Vanjaar se Liggiefees Gala Aand, wat Woensdag, 29 November plaasgevind het, was die perfekte manier om in die Kersfees ‘gees’ te kom en selfs meer uit te sien na die skouspel van liggies wat hierdie jaar se fees gaan oplewer.
Die Gala Aand, wat plaasvind voor die fees amptelik afskop op 1 Desember, dien as geleentheid om al die borge te bedank wat ’n donasie gemaak het; nie net vir die Liggiefees nie, maar ook gedurende die jaar.
66 Jaar van genade en seën
Dit is die Kinderhuis se 66ste bestaansjaar en dié aand was beslis een van die spesiaalstes nog. By aankoms, is gaste na die groot tent vergesel deur Abraham Kriel se inwonertjies; wat alreeds vir ’n knop in die keel gesorg het. GP van Rheede van Oudtshoorn was die aand se seremonie meester en het die gehoor nie net geboei nie, maar ook laat skater van die lag met staaltjies en grappies. Hy en sy band, Ginger Snap Band, het ook as vermaak gedien vir die aand en het gesorg vir ’n gesellige atmosfeer.
Die borge
Advokaat Johan Pretorius het die bedankings behartig. Meer as vyftien finansiële bydraers, tesame met NG Welsyn, het hierdie jaar onbaatsugtige opofferings gemaak. Agreenco Environmental is die hoofborg vanjaar, saam met vele ander plaaslike maatskappye en individue wat hul bydraes gelewer het om hierdie fees weereens ’n onvergeetlike een te maak. Terwyl sommiges hul beursies oopgemaak het, het ander ’n vertoonstuk geborg, party het hul deure oopgemaak vir akkommodasie en ander het weer hul tyd geskenk.
Ons groet 'n legende
Na afloop van hierdie jaar se Liggiefees, groet Abraham Kriel Kinderhuis vir Me. Ketrien Saayman wat die afgelope 42 jaar hier betrokke was. Me. Saayman se hart klop ongetwyfeld vir elke liewe inwoner en sy gaan 'n groot leemte en selfs groter skoene agterlaat. Mnr Christie Saayman, wat as hoof van die Kinderhuis dien, het ’n hartroerende toespraak gelewer en daarna het die koor Me. Saayman geseën deur Numeri 6:24 – 26 vir haar te sing – daar was nie ’n droë oog in die gehoor nie. Dit was 'n heerlike aand en elke kind, personeellid en gas het dit spesiaal gemaak.
Die besonderse kinders van Abraham Kriel
230 kinders noem Abraham Kriel ‘huis’ en is op alle vlakke afhanklik van hierdie instansie en die personeel wat omvatte dienste moet lewer. Die kinders word elke dag na 22 verskillende skole vervoer en na skool is daar tutors en vrywilligers wat ‘n helpende hand bied. Nie net is die kinders betrokke by uitreik programme in die dorp nie, onderandere PAWS en ouetehuise, maar hulle slaag uitsonderlik in hul pligte. Daar word na die beste van die eienaars en personeel se vermoë na hierdie kinders omgesien, maar daar sal altyd behoeftes wees wat nagesien kan word.
Hoe kan ek help?
Indien dit op jou hart druk om te help, kliek gerus op dié skakel wat jou na die Abraham Kriel Kinderhuis se webblad sal herlei en verskillende opsies voorsien oor hoe om ‘n bydrae te lewer; hetsy dit in die vorm van finansies of tyd is – elke donasie is kosbaar en maak werklik ‘n verskil.
Waarna om uit te sien
Besoekers kan hierdie jaar uitsien na nóg meer liggies en ‘n verskeidenheid stalletjies wat yskoffie, rib rolle en pannekoeke insluit. Tydens verlede jaar se fees was daar 63 000 pannekoeke verkoop, maar daar sal beslis meer beslag voorberei word vir hierdie jaar se stormloop mense. Die kleinspan kan ’n veilige speel area geniet onder toesig van ‘n kinderoppasser en vir die jongklomp is daar paintball en ‘n Formule 1 Simulator.
Sien jou by die Liggiefees!
Potchefstroom - Johané van Dyk