"Hy is ‘n onstuitbare krag met passie en spoed. ‘n Hardloop-entoesias met ‘n onwrikbare liefde vir die sport en vind vreugde in elke tree."
In ‘n vorige artikel het ons die Potchefstroom gemeenskap bekendgestel aan Lihann Kemp, ‘n leerder van Laerskool Baillie Park wat van 10de plek na eerste op die podium gegaan het met sy landloop. Dit het toewyding, vasberadenheid en deursettingsvermoë geverg en Lihann het gewys waarvan hy gemaak is toe hy as kampioen gekroon is in sy ouderdomsgroep tydens die SA Landloop Byeenkoms in 2023.
2024 doelwit
Nou het Lihann sy oog op die SA Skole Kampioenskappe wat van 24 - 26 Maart vanjaar in Limpopo plaasvind. Lihann het omtrent uit sy blokke gekom die afgelope paar maande en het tydens atletiek byeenkomste behoorlik geskitter toe hy goue medaljes ingepalm het met sy indrukwekkende tye tydens die 1200m item by drie verskillende byeenkomste. Daar is slegs drie byeenkomste oor voor die SA Skole Kampioenskappe. Die JB Marks byeenkoms, wat volgende week plaasvind, is die eerste van hierdie drie. Die Kenneth Kaunda Distrik byeenkoms vind die 23ste Februarie plaas en as hy daar deurdring, sal hy die 8ste Maart aan die Noordwes byeenkoms deelneem; waar slegs die eerste twee plekke kwalifiseer vir SA's. Gelukkig vind al hierdie byeenkomste by die McArthur Stadion in Potchefstroom plaas wat verblyf, brandstof en kos-verwante uitgawes spaar.
Ons het met Lihann se ma, Stefani, gesels om so bietjie meer inligting en agtergrond te kry.
Wat is nodig om sy droom waar te maak?
Sy praat met groot trots van haar seun en noem dat sy enigiets sal doen om sy droom waar te maak. “Al kan ek dit nie self doen nie, moet ek my bes gee om dit vir hom moontlik te maak”, vertel Stefani vasberade. Maar om sy droom te verwesenlik, het hulle finansiële ondersteuning nodig. Dit is waar pre-borge in berekening kom.
Pre-borge en hoe dit werk
Pre-borge is basies soos ‘n pledge en lede van die gemeenskap ‘borg’ vooraf ‘n bedrag. Die oomblik wat hy dan kwalifiseer, laat weet Stefani die donnateurs en stuur vir hulle die bankbesonderhede. Die grootste uitgawes vir die SA Skole Kampioenskap in Polokwane sal die brandstof en veblyf wees en dit is juis hoekom hulle tans opsoek is na nog pre-borge. Tydens verlede jaar se fondsinsameling was daar slegs twee borge wie Stefani geken het, die res het van anonieme gemeenskapslede af gekom. Adele Broodryk, wie tweede in die 2023 Comrades geëindig het, het ook ‘n bydrae gemaak. Elke R100 en R50 wat geskenk is, het bygedra tot die voorreg wat hulle gehad het om na Gqeberha (Port Elizabeth) te reis sodat Lihann kon deelneem.
So bietjie agtergrond oor Lihann
Ten spyte van die omstandighede waarin hy groot geword het, verbaas hy sy ma daagliks en is hy ‘n goeie leerder by die skool. Hy laat ook nie toe dat die dag se gebeure sy fokus kelder tydens oefening of ‘n byeenkoms nie. “As hy opdaag vir sy wedloop, dan dáág hy op!” Op die vraag “Waar kom sy liefde vir langafstande vandaan?”, het Stefani net gelag en genoem dat nie sy of Lihann se [biologiese] pa hardloop of atleties is nie, maar Lihann se oom het so effense atletiese trek in hom. Asof die drie-keer-’n-week se atletiek oefening en landloop hom nie besig genoeg hou nie, speel hy nog rugby ook.
Wanneer het hy begin hardloop?
