Nie net is NAMPO Oesdag die grootste landbou skou in Suid-Afrika nie, dit is ook sinoniem met die platteland. Duisende besoekers en uitstallers sien jaar na jaar uit na hiérdie weeklange fees wat in Bothaville plaasvind. Vir vier dae begin almal se lewens dáár waar die teerpad eindig.
The Go-To Guy en Potch Gazette het vanjaar NAMPO bygewoon en wat ‘n belewenis! Sewe en ‘n half uur en meer as 16 000 treë later, was ons nie eers deur die helfte van die park nie - dit is eenvoudig té groot om binne ‘n dag plat te stap, maar ons skroom mos nie weg van ‘n uitdaging nie.
Landbou in ‘n Digitale Tydperk
Soos ons die digitale era betree, is Suid-Afrika se landbousektor op die rand van 'n groot transformasie. Die 56ste NAMPO Oesdag, wat van 14 tot 17 Mei 2024 plaasgevind het, het die nuutste vorderings in hierdie veld uitgelig. Met die tema "Landbou in 'n Digitale Tydperk," weerspieël die gebeurtenis die groeiende belangrikheid van digitale konnektiwiteit om boerdery-doeltreffendheid, volhoubaarheid en voorspoed te verbeter. Boere benut digitale gereedskap om produktiwiteit te verhoog, hulpbron gebruik te optimaliseer, en aan te pas by mark- en omgewingsveranderings. NAMPO dien as 'n kritieke platform vir die landbougemeenskap, wat interaksie en besigheid onder alle belanghebbendes, van klein tot groot ondernemings, fasiliteer. Dr. Dirk Strydom van Graan SA beklemtoon die noodsaaklikheid van konnektiwiteit vir groei in die mededingende landbou-landskap, en beklemtoon NAMPO se rol in die verskaffing van toegang tot noodsaaklike inligting, tegnologie, en finansiële oplossings.
Bak en brou, hap en kou
Kosstalletjies was volop en daar was iets om te eet vir elke een se smaak en voorkeur - van koffiegeur fudge tot melktert jaffels, sappige hamburgers en sosaties en alles tussen-in. Ouma Rooi se bekende, stroop-druppende koeksisters was natuurlik ‘n gunsteling, asook die gekarameliseerde neute (dié geure sluit ook in koffie en sjokolade) en die aarbeie en room stalletjie. Die kosstalletjies is op so ‘n wyse versprei dat jy nie te ver hoef te loop vir ‘n volgende verversing nie. Tong in die kies, ons sal eerder nie praat oor die hamburger stalletjies wat effens te naby die lewende hawe gestasioneer was nie…
Implemente
Die implemente en trekkers was, soos gewoonlik, die showstoppers. Van Case tot Bell en die bekende John Deere handelsmerke het die week uitgestal en besoekers in verwondering en vervoering gehad met die grootte van hul masjiene. Daar was ook die bekende, geel Transformer waar hordes besoekers eers gestop het om ‘n foto saam met dié robot te kry. Van hierdie staanplekke het ook verskeie items verkoop, onderandere hemde en hoedjies met hul verskeie handelsmerke op en besoekers het al van vroegoggend af seker gemaak om hul inkopies te kry voor dit uitverkoop.
Lewende hawe
Die lewende hawe se diere raak by die jaar meer indrukwekkend. Die Marino skape is spekvet, gesond en goed versorg, die beeste en koeie is gróót en die skaapskeerders het hul talent gewys en die gehoor vermaak met die blitsige spoed en akkuraatheid waarmee hul skape skeer - g’n wonder Suid-Afrika het as die wenners by die Internasionale Skaapskeer Kompetisie weggestap nie (ironies genoeg was hierdie einste kompetisie in Nieu-Seeland gehou, waar hulle bekend is vir skape en skaapskeer). Die pragtige, prizewinning Boerboele het ook weer hul opwagting gemaak vanjaar.
Wroem, wroem
Motorhandelaars het behoorlik uitgehaal en gewys met hul stalletjies. Suzuki, Mahindra, Toyota, Ford en US Trucks was slegs ‘n paar van die motorhandelaars wat by NAMPO was. The Go-To Guy het met Ludwig van Mahindra gesels tydens ‘n livestream waar hy die kykers en gehoor meer vertel het van hul nuwe reeks motors - besoek gerus The Go-To Guy se Facebook blad om na die video te kyk. Die 4x4 baan het ook vir groot gehore gesorg en daar was meer as een persoon wie hul asem opgehou het terwyl die bestuurders dié baan probeer baas raak het.
Stalletjies, stalletjies en nogmaals stalletjies!
Die hoeveelheid stalletjies wat jaarliks by NAMPO is, is letterlik ontelbaar. Daar is byna 10 na 20 stalletjies per saal en daar is báie sale! Van handgemaakte leer items, grimering, naaldwerk masjiene, tot juweliersware, klere en vellies. Om nie eens van die oulike trekkers en draadkarre vir die jongspan te praat nie.
The Go-To Guy gaan kuier by so paar stalletjies
Natuurlik was dit nie nét ‘n ‘plesier uitstappie’ nie, daar moes so bietjie gewerk word ook. The Go-To Guy het by so paar stalletjies gestop en met die uitstallers gesels. Op die lysie was Agri-Alert, Toro, Made by Mosaic, Brothers Machines en Mahindra. Daar was ook deur die dag ge-livestream om kykers ‘n bietjie rond te wys. Op Donderdag, 16 Mei, was daar ‘n rekord getal besoekers - meer as 24 000 pare voete het na NAMPO Park gestroom om die dag te geniet en hul vellies vol stof te maak. Met byna 150 vlugte per dag, was NAMPO Park die besigste vliegveld in die land die afgelope week.
Nog datums, nog Nampo!
Wees ook op die uitkyk vir NAMPO Alfa wat vanjaar 17 - 19 Oktober ook op NAMPO Park in Bothaville plaasvind - hiérdie been van NAMPO fokus spesifiek op vee, jag en die buitelewe. En indien jy Bothaville se NAMPO gemis het vanjaar en jy jouself in die Weskaap bevind die week van 11 - 14 September, besoek gerus Bredasdorp Park vir NAMPO Kaap. Meer inligting kan op NAMPO se webtuiste verkry word.
Dit is veilig om te sê dat NAMPO 2024 ‘n reuse sukses was en ons sien alreeds uit na volgende jaar! Aansoeke vir Nampo 2025 open op 1 Oktober 2024 en sluit 15 Januarie 2025. Besoek gerus hul webblad vir meer inligting oor hoe om deel te raak van die grootste landbou skou in Suid-Afrika
Nampo 2024 - jy was boerse lekker!
Johané van Dyk - Potchefstroom
__________________________________
Nog foto's en videos van NAMPO Oesdag 2024