"A happy family is but an earlier Heaven" - George Bernard Shaw
Hulle is onlangs as die wenners van die Potch Unplugged Kompetisie bekroon en met hulle passie vir musiek en liefde vir dít wat hulle doen, is Die Fam Band een besonderse groep musikante. Oor ‘n paar melkskommels, smoothies en koffies het ons lekker gesels en die individue agter die instrumente leer ken.
Ontmoet Die Fam
Die amptelike trio waaruit van Die Fam Band bestaan is Gerhard Botha, Angelique Botha en Sherilee Labuschagne (néé Botha). Wanneer hulle nie gehore bekoor met hul musiek en stemme nie, bevind Gerhard en Sherilee hulself by die kerk waar Sherilee voltyds werk en Gerhard tans besig is met sy Pastorale Internskap. Angelique is die jongste van die sibbe en is op die oomblik besig met haar Meestersgraad in Biokinetika. Die Fam Band is nie net beperk tot hulle drie nie, hulle het ‘n ouer suster en soms betrek Gerhard sy vroutjie of Sherilee deel die verhoog met haar man. “Die band is groter as die drie van ons, ons bring lig as ‘n familie.”
‘n Passie Gekweek
Hulle ouers het van kleintyd af ‘n liefde vir musiek en die kunste by hierdie sibbe gekweek. Gerhard onthou dat hy jare gelede ‘n video van Angelique gesien het waar sy as kleintjie viool speel terwyl hy bongo’s speel en hy onthou dat elke kind óf ‘n instrument gespeel óf gesing het. En soos boeties en sussies maar is, as een ‘n sekere instrument gespeel het, wou die ander een ook. Op hierdie wyse was hulle blootgestel aan ‘n verskeidenheid instrumente en kon elkeen sy en haar ‘spesialiteit’ vind. Angelique vertel nog ‘n staaltjie van hoe Sherilee op sewejarige ouderdom ‘n liedjie vir hul ma geskryf en gesing het waarin sy haar bedank vir die kos. Natuurlik was daar ook die geleentheid om deel te neem aan talentkompetisies of kunstefeeste terwyl hul op skool was en het hul hierdie geleenthede benut. “Na skool het die talentkompetisies en kunstefeeste in worship verander”, vertel Sherilee. “Dit is totaal en al anders, want jy sit nie ‘n ‘show’ op [tydens worship] nie.”
Hoe voel dit om die kompetisie as ‘n familie te wen?
“Dit is ‘n groot blessing”, het Sherilee genoem. Nie een van die drie het verwag om as die wenners van die Potch Unplugged Kompetisie weg te stap nie en hulle was totaal en al uit die veld geslaan. Angelique het in Januarie die kompetisie se advertensie gesien en ‘n klip in die bos gegooi vir Gerhard en Sherilee. Hulle het die kompetisie baie oopkop benader en het dit uit en uit as ‘n geleentheid gesien om blootstelling te kry terwyl hulle dit geniet. Groot was die verbasing toe hul na elke rondte deurgedring het en hulle het besef dat daar nou skouer aan die wiel gesit moet word. “Ons het onsself uitgedaag met hierdie kompetisie, veral omdat dit nie net agtergrond musiek is nie; mense luister intensioneel na jou.”
‘Balancing Act’
Elkeen van hierdie lede het ‘n vol lewe en moet tyd, werk, gesinne en die band balanseer - wat beide ‘n seën en ‘n uitdaging is. “Net omdat jy maklik kan harmoniseer, beteken nie jy hoef nie te oefen nie”, het Angelique laggend gesê. Gerhard het ook genoem dat “elkeen verantwoordelikheid moet neem vir hul bydrae.” Dit is duidelik dat hierdie trio oefening ernstig opneem - hetsy apart of saam.
Georganiseerde Chaos
Die vloei van hulle kreatiewe proses terwyl hul liedjies skryf en nuwe klank probeer maak, het al drie gelyktydig, laggend, in een woord opgesom: Chaoties. “Al die moontlike emosies wat in ‘n boek beskryf word, word gedurende daardie sessies gevoel”, het Angelique dit so goed as moontlik probeer beskryf. Sherilee was die voice of reason en het genoem dat hulle gewoonlik op die beginsel van voorstelle werk. Hulle kom met ‘n voorstel vorendag, toets dit en vra hulself af of dit werk. Indien dit nie werk nie, moet hulle probeer uitpluis hoekom nie en kyk dan na alternatiewe wat beter sal werk [vir hulle klank]. Alhoewel dit drie verskillende mense se idees of voorstelle is, is daar ‘n natuurlike vloei aan hul liedjies. Die voordeel wat hierdie groep het, is die vrymoedigheid wat daar bestaan om te sê wanneer een van hulle nie van ‘n sekere element of klank hou nie. Alhoewel daar verskillende fassette van die hele chaotiese proses is, kom hulle op die ou end van die dag in eenheid saam.
