Op Sondag, 8 Desember, is daar op talle Potchefstroom sosiale media groepe met inwoners gedeel dat nóg ‘n eikeboom se lang lewe tot ‘n einde gekom het.
As dié boom kom praat
Soos jy die ‘toneel’ benader, kan jy nie anders as om ‘n knop in jou keel te kry nie. Die groot eikeboom wat vir jare op die hoek van Steve Biko en Borcherd Straat gestaan het en onder wie ontelbare studente en inwoners geloop het, het omgeval en die munisipaliteit moes inspring en help met die opsaag daarvan. Hierdie boom het talle winkels en restaurante sien kom en gaan; op dié stadium is Texas op die hoek, maar voorheen was die bekende Café Fiori daar. Ongelukkig is dit nie die eerste eikeboom in die dorp wat omval nie.
Verskeie faktore
Op die oog af het die boom nie siek of vrot gelyk nie en die jaarringe was nog duidelik sigbaar. Een inwoner het kommentaar gelewer op die plasing van die Potchefstroom First Responders groep en het dit laat klink asof dié gebeur het as gevolg van die Parke Departement van die JB Marks Munisipaliteit wat nie die nodige sorg aan die bome in die dorp gee nie; die bome word nie gesnoei nie en die nodige medikasie word nie aan die siek bome gegee nie. Johan Naudé van Cachet Park CID het genoem dat hy "glo dis 'n kombinasie van albei (ouderdom en siekte). Die winde speel ook 'n faktor, selfs met gesonde bome."
Eikebome en Potchefstroom is byna sinoniem en daar is privaat instansies, individue en die Potchefstroom Eikeboomlaning ‘vereniging’ wat uit hulle pad gaan om dié bome te beskerm. Hetsy dit as gevolg van ouderdom, siekte of sterk wind was, is dit steeds 'n groot verlies vir talle inwoners.
Johané van Dyk - Potchefstroom