Direk na haar studies het Lezandré Thompson by Abraham Kriel Kinderhuis begin werk en alhoewel dit nie die oorspronklike idee was om so lank hier te wees nie, is sy na tien jaar net so passievol en vind steeds vreugde in haar werk. Saam met die res van die span, het hulle een doel voor oë: om elke kind te help ontwikkel en groei.
“Jy word gebore vir dit”
Sy het altyd geweet dat haar pad met kinders verweef gaan wees en het besluit om Maatskaplike Werk te studeer. Sy het genoem dat ‘n werk by Abraham Kriel ideaal is vir ‘n student wat pas klaar studeer het, omdat jy nie noodwendig die persoon is wat die kinders uit hul omstandighede gaan haal nie. Jy doen meer die ‘groundwork’ en is nie so aktief in die veld betrokke nie. “Jy word gebore vir dit”, vertel Lezandré. Maar die kinders is nie al wie groei by die kinderhuis nie, Lezandré het in die afgelope tien jaar in so ‘n mate gegroei dat sy vandag die rol van Junior Adjunkhoof beklee.
'n Hartseer realiteit
Die uitdagings is egter groot. Trauma en die hartseer realiteit dat kinders uit hul huislike omstandighede verwyder moet word, is nooit maklik nie. Die kinderhuis, verdeel in nege afdelings, huisves 25 kinders elk, elkeen met sy eie storie en agtergrond. Die doel is om ‘n huislike atmosfeer te skep waar kinders versorg voel en kry wat hulle nodig het, maar die realiteit is dat daar nie altyd genoeg plek is vir almal wat hulp nodig het nie. Wanneer geen ander plasings (in pleegsorg of by familie) moontlik is nie, is die kinderhuis die laaste opsie. “Hierdie kinders moet gehelp word, hulle moet groei en ontwikkel. Hulle moet eendag volwassenes wees wat ‘n verskil kan maak en die wêreld ‘n beter plek laat. Dit is ook lekker om uitblinkers te sien; om te weet dat hulle bo hul omstandighede gestyg het en werklik iets van hul lewe gemaak het.”
Die proses
Die proses om ‘n kind by die kinderhuis in te neem, begin met ‘n aanmelding deur ‘n gemeenskapslid, gevolg deur ‘n deeglike ondersoek deur buite-maatskaplike werkers en hulle dien dan ‘n aansoek by die kinderhuis in. Dié maatskaplike werkers is gewoonlik in diens by die DSD (Departement van Maatskaplike Ontwikkeling) of NGO's. Indien hulle plek het en die nodige programme om met 'n kind te werk, word die kind deur die hof by die kinderhuis geplaas om die beste belange van elke kind te verseker, terwyl hulle ook hul beskerm teen moontlike skade van ander. Elke twee jaar word die kinders se plasings hersien en indien die omstandighede verbeter het, kan hul teruggeplaas word by hul familie - ongelukkig gebeur dit selde.
Assesserings en ontwikkelingsplanne
Daar word deurentyd assesserings gedoen en die ontwikkelingsplan vir elke kind word gereeld hersien. Hierdie holistiese benaderings verg spanwerk, maar die bestuurspan, maatskaplike werkers, gesondheidswerkers en ander personeel loop soos ‘n goed geoliede masjien.
Familiebetrokkenheid
Om die kinders by hul families betrokke te hou, is ‘n prioriteit. Ondanks die soms afwesigheid van rehabilitasie met die ouers, streef die kinderhuis daarna om die kinders tydens vakansies huis toe te stuur, indien moontlik. Die "Vakansie Vriend" program is ‘n inisiatief om kinders tydens ongunstige omstandighede steeds ‘n gevoel van normaliteit en gemeenskapsbetrokkenheid te bied. Daar is wel ouers wat steeds aktief betrokke is. Hulle wil weet wat in hul kind se lewe aangaan en besoek hul kinders elke tweede naweek; maar dié ouers is die uitsondering, nie die reël nie. Die kinderhuis betrek ook die ouers wanneer daar groot besluite rakende hul kind gemaak moet word.
Ontwikkeling en groei
Terwyl Lezandré as maatskaplike werker gedien het, was haar rol nie alleenlik die ontwikkeling van vaardighede en ervarings wat die kinders vorm, maar het ook gestrek tot die daaglikse bestuur. Vandat sy in 'n meer senior posisie is, bied sy steeds leiding en hulp aan die huidige maatskaplike werkers, maar in die vorm van Maatskaplike Supervisor. Sy is ook meer aktief betrokke by die bestuurspan en werk saam met die Departement.
Jou hart moet vir kinders klop
‘n Hart vir kinders en die vermoë om empatie te behou te midde van uitdagende omstandighede is onontbeerlik vir enige persoon wat in hierdie rigting wil gaan. “Hou vas aan jou empatie en sin vir humor”, vertel sy. As maatskaplike werker kan jy nie bly vaskyk in die sleg nie; jy moet ook die groei en ontwikkeling waarneem en aan die hoop wat daarmee gepaard gaan, vashou.
'n Kinderhuis lewer ‘n baie nodige diens vir enige gemeenskap. Alhoewel daar baie uitdagings is, is dit ‘n baie vervullende beroep. Indien jy wel besluit om in maatskaplike werk se rigting te gaan, moet die salaris ‘n absolute bysaak en bonus wees en jy kan maar weet jou werkslading gaan gróót wees. Natuurlik is daar addisionele, eksterne uitdagings waarvan befondsing 'n groot faktor is. Maar wanneer dit jou roeping is, eet jy die olifant happie vir happie.
Die toekoms is blink en vol hoop
Lezandré sien ‘n baie blink toekoms vir Abraham Kriel en hul inwoners. Aanhoudende groei en ontwikkeling is aan die orde van die dag en die kinderhuis is reeds besig om pro-aktief op te tree om te verseker dat hul nooit ophou om beter dienste aan die kinders van die gemeenskap te lewer nie.
Abraham Kriel Kinderhuis gaan van krag tot krag en dit is ‘n voorreg om getuies te wees van hierdie sukses storie en plek van hoop.
Johané van Dyk - Potchefstroom