Met swetende, moeë lywe en asems wat jaag, stap die spelers van Potch Dorp Rugbyklub na ‘n Donderdag oefening van die veld af - maar die trots en megawatt-glimlagte kan nie misgekyk word nie. Hierdie spelers is gebore met ‘n rugbyhart.
‘n Ryk geskiedenis
Potch Dorp Rugbyklub is in 1890 gestig wat dit die tweede oudste rugbyklub in Noordwes maak en een van die vyf oudstes Noord van die Oranjerivier. Die heel eerste wedstryd (teen Klerksdorp) het agter die Potchefstroom Inligtingskantoor plaasgevind en die manne het met trots in hulle blou en maroen op die veld gedraf. Sedert daardie wedstryd, het dit ‘n jaarlikse instelling geword dat Potch Dorp teen Klerksdorp speel vir ‘n beker. Piet Jordaan, wat al vanaf 1986 by die klub betrokke is, het met trots vertel hoeveel groot geeste by die klub gespeel het. Spelers soos Eugene Hare, Don Berry, Wessel van der Merwe, DP Swart en voormalige Springbok, Flip van der Merwe, was almal óf oud Potch Dorp spelers óf het hul rugbyloopbaan by Potch Dorp afgesluit. “Die regte persoon om eintlik mee te praat oor die ryk geskiedenis van ons klub is Sakkie Raath, die President van Potch Dorp Rugbyklub. Hy kan vir jou stories vertel wat almal al vergeet het.”
Aan die stuur van sake
Drikus Viljoen is onlangs verkies as die nuwe Voorsitter van Potch Dorp Rugbyklub en is baie opgewonde oor hierdie jaar en nuwe seisoen, veral onder die leiding van nuwe hoofafrigter, Henry Stewart. “Alhoewel hy ‘n Vlak 3 afrigter is, is sy voete plat op die aarde”, het Drikus genoem.
Henry is self opgewonde oor die geleenthede wat Potch Dorp bied. Hy het as afrigter van die Pumas gedien en is die afgelope tien jaar betrokke by koshuisrugby by die NWU se Potchefstroom Kampus. Sy nuwe bloed bring nuwe motivering, nie net vir die bestuurslede nie, maar ook vir die spelers; hulle oefen harder en is meer gefokus vir die seisoen wat voorlê. As nuwe hoofafrigter het Henry ‘n missie en visie van waarheen hy die klub wil vat:
“Potch Dorp Rugbyklub streef daarna om 'n omgewing en geleentheid te skep waar spelers van alle vlakke hulself ten volle op die rugbyveld kan uitleef, met die doel om elke speler 'n positiewe leerervaring te bied waar hulle hul weeklikse verbetering kan waarneem. Die klub beklemtoon die belangrikheid dat elke speler tuis moet voel, met respek, integriteit, dissipline, en kameraderie as die kernfondamente. Daarbenewens poog die klub om kreatiewe en dinamiese rugby te speel, gebaseer op 'n sterk en soliede verdediging, verbeeldingryke aanvallende fases, en effektiewe samespel, terwyl spelers aangemoedig word om met vryheid en intensiteit binne die beplande strukture te speel.”
Piet Jordaan is sinoniem met Potch Dorp Rugbyklub, so lank is hy al hier. Hy ken baie staaltjies en stories oor die spelers en sy eie seun het ook vir die klub gespeel. Piet vertel dat dit ‘n groot eer was toe sy seun gedurende sy laaste wedstryd op die veld draf met dieselfde nommer waarmee Piet jare terug uitgedraf het. Hy het in 1986 begin speel en is steeds aktief betrokke by die klub waar hy as Sekretaris dien.
Die res van die bestuurspan word opgemaak deur Nieke Pullen (Onder-Voorsitter), Theron Jacobsen (Finansies), Jacques Gouws (Klub Bestuurder), Bolla van der Merwe (Old Boys en Ondersteuningsklub), Angelo Jacobs en Jackie Kriel (Vrouespan Afrigters), Rudolf Koekemoer (Klub Assistent Afrigter) en Ferdi Joubert (Tweedespan Assistent Afrigter).
Wat sê die spelers?
Ons het so bietjie met van die spelers gesels wat al ‘n geruime tyd deel is van hierdie rugbyklub. “Die klub raak soos ‘n familie en almal leer mekaar ken op ‘n persoonlike vlak. Klubrugby is harde rugby, maar dit is ‘n passie wat almal het en deel en dit verg opoffering”, het Jan Naude, wie al sedert 2022 deel is van die klub, genoem. Drikus het ook vir Jan afgerig toe hy slegs ‘n 14-jarige seun was en dit is ‘n riem onder die hart om nou saam met een van die ‘tjokkers’ te speel wie hy afgerig het. Wat vir Stefan Koekemoer (lid sedert 2022) uitstaan by die klub is die feit dat jy leer hoe om bande te vorm en jy leer om ‘hard’ te word “omdat jy teen ouer mans speel.”
