Toe Potchefstroom onlangs aangekondig is as een van die finaliste in Kwêla se gewilde “Dorp van die Jaar”-kompetisie, het dit vinnig blykbaar geword dat ons dorp nie net mooi bome en geskiedenis het nie, maar ook menings met mening. Soos ’n byenês oopgemaak, het inwoners se reaksies oor sosiale media gerol, en dit was allesbehalwe stil of eentonig.

Een dorp. Twee wêrelde?
Vir sommige is dit ’n gulde geleentheid om die dorp op te hef, maar vir ander klink dit soos ’n slegte grap.
Soos een inwoner dit gestel het: Wat ‘n shi*t show. Wat is dit nou – die dorp met die meeste k*k wat in die strate afspoel en die gate vul?”, ’n Ander een, met ’n soort kreatiewe frustrasie, skryf: Kom maak 'n draai in Miederpark ná vyf in die aande, wanneer die reuk van ontbindende str*nt uit die vlei jou neus tref, in donker strate waar jy vis kan vang uit die damn slaggate…”. Maar, dis nie net gal en gif nie. Party probeer steeds bou aan hoop: Ek hou al jare die sypaadjie self skoon en as daar ‘n slaggat voor my huis is, maak ek hom reg… as ons almal saamwerk kan dit baie goed lyk.”
Dienslewering vs Drome
Die grootste teenstand teen die kompetisie het duidelik minder te doen met die idee van “wen” en meer met die werklikheid van Potch se daaglikse probleme. Die hoofklagtes sluit in:
Slaggate en sinkgate wat nie herstel word nie
Rou riool in erwe, strate en selfs in die Mooirivier
Gebrek aan straatligte, onveilige paaie en oorgroeide parke
Persepsie dat die munisipaliteit of raad nie luister of optree nie
Bewoording soos “Potholestroom”, “Shitrivier” en “Dump van die Jaar” kom herhaaldelik voor
Hier is paar van hulle:
Ek sit al meer as ʼn maand, amper twee, sonder lopende water. Die munisipaliteit steur hulle nie.”
Dis nie Potchefstroom nie, dis Potholestroom!”
“Ek moet my honde op die stoep hou sodat hulle nie in die riool beland nie.”
Maar wag – daar’s hoop… en humor
Temidde van die kritiek, het ook ’n nuwe vlam begin flikker. Inwoners begin vra:
“Wat as ons saamstaan en dit maak werk?”
"Ons moet reeds stem sodat ons die geld kan kry om self reg te maak, want die munisipaliteit gaan dit nie doen nie.”
"Die kompetisie gee ons die geleentheid om te wys wie wérklik omgee vir die dorp.”
“Kom ons gooi ons gewig in die projek en dan maak ons ‘n verskil.”
En dalk is dit juis in hierdie kombinasie van frustrasie én liefde vir die dorp waar die antwoord lê. Soos een inwoner met ‘n glimlag sê:
"Ek bly lekker hier, maar daar is ‘n kleinhuisie vol foute om reg te maak.”
Sentimentmeter: Hoe voel Potch regtig?
Op grond van die kommentare kan ons die gemeenskapsentiment so opsom:
😡 Negatief en gefrustreerd: ±70%
🤨 Skepties of vraende: ±15%
🌟 Positief en gemotiveerd om iets te doen: ±15%
Die meerderheid stem kla – en met goeie rede. Maar daar’s ook mense wat regtig glo hierdie kan ’n keerpunt wees.
Wie hanteer die geld?
Een van die groot vrae wat inwoners vra is: “As ons wen, waar gaan die geld heen?”
Teen publikasietyd het ons nog nie ’n amptelike reaksie van die Potchefstroom Sakekamer ontvang nie, maar dit is bevestig deur individue betrokke by die veldtog dat die fondse nie na die munisipaliteit gaan nie. Inteendeel, die Sakekamer sal (indien Potch wen) volgens bronne toesig hou oor die gebruik daarvan, met Kwêla wat streng finansiële beheer toepas.
Laat jou stem tel – letterlik!
Ten spyte van die kritiek is daar iets kragtigs aan hierdie oomblik. Dit herinner ons dat Potchefstroom nie nét sy probleme is nie. Dit is ook sy mense – en baie van hulle is gereed om te bou, te plant, te verf, en ja, te stem.
Stuur "Potchefstroom" na 33157 teen R1.50 per SMS. Jy mag tot 30 keer stem per nommer. Sluitingsdatum: Vrydag, 18 April 2025 om 12:00.
“As jy niks doen nie, kan niks verander nie.”