Musikale Inspirasie
Naas hulle familie is Jacques de Villiers, oftewel Joshua na die Reën, hul grootste musikale invloed. Hy is ‘n gunsteling vir hierdie drie juis omdat sy musiek skoon, mooi en musikaal uitstekend is. Daar is ook ‘n groot diversiteit in sy musiek en “daar is ‘n musikale excellence wat sy liedjies na ‘n ander vlak toe vat - sy musiek interesseer en inspireer jou.” Hy is ook een van die persone met wie hulle graag in die toekoms sal wil collaborate, asook Amerikaanse sanger-liedjieskrywer en multi-instrumentalis, Cody Fry.
Dis ‘tough’ daar buite
Met die eerste oogopslag kan jy sien dat hierdie drie mense ‘n aura om hulle het, elkeen loop met ‘n ander tipe selfvertroue en sodra jy met hulle begin gesels, weet jy presies van Wie daardie selfvertroue en aura kom. Om ‘n Christen te wees in die musiekbedryf is beslis ‘n uitdaging, want jou verhoog persona moet ooreenstem met die persoon wie jy in die werklikheid is. Jou musiek se boodskap en die lirieke moet ooreenstem met jou alledaagse lewe - jy moet outentiek wees. Laasgenoemde probeer hul tot die beste van hul vermoë nastreef, “ons wil hard werk om agter die skerms die Here [ook] te eer en nie net op die verhoog iets te sê [of voorstel] nie.” Met elke optrede wil hul excellence en hulle beste musikaliteit bring om eer aan die Here te bring met dít wat hulle doen en dít waarmee Hy hulle geseën het. “Ons wil God se Koninkryk bou deur dit wat ons doen en wie ons is.”
Finansies is die ander uitdaging wat hulle saam met so baie plaaslike musikante ervaar. Ongelukkig bied hierdie beroep of stokperdjie, hang af hoe jy daarna kyk, nie ‘n stabiele inkomste nie. Daar gaan baie tyd en moeite in die voorbereiding vir optredes in en dit is nie net ‘n uitdaging om daardie hoeveelheid tyd af te staan nie, maar ook om daardie moeite in rand waarde om te skakel.
Die Groter Doel
Wanneer mense na hulle musiek luister of wegstap na ‘n vertoning, is die doel om hulle met ‘n vriendeliker, ligter gemoed te laat. “Dit moet jou hart so bietjie lig”, het Gerhard genoem. Angelique is baie liriek-georiënteerd en dit is ook hoekom sy genoem het dat hulle musiek moet “mooi voel”, asook die gevoel wat hulle wil hê die gehoor moet ervaar. Sy is baie bewus van die lirieke en die inhoud van hulle musiek en soms is dit ernstige probleme wat aangespreek word, maar die wyse waarop dit oorgedra word is van so aard dat dit nie die luisteraar swaarmoedig of bittergallig laat nie. Hulle wil luisteraars herinner dat dit oukei is om nie heeltyd gelukkig te wees nie en wanneer die geleentheid homself bied, gebruik hul hierdie oomblikke en platform om mense te herinner dat daar lig, hoop en lewe is in die duisternis waarmee jy omring word. “Die [groter] doel sal altyd wees om Koninkryk te bou”, het Sherilee genoem.
Die Toekoms Wink
Individueel het hul elk hul eie aspirasies en toekomsplanne. Vir die band as geheel wil hulle graag meer musiek opneem, liedjies skryf en werk daarnatoe om teen die einde van die jaar ‘n speellys te hê met hul oorspronklike liedjies asook covers.
Enige advies vir aspirant kunstenaars
“Doen dit!”, het Gerhard met onmiddellike opwinding geantwoord. Alhoewel Sherilee dit beaam het, was sy weereens die voice of reason en het genoem dat ‘n mens dit net kan doen, ja, maar dat jy realisties moet wees en ‘n doel voor oë moet hê. As jy nie ‘n duidelike rede of doel het nie, is dit maklik om jou 'hoekom' te verloor en as kunstenaar moet jy jouself konstant herinner aan jou visie. Angelique het ook genoem dat jy as band saam moet besluit oor jou spesifieke klank wat julle met die wêreld wil deel. Daarby het sy gevoeg “bou ‘n verhouding met jou band, ken jou mense en vra julself aanhoudend of julle in eenheid is.”
Ons is almal geroep om ligdraers te wees en hiérdie trio maak van elke geleentheid gebruik om presies dit te wees. “Elke slot wat ons vul, is ‘n slot wat ons met lig kan vul.” Hou hierdie spasie dop - hierdie sibbe gaan nog hoë hoogtes bereik en ons is hier vir dit!
Johané van Dyk - Potchefstroom
__________________________________
Like, Follow, Share
Indien jy in kontak met Die Fam Band wil kom, hulle op sosiale media volg of hulle wil bespreek vir ‘n geleentheid, kyk gerus na hiérdie skakels om in verbinding te tree:
E-pos: die.fam.band@gmail.com