Op 31 Augustus 2024 is ’n suksesvolle fondsinsamelingsprojek gehou om die inwoners van die Amelia Nasorgsentrum te ondersteun. Hierdie projek het ten doel gehad om fondse in te samel sodat die inwoners, wat deelneem aan veerpyl, die kans gegun word om aan hul jaarlikse kampioenskappe deel te neem. Hierdie kampioenskappe vind plaas op 26 Oktober 2024 en is gewoonlik ’n groot finansiële las vir die organiseerder, weens die hoë koste daaraan verbonde.
Meer as net 'n spel
Stephne Cockram, die organiseerder van die inwoners se veerpyltjieprogram, is al sedert voor die Covid-19-Pandemie betrokke by die inwoners en het met deernis en toewyding gehelp om die projek te laat groei. Sy verduidelik dat die idee agter hierdie inisiatief nie net is om die inwoners deel te laat voel van ’n kompetisie nie, maar ook om hulle te help met geestelike en fisiese stimulasie. Vir hierdie inwoners is veerpyl nie net ’n spel nie; dit is ’n manier om vreugde, kameraadskap en selfvertroue te ontwikkel. Hulle is elke keer vol opgewondenheid as daar geoefen word en die vooruitsig van ’n kompetisie bring groot vreugde in hul lewens.
Dit dien as doelwit
Cockram verduidelik dat die inwoners se deelname aan die kampioenskappe nie net goed is vir hul welstand nie, maar dat dit ook vir hulle 'n doelwit gee waarvoor hulle hard werk. Hierdie betrokkenheid by sport en kompetisie het ’n merkbare positiewe impak op hul gemoedstoestand, en daarom is die fondsinsamelingsprojek van kardinale belang.
Enige bydrae, hetsy groot of klein, word waardeer
Die sentrum se deelname aan die kampioenskappe vereis egter steeds ’n groot finansiële bydrae om die logistiek en ander kostes te dek. Daarom doen die organiseerder ’n beroep op die publiek vir enige skenkings of borge om hierdie droom vir die inwoners moontlik te maak. Die publiek word aangemoedig om by te dra, groot of klein, en elke bydrae sal met dankbaarheid ontvang word. Die gemeenskap se ondersteuning is noodsaaklik om hierdie spesiale groep mense te help om aan die kampioenskappe deel te neem.
Enigiemand wat belangstel om ’n bydrae te maak of meer inligting te bekom, kan vir Stephne Cockram kontak by 082 745 7761. Jou ondersteuning kan ’n groot verskil in hierdie inwoners se lewens maak en hulle die kans gee om hul passie vir darts te geniet. Elke bietjie help om hierdie waardige doel te bereik.
Johané van Dyk - Potchefstroom