‘n Groepie honneurs studente van die NWU Potchefstroom Kampus het ‘n interessante projek gekies as deel van hul graad se studies. Wanneer jy die woord ‘fondsinsameling’ hoor, is ‘n gholfdag gewoonlik die eerste geleentheid waaraan ‘n mens dink, maar hiérdie studente het besluit om in 'n ander rigting koers te slaan.
Ontmoet die Span
Die Potch Gazette het met Tegan de Vry, Johann Schaaff en Cara Roux gesels; drie van die nege studente wat Barrels & Bids reël. Die res van die groep bestaan uit: Thanica Gagiano, Melizandi Crause, Refiloe Mahlake, Vuyani Donga, Zola Qwanyaza en Michael Badenhorst. Wat begin het as ‘net nog ‘n projek’, het werklik lêplek in elke groepslid se hart kom kry. Die saak waarvoor hul geld insamel is baie relevant en raak elke plattelander.
'n Ander fondsinsameling aanslag
Die studente wou iets anders as net die gewone gholfdag fondsinsameling doen en werklik teruggee aan die gemeenskap. In samewerking met AfriForum se ‘Voer vir ‘n Boer’ inisiatief, sal Barrels & Bids se fondse gaan aan boere wie geaffekteer is deur veldbrande die afgelope tyd. AfriForum as instansie sal dan besluit hoe en waar die fondse toegeken en verdeel word. Dit is ‘n wonderlike inisiatief, veral in die platteland hierdie tyd van die jaar waar daar byna weekliks ‘n brand in die omliggende area is.
Tegan het genoem dat een van die projek se kriteria punte was dat die geleentheid moet kan voortbestaan ná hierdie jaar se insameling. Ongelukkig sal veldbrande altyd ‘relevant’ wees in die platteland, so dit is beslis ‘n insiatief wat ander organiseerders sal kan oorneem en mee hardloop jaar na jaar - daar sal altyd ‘n behoefte wees aan noodfondse vir boere.
Lekker pryse vir die veiling
Die groep het reeds ‘n hele paar indrukwekkende borge ingesamel vir die veiling wat deur die loop van die aand gaan plaasvind, onderandere ‘n geraamde Springboktrui wat deur Rassie Erasmus gedra én geteken is, vier bokse Spier 21 Gables wyn (beide Pinotage en Chenin Blanc) en twee nagte se verblyf vir vier tot ses mense by Inyala Game Lodge, om slegs ‘n paar te noem. Johann noem dat daar sewentien punte se kriteria is waaraan die geleentheid moet voldoen volgens die Sustainable Development Goals.
'n Geleentheid om nie te mis nie!
Alhoewel daar nog nie baie kaartjie verkope is nie, toon die publiek wel belangstelling deur die Facebook Geleentheid se blad te besoek. Die geleentheid vind op 5 Oktober 2024 plaas by Route 96. Die deure maak om 17h00 oop en die kaartjie se prys sluit ‘n heerlike ete, ‘n 500ml bier en ‘n gin of bier-proe in, asook registrasie vir die veiling. Kinders se kaartjieprys sluit ook kos en ‘n koeldrank in. Route 96 verleen báie hulp aan die groep in terme van die venue fooi, kelners en ander oorhoofse kostes. Die waarde van die items wat geborg is, tesame met die NWU se seed funding wat voorsien is, is van groot hulp in terme van finansies vir al die reëlings wat getref moet word.
Struikelblokke
Soos enige projek, is daar uitdagings wat daarmee gepaard gaan en Barrels & Bids is geen uitsondering. Op hierdie stadium is van die grootste struikelblokke advertering en bemarking van die geleentheid, en veral dat hierdie advertensies die regte teikenmark bereik. ‘n Volgende struikelblok is die geloofwaardigheid van die geleentheid, omrede dit ongekend is. Die laaste hindernis wat hierdie groep in die gesig staar, is die feit dat daar nog bitter min kaartjies verkoop is, maar hulle is hoopvol dat dít sommer vinnig-vinnig sal verander.
Die sukses van die geleentheid
Vir die teoretiese gedeelte van hierdie projek, moes die groep spesifieke doelwitte vir die geleentheid stel. Tegan noem dat hulle as groep die volgende doelwitte gestel het en ook waaraan hul die sukses van die fondsinsameling sal meet: om vyftien items te kry om op te veil, hulle wil graag vyftien tafels uitverkoop en op die ou end van die dag sal hul graag wil sien dat die funksie R25 000 insamel wat hul dan aan AfriForum sal skenk.
Hoogtepunte tot dusver
Alhoewel hul nog nie in die ‘grootmens’ wêreld is nie, was hulle vriendelik verplig om hul tone so bietjie in dié onbekende waters te steek toe hulle moes uitreik na besighede om te hoor of hulle betrokke wil raak. Maar op hierdie wyse het hulle met baie individue en besighede verhoudings gebou en gesien hoe gewillig die Potchefstroom gemeenskap is om betrokke te raak, veral by so ‘n belangrike saak.
Toe die vraag gevra word, ‘wat was tot dusver vir julle ‘n hoogtepunt’, het Tegan geantwoord: “ ‘n Mens kan nie sê dit is net een ding spesifiek nie.” Sy vertel hoe opgewonde die groepslede is wanneer een van hulle ‘n oproep of e-pos kry van ‘n individu of instansie wat noem dat hul graag betrokke wil raak by die fondsinsameling. Die hoogtepunt is ‘n samestelling van al die klein dingetjies en hulle vier beslis elke oorwinning.
‘n Boodskap van hoop
“As ons as gemeenskap saam kom, kán jy ‘n verskil maak”, het Cara genoem. Daar ís mense wat wil uitkyk vir die boere en die gemeenskap en tydens ‘n tragiese gebeurtenis soos ‘n weghol veldbrand, kan ‘n mens sien en ervaar presies hoe die gemeenskap saamtrek in ‘n tyd van nood.
Om meer inligting rondom hierdie fondsinsameling te verkry of om op een of ander manier betrokke te raak, kontak gerus vir Tegan De Vry by 060 972 9084 (slegs WhatsApp) of stuur ‘n e-pos na: barrelsbids@gmail.com
Johané van Dyk - Potchefstroom
___________________________________
Geleentheid besonderhede
Die kaartjiepryse sluit in:
Volwassenes: R200 pp. 'n Keuse van 3 maaltyd-opsies, 'n 500ml bier en ‘n bier- of ginproe, asook veilingregistrasie
Kinders (12 jaar en jonger): R100pp. 'n Keuse van 2 maaltye en 'n koeldrank
Geen individuele kaartjiebesprekings nie, besprekings word gemaak vir tafels van 4 of 8 individue
Beperkte spasie beskikbaar