Potchefstroom se studente en Impala loop hand-aan-hand, maar dit is al vir ‘n geruime tydjie nie meer nét studente wat hier uithang nie.
Tertius Esterhuizen, huidige eienaar van Impala, het ‘n paar interessante feite en verwikkelinge met ons gedeel oor hierdie ikoniese uithangplek en ook dít waarna Potchefstromers kan uitsien oor Nuwe Jaar.
Waar dit alles begin het
Die Impala Hotel het in 1905 sy deure amptelik geopen en het in die afgelope 40 jaar van krag tot krag gegroei. In 1953 het Tertius se oupa die hotel gekoop en is dit nagelaat aan sy seuns. Na sy matriekjaar in 1990 het Tertius hier begin werk en na ses jaar het hy die hotel by sy ouers oorgekoop en is sedertien aan die stuur van sake. Die ou Potties Bar het na COVID ‘n hele opknapping ondergaan en ‘n nuwe naam, restaurant én handelsmerk gekry - Die Local Bar. "Dit is steeds die oudste kroeg in Potchefstroom en een van die mooistes", vertel Tertius trots. Die moeite en detail wat in die opknapping van die hele kroeg gegaan het, kan duidelik gesien word en daar heers ‘n atmosfeer van geselligheid. Met ‘n lekker Afrikaanse speellys in die agtergrond, wat nie oorverdowend hard is nie, en heerlike kosreuke wat uit die kombuis kom, is dit maklik om te sien hoekom gesinne en families hier 'n Saterdagaand of Sondagmiddag ete kom geniet.
So baie om te bied
Die Local bied goeie kwaliteit kos teen ‘n goeie prys aan. Die toevoeging van die Escape Rooms het eers onlangs bygekom en was dadelik ‘n treffer in die gemeenskap. Tertius vertel dat baie maatskappye ‘n spanbou dag of jaareind funksie hou deur eers die Escape Room op die eerste vloer te doen en dan na die tyd ietsie by die restaurant te kom eet en drink. “Hulle maak dan sommer ‘n hele dag daarvan.” Dan is daar natuurlik ook die verskillende dansbane wat jonk en oud lok.
Die aanvraag vir sokkie [musiek] het afgeneem onder studente en dit is toe dat Tertius besluit het om die groot dansvloer te omskep dat dit meer ‘n klub gevoel het waar besoekers hul lywe kan rondswaai op polsende musiek. Daar is wel steeds voorsiening gemaak vir diegene wat sokkie verkies en dit is juis die projek waarmee hul op die oomblik besig is - om die sokkie dansvloer op te knap en groter te maak. Hierdie opgeknapte area sal op Oujaarsaand, tydens Impala se Nuwe Jaar Partytjie, oopmaak vir die publiek. “Besoekers gaan ‘n lekker verrassing kry”, vertel Tertius opgewonde.
Interaktief en intensioneel
Impala is baie aktief op sosiale media en moedig besoekers aan om resensies te gaan lewer op hul verskillende sosiale media platforms. Die bestuur kyk gereeld na klante se terugvoer en maak dan sekere besluite daarvolgens. Hulle neem die opinies, insette en voorstelle van die personeel in ag, aangesien hulle diegene is met wie die publiek heel eerste in kontak kom. Op hierdie wyse bly hul op hoogte van klante se behoeftes en verbeter kos-kwaliteit, diens en dies meer.
Gebeure en geleenthede
Daar is natuurlik JOOL waarna die studente kan uitsien in Januarie. Impala is een van die hoofborge tydens hierdie geleentheid en lok elke aand hordes studente om ‘n bietjie lyf te kom swaai. Daar is ook die jaarlikse Oktoberfest wat nog ‘n gunsteling onder die Potchefstromers is, maar meer hieroor volgende jaar.
Die grootste geleenteid waarop alle fokus nou is, is die Nuwe Jaar Partytjie. Dit is tydens hierdie geleentheid waar die publiek die nuwe vasdans area sal kan sien en beleef, maar ook ‘n aand van feestelikhede kan geniet. Met Coyote Ugly as tema, beloof dit om ‘n onvergeetlike aand te wees van line dancing, losdans, vasdans en vele maar - daar is nie ‘n beter manier om die Nuwe Jaar in te wag nie! Alhoewel dit op ‘n Sondag val, moet Potchefstromers hulself regmaak vir ‘n Nuwe Jaar opskop van epiese proporsies die 31ste Desember.
Maak nie saak hoe ver jy reis nie, indien jou pad met dié van 'n oud-Potchefstromer kruis, sal julle altyd Impala in gemeen hê.
Potchefstroom - Johané van Dyk