Hy het in die middel van 2021 begin met landloop en in 2022 het hy SA's toe gegaan waar hy 10de geëindig het. Met die 2023 seisoen het hulle geweet wat om te verwag en Lihann het van die begin af voluit gegaan - soveel so dat hy op die ou end die SA Landloop Byeenkoms in sy ouderdomsgroep gewen het. Meneer André Olivier, ‘n Graad 7 onderwyser by Laerskool Baillie Park, het Lihann se talent raakgesien en voorgestel dat hy 1200m ook probeer. Meneer André is nie net sy afrigter nie, maar ook ‘n groot motiveerder en mentor. Beide Lihann en Stefani is ewe dankbaar dat hy hom afrig.
Nadat ons met Stefani gesels het, was alle aandag op die man van die uur gevestig.
Waar het jou liefde vir langafstande begin?
Dit het bloot met ‘n vraag van Stefani af begin: “Wil jy langafstande doen?” en met ‘n “Ja, ek sal dit probeer” het die hardloop-gogga vir Lihann gebyt en sedertdien gaan hy van krag tot krag en verbeter sy tyd met elke byeenkoms.
Byeenkoms voorbereidings
“Ons het dae wat ons hard oefen en ander dae wat ons dit rustig vat”, noem Lihann. ‘n Gekombineerde balans wat goed werk. Op die dag van ‘n byeenkoms of kompetisie, maak Meneer André seker hulle warm goed op. Hulle draf vir sewe minute, strek en doen hulle ritmes en deurlope voordat hulle aanmeld.
Lihann sê hy voel uitgerus en gereed vir Donderdag se byeenkoms. Dit help ook natuurlik dat hy so ‘n goeie, liefdevolle ondersteuningstelsel by die huis het. Sy ma en sibbe is omtrent by elke byeenkoms en hy noem dat sy stiefpa, vir wie hy baie lief is, elke wedloop bywoon wanneer sy werksverantwoordelikhede dit toelaat. Maar wanneer Ivan Viljoen nie langs die baan kan wees nie, hardloop Lihann met hom in sy hart.
Raad vir ander wat ook langafstande wil doen
“Fokus op jou asemhaling, fokus op jou arms wat ook moet werk en doen die [oefen] sessie so hard as moontlik.” Dit begin by jou oefening en jy kan nie hard kompeteer as jy nie hard oefen nie. Direk, op die man af en geen doekies word omgedraai met hierdie knapie nie. Hy wéét wat gedoen moet word om te presteer - op die baan en in die klaskamer.
Stokperdjies en ander aktiwiteite
Op die ou end van die dag is Lihann steeds 'n Graad 5 seun wat daarvan hou om bal te skop saam met sy maats. Wanneer hy nie om die veld snol of stof in almal se oë skop tydens landloop nie, geniet hy dit om rugby te speel, misterie strokiesprentboeke te lees of woordsoek te doen.
Wat motiveer jou om so goed te presteer?
Sy afrigter, Meneer André, se hulp en aanmoediging tydens die sessies dien as motivering om hard te oefen en goed te presteer. Gimmies wink alreeds vir 10-jarige Lihann, so dit dien as ekstra motivering om regtig op die sportveld en atletiekbaan uit te haal en te wys wat in hom steek.
Wat sal dit vir jou beteken as jy goud by SA Skole wen?
“Dit sal vir my baie great wees!” Dit sal ook beteken dat al sy opoffering en toewyding nie verniet was nie en dat hy van vroeg af kan leer dat harde werk wel beloon word. Die strategie en sleutel tot sy innerlike sukses voor die skoot klap? “Ek moet fokus om by die voorste atlete te bly en wanneer ek besig is om te hardloop, sê ek vir myself ek kan dit aanhou doen.” Nou ja, so eenvoudig soos dit.
Ons wens Lihann alle sterkte toe met sy byeenkomste en weet sommer hy gaan fantasties presteer! Indien jy ‘n bydrae wil maak om Lihann ‘n tree of twee nader aan sy droom te bring, kontak vir Stefani direk by 079 693 6397.
Johané van Dyk - Potchefstroom