Ruan Jansen van Vuuren speel al vanaf 2012 vir die klub en is steeds so passievol soos die eerste keer wat hy op die veld uitgedraf het. Hy noem ook dat die klub nie eksklusief vir rugbyspelers is nie, maar vir die hele familie. Voormalige 100m en 200m atleet, Victer Vlok, noem dat dit ‘n groot eer en trots is om vir jou dorp te speel. Franco van Niekerk en die res van die manne beaam die volgende: “Die hart van die rugbyklub is regtig die feit dat niemaand mekaar oordeel nie en daar is nie soveel druk nie. Wanneer jy aanjaag op die veld, word jy uitgetrap, maar na die tyd skud jy jou spanmaat se hand, gaan drink julle ietsie by die klubhuis en is alles weer reg.” Klubrugby dien ook as 'n platform vir diegene wie meer ernstig is en graag by groter klubs wil uitkom soos die Luiperds of Pumas.
"Jy het nie nét rugby in gemeen nie, jy leer hulle van die veld af ook ken. Ek koop my hoenders en eiers by Armand, Don verkoop tweedehandse karre en Marius doen lisensies.” Al hierdie spelers deel 'n liefde vir rugby, almal is daar vir ‘n goeie tyd en sommiges is al so lank by die klub dat hul al meer as 100 wedstryde gespeel het.
Potch Dorp Vroue - Watch this space
Onder afrigting van Angelo en Jackie, is die vrouespan voorwaar ‘n span om dop te hou. Vroue rugby doen uitstekend en groei teen ‘n fenomenale spoed. Potch Dorp se vrouespan spesifiek het soveel gegroei dat dit nou die top vroueklub in die area is. Drikus het genoem dat sy visie en missie is om die vrouens en mans as een span te sien. Wanneer mense aan Potch Dorp Rugbyklub dink, moet hulle outomaties aan beide spanne dink.
2024 en sy dinge
Dit is ‘n besige jaar vir die klub met toernooie en wedstryde wat omtrent elke naweek plaasvind. Dié datums is datums om te dagboek:
10 Februarie - Proewe by die klub
17 Februarie - Visagie-beker wedstryde
24 Februarie - Oefenkamp en Spanbou dag
Die publiek kan ook uitsien na die PVR Toernooi, Neser-beker, Klerksdorp Sevens en Junior Klub wedstryde.
Verder beoog hulle om verskillende fondsinsamelings en "lekker events" te hou om die publiek betrokke te kry.
Die gemeenskap kan uitsien na Kop-en-Stert Aand, Toks en Tjops kom kuier, Tour de Pub, ‘n potjiekos kompetisie met bekendes as beoordeelaars en veerpyltjie kompetisies.
Hou ons Events Calender dop om nie hierdie wedstryde en gebeure te mis nie.
Spelers en Borge - Die twee kritieke rolspelers
Die oorhoofse uitgawes het saam met Suid-Afrikaanse klubrugby gegroei en ongelukkig is die finansies nie altyd beskikbaar of bekombaar nie. Dit is hoekom dit so belangrik is vir besighede om betrokke te raak en regtig in te koop by plaaslike sportklubs. Finansies is nie noodwendig al wat geskenk hoef te word nie; toerusting, tyd, apparate, klere of enigiets anders is altyd en enige tyd welkom. Daar is ook 'n behoefte aan nog spelers om aan te sluit; "daar kan nooit te veel spelers wees nie", het Ferdi genoem. Almal is welkom om deel te raak van die klub, van 18-jariges tot 40-jariges. Potch Dorp nooi besighede en gemeenskapslede uit om betrokke en deel te raak van die rugbyklub, hetsy dit as speler, toeskouer of borg is.
Die goue draadjie
Die Potchefstroom gemeenskap is die goue draadjie wat geweef is deur elke gesprek wat ons met die spelers, bestuurders en afrigters gevoer het. En dít is die hart van die klub se rolspelers - om die gemeenskap betrokke te kry.
Indien jy of jou besigheid op enige manier kan en wil bydra tot die rugbyklub of meer inligting soek rakende oefentye of selfs hoe om deel te raak van die klub, kontak vir Drikus Viljoen by: 063 294 7599.
Johané van Dyk - Potchefstroom