorde van Amerikaanse sangeres, Katy Perry, “you’re hot then you’re cold”. Koue én sneeu aan die einde van September in sonnige Suid-Afrika? Aikôna!
Nes Potchefstromers (én die res van Suid-Afrika) begin regmaak vir “heerlike Lente, die Winter is verby”, word ons getref met twee kouefronte binne twee weke. Die eerste kouefront was sekerlik die ergste, toe twee slagoffers wat vasgevang was in die sneeu in Van Reenenspas, gesterf het as gevolg van hipotermie. Hierdie front het tydens die September langnaweek oor die land beweeg en die koue kon oral gevoel word. Die sneeu het gesorg vir ‘n spektakel en het besoekers van regoor die land gelok na die naaste sneeu. Soos altyd, het Golden Gate Nasionale Park in Clarens nie teleurgestel nie en het die sneeu soos ‘n spierwit kombers oor dié dorp gelê.
Op die African Skylines & Cities Zone Facebook groep, het Molly Ramajoana, 'n hele paar foto's geplaas van die sneeu in die Wes-Kaap.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo, is die koudste dae hierdie week vandag (Maandag, 30 September) en môre (Dinsdag, 1 Oktober). Teen Woensdag sal die kouefront begin weg beweeg, maar dele van Mpumalanga en KwaZulu-Natal kan steeds reën verwag, waarna die temperatuur stelselmatig begin toeneem. Daar word steeds geel waarskuwingsvlakke uitgereik vir swaar reën en ontwrigtende sneeu neerval, so landsburgers word gemaan om ag te slaan op die weer, reis te vermy sover moontlik, maar wanneer daar gereis word, om dit veilig te doen.
Moet maar gerus nie die truitjies té diep in die kas wegbêre nie. Besoek die South African Weather Services se Facebook blad om op hoogte te bly van weervoorspellings.
Johané van Dyk - Potchefstroom