"Hond lekker koffie!"
‘n Impulsiewe koffie afspraak het ons na Pavement Special Coffee Co. geneem en ons was aangenaam verras.
Eerste indrukke
Die eerste gedagte wat by jou posvat wanneer jy by hiérdie koffiewinkel instap, is industrial chic. Die geluide van bone wat gemaal word en melk wat gestoom word, gemeng met die hemelse koffie aromas, vou om jou soos ‘n kombers wanneer jy deur die indrukwekkende glasdeure stap. Gerieflik geleë naby die N12, letterlik ‘n klipgooi van Mooirivier Mall af, sal besoekers Pavement Special Coffee Co. vind.
Kry hulle hier: 18 Du Plessis Straat, Baillie Park
COVID-baba
Hierdie moderne koffiehuis het in die middel van 2020 sy deure geopen en het sedertdien van krag tot krag gegroei. Woord van hierdie nuwe juweeltjie het vinnig versprei en kort voor lank het honderde besoekers met hul drankies op sosiale media platforms gespog. Deesdae weet byna elke Potchefstromer wie en wat Pavement Special Coffee Co. is - vir al die regte redes.
‘n Spyskaart om van te kies en keur
Met ‘n spyskaart om van te kies en keur, het Pavement Special Coffee Co. iets vir almal - van 'n Diddle Daddle Café Latte tot ‘n Kondensmelk geur melkskommel; elke klant sal meer as tevrede by hul deure uitstap. Die verskeidenheid van geure en strope word by hul bure, Pienk Pilletjies wat die gebou met hul deel, aangekoop.
Vriendelike en bekende gesigte
Die baristas is vriendelik, behulpsaam en lyk of hul elke bestelling toe oë kan maak - wat ons seker is heeltemal binne hul vermoë is (met die regte motivering kan ‘n mens baie vermag). Gereelde klante is ook altyd ‘n bederf - veral wanneer hul die baristas al op hul name noem. Om 'n gereelde besoeker te word, klink na 'n baie goeie doelwit.
‘Value-adds’
Daar is ‘n Cup Refund waar klante afslag kry wanneer hul hul eie koppie bring en enige ‘tips’ word aan P.A.W.S geskenk.
Follow, Share en Tag
Gaan volg hulle gerus op sosiale media en onthou om hulle te ‘tag’ in jou plasings.
Hierdie koffiehuis se produkte is alles behalwe ‘n pavement special!
Johané van Dyk - Potchefstroom
__________________________
Vir nog koffiehuise in Potchefstroom, klik gerus die onderstaande foto om na ons webblad herlei te word.