So bietjie agtergrond
Die Horsfall Milling Co., gestig in 1921 deur mnr. William Hinchliff Horsfall, het belangrike meule in Suid-Afrika, insluitend Potchefstroom, gevestig. Mnr. Sam Mottram het die Potchefstroom meule bestuur tot sy dood in 1939. Die Horsfall-gebou was een van die hoogste in Potchefstroom en het die weg gebaan vir verdere industriële ontwikkeling. Maalaktiwiteite het geëindig toe die South African Milling Company 'n groter meule in Klerksdorp opgerig en die Horsfall meule in 'n pakhuis verander het. Premier Milling het later die maatskappy oorgeneem en die "Snowflake"-gebou vir verspreiding gebruik tot 1996.
Onder nuwe eienaarskap
In 1997 het Albert Bothma, 'n sakeman en bierbrouer, die Snowflake-gebou gekoop en 'n bierbrouery, distilleerdery en verpakkingsaanleg daarin opgerig. Sy maatskappy, The Bourbon Street Brewing Company, het vinnig begin uitbrei, maar moes na drie jaar bedrywighede staak weens misdaad, insluitend 80 voertuigkapings en sewe gewapende rooftogte in 2003. Ondanks die trauma en gebrek aan ondersteuning, het Bothma by die Potchefstroomse Stadsraad aansoek gedoen om die gebou vir kommersiële en opvoedkundige doeleindes te gebruik. Die gebou word tans sporadies vir kunsuitstallings en privaat funksies gebruik.
‘n Saadjie geplant
Die idee om ‘n mark in Potchefstroom te begin, het posgevat terwyl Albert en sy vrou, Martie, by ‘n mark in die Kaap rondgeloop het. Ten spyte van die ekonomiese uitdagings, word daar elke eerste naweek van ‘n maand suksesvol 'n Snowflake Mark in die unieke industriële gebou gehou. Dit is tydens hierdie mark waar entrepreneurs, kunstenaars en die gemeenskap bymekaar kom om ‘n heerlike oggend van samesyn te geniet.
Wat bied hierdie goudmyn?
Die Pool Klub is een van die nuutste toevoegings by Snowflake en is baie populêr onder die plaaslike gemeenskap - tot almal se verbasing.
Daar is ook ‘n co-working space vir diegene wie uit die kantoor of huis wil kom en die aromas van Recharge Coffee Co. se koffie sal as genoeg motivering dien om elke week hier ‘n vergadering in te werk. Laasgenoemde is in 2020 deur Albert en Martie se oudste seun gestig en is sedertdien die ‘amptelike’ koffiewinkel van Snowflake.
Dit was ook tydens die COVID grendeltydperk wat Martie en haar gesin leer pizza maak het en nou is PizzAmoré ‘n voltydse restaurant gedurende die week met heerlike pizza specials op Maandae, Dinsdae en Donderdae.
As lid van die Kunste Vereeniging, het die kunste ‘n baie spesiale plek in Martie se hart en 2024 hou verskeie kuns werkswinkels in. Snowflake bied ‘n platform aan talle kunstenaars en hul werk word hier uitgestal en waardeer.
Dan is daar natuurlik die verskillende venues op die perseel vir enige geleentheid - van dinees tot kunsuitstallings, Bierfeeste tot troues en alles tussen-in.
Gemeenskapsprojekte en -betrokkenheid
Die Bothmas en hul span is hard besig om die brug by Snowflake en die omliggende area skoon te maak, waarna hulle die brug se grafitti toe sal verf en dan ‘n kruis op die skoon brug verf. Dít sal as ‘n Prayer Circle bymekaarkom-punt gebruik word en sal ook deel vorm van die Time2Rise beweging.
Snowflake dien ook as gasheer vir verskeie geleenthede wat deur die Dienssentrum, Round Table en NG Welsyn aangebied word en bly op só ‘n wyse betrokke in die gemeenskap.
Gebeure in 2024
Snowflake se dagboek is omtrent propvol met geleenthede vir hierdie jaar. Daar is natuurlik die maandelikse Snowflake Mark en dan skop die Woensdae Sokkie Aande in alle erns af die 21ste Februarie; daar sal heerlike pizza en hamburgers te koop wees tydens hierdie aande. Ander groot name kom ook hierdie jaar by Snowflake kuier, onderandere Spoegwolf, Zaan Sonnekus en Droomsindroom. Maak seker om ons Events Calendar dop te hou om nie hierdie en vele ander vertonings mis te loop nie.
Wat hou die toekoms in?
Daar is nog báie spasie en potensiaal vir uitbreiding in hiérdie gebou. Daar is nog store wat ingerig kan word en ‘n tweede verdieping wat byvoorbeeld as dans studio kan dien. Martie het ook genoem dat hulle graag meer geleenthede sal wil aanbied gedurende die week. Daar is verdere sprake van nog opwindende projekte wat in die pyplyn is en waarna die Potchefstroom gemeenskap kan uitsien.
Die volgende Bybelvers het oor die jare as motivering gedien vir Martie en bemoedig wanneer dinge moeilik gaan: And let the [gracious] favour of the Lord our God be on us; Confirm for us the work of our hands— Yes, confirm the work of our hands. - Psalm 90:17 (AMP). Ons, as die Potchefstroom gemeenskap, weet sommer dat hulle handewerk nog baie geseën gaan wees in die jare wat voorlê en ons sien uit na dít wat hulle hier gaan verrig.
“Dit moet ‘n plek wees waar al jou sintuie geprikkel word”, het Martie genoem. Met alles wat Snowflake bied, glo ons dit is beslis die geval.
Johané van Dyk - Potchefstroom