Barrels & Bids samel 'n indrukwekkende bedrag in vir boere in nood.
Op ‘n pragtige Saterdagaand het die gemeenskap van Potchefstroom saamgetrek om deel te neem aan ‘n indrukwekkende fondsinsameling vol opwinding en groot hartlikheid. Verskeie items is opgeveil, van ‘n gesogte getekende én geraamde Rassie Erasmus-rugbytrui tot ‘n luukse naweek wegbreek vir ‘n gesin in Nelspruit, en nog vele meer.
'n Indrukwekkende bedrag ingesamel
Die ware hoogtepunt van die aand was die feit dat elke sent van die insameling vir ‘n baie goeie doel gegaan het. Die honneursstudente, met wie die Potch Gazette* vroeër in September gesels het, het hul groot fondsinsamelingsaand op 5 Oktober ten volle tot lewe gebring, en die eindresultaat was indrukwekkend. Daar is ongeveer R54 000 ingesamel, wat sal gaan na AfriForum se Voer vir ‘n Boer-inisiatief om boere te ondersteun wat swaar getref is deur die onlangse verwoestende veldbrande in die omgewing.
*Lees die volle artikel hier.
Groot harte en oop beursies
Die "feesgangers" het nie net gekom met oop harte nie, maar ook met groot beursies, wat gesorg het vir ‘n baie suksesvolle veiling. Vir dié wat nie fisies kon bywoon nie, het Meerkat Online Auctions die moontlikheid geskep om vanuit die gerief van hul huise te bie, wat ‘n bykomende laag gerief en toegang tot die geleentheid gebring het.
'n Aand vol bederf
Tussen die bie en opgewondenheid was daar genoeg tyd vir vermaak en bederf. Gaste is trakteer met smaaklike kos, ‘n verskeidenheid bier- en ginproeë, asook musiek wat die atmosfeer die hele aand lewendig gehou het.
Spesiale dank word uitgespreek aan Route 96 Brouery, Meerkat Online Auctions, asook al die borge wat die fantastiese pryse beskikbaar gestel het. Dankie ook aan elke persoon wat bygedra het om hierdie aand ‘n sukses te maak.
Wel gedaan aan hierdie groep gemotiveerde, hardwerkende studente! Nou kan hulle ‘n rukkie asem skep en fokus op hul eindjaar assesserings en toetse, wetende dat hulle ‘n groot bydrae gemaak het tot die gemeenskap.
Johané van Dyk - Potchefstroom
__________________________________
Nog foto's van Barrels & Bids Fondsinsameling