Toe sy in 2019 as Maatskaplike Werker by Abraham Kriel Kinderhuis begin het, sou Caro Schoen nooit kon dink dat sy in ‘n hele ander wentelbaan geplaas sou word nie.
Caro het as Maatskaplike Werker by Abraham Kriel begin en soos haar selfvertroue en bydrae gegroei het, het sy haar soms in ‘n ander poel bevind. ‘n Jaar en ‘n half gelede het sy die Borg ‘n Kind Projek oorgeneem en sy is tans in die oorgangsfase tussen Maatskaplike Werker en fondsinsameling wat hand aan hand met bemarking gaan.
Borg ‘n Kind proses
Daar is twee maniere waarop die Borg ‘n Kind projek benader word. Die eerste is sekerlik die gewildste manier - tydens die Liggiefees wat elke Desember plaasvind, besoek lede van die gemeenskap die inligtingshoekie en Borg ‘n Kind ‘stasie’ by Caro. Dit is hiér waar individue ‘n kind met die hand kan uitsoek op die fotobord (een met wie hulle ‘n konneksie voel). Wanneer die spesifieke kind gekies is, vul hul die nodige vorm in en die proses begin.
Die tweede manier is wanneer iemand besluit om gedurende die jaar ‘n kind te borg. Hierdie individue of besighede reik dan uit na Caro via e-pos en hulle kan ‘spesifiseer’ wie hulle graag wil borg en sy stuur ‘n lys opsies deur saam met die debietorder vorm. Die finansies word verkry via die einste debietorder wat maandeliks afgetrek word by die ‘borgouers’; die minimum wat ‘n persoon kan borg, is R250 per maand. Indien hul dit versoek, word ‘n Artikel 18A Sertifikaat uitgereik vir belasting doeleindes.
Die ekstra myl
Dan is daar natuurlik dié borge wat die ekstra myl stap vir die kinders. Caro vertel van ‘n vrou wat al twee jaar lank ‘n seun borg en dié seun het vanjaar met hoërskool begin; sy het vir hom al sy skryfbehoeftes gekoop en geld oorbetaal vir sy skoolklere. Ander borge koop weer verjaarsdag en Kersgeskenke en laat dit aflewer by die kinderhuis. Borge word ook deurentyd op hoogte gehou en kry gereeld e-posse vanaf Caro oor hoe dit met ‘hulle’ kind gaan; veral met die eerste dag van skool, wat hulle doelwitte vir die jaar is ensovoorts. Op so ‘n wyse is daar ‘n gesiggie agter die borg. Alhoewel daar ‘n mate van ‘n band tussen die kind en sy of haar borg vorm, is hierdie projek heeltemal anoniem en kontakloos om privaatheid vir beide partye te beskerm.
Daar is altyd ‘n kind wat ‘n borg nodig het
Daar is ook borge wat al járe lank ‘n maandelikse bydrae lewer en baie kinders op hierdie manier met so bietjie ekstra seën. Dit is juis hierdie gedrag wat die bestuur wil motiveer by die gemeenskap - indien jou borg die kinderhuis verlaat na skool, moenie die borgskap onttrek nie, skuif dit net na ‘n ander kind toe, want “daar is altyd ‘n kind wat ‘n borg nodig het.”
Sukses stories
‘n Mens sien nie noodwendig ‘n verskil in elke geval nie, maar dis daardie één sukses storie wat jou hoop opnuut laat vlamvat. Alhoewel die meeste sukses stories vanuit die Vakansie Vriend Projek kom, vertel Caro dat daar ‘n voormalige Abraham Kriel inwoner is wat ‘n Suid-Afrikaanse atleet is. Hy is tans op universitiet en het ‘n geleentheid gekry om by Oklahoma University in die Verenigde State van Amerika te gaan studeer. Hierdie einste seun het geen eksterne betrokkenheid van sy familie nie, “hy het eenvoudig gesê [en besluit] dat hy bo sy omstandighede gaan styg.”
Wat motiveer en inspireer julle daagliks?
“Om te weet jy maak ‘n verskil in die kinders se lewens.” As die kinderhuis en sy personeel nie daar was nie, sou die kinders in baie slegte omstandighede moes bly of nêrens gehad het om heen te gaan nie. Aan die anderkant van die muntstuk, as die kinders nie daar was nie, sou die kinderhuis nie bestaan het nie en die personeel nie werk gehad het nie. “Ons doen dit omdat ons dit wil doen.” Al die personeel se harte is vír die kinders.
Grootste uitdaging
Haar grootste, persoonlike uitdaging is om haar voete te vind in haar nuwe rol, ‘n tipe middeweg tussen die twee. Daar wag nog opleiding in fondsinsameling en bemarking voor en die grootste hekkie waaroor die kinderhuis as geheel wil kom, is om ‘n goeie verhouding met die gemeenskap te bou. ‘n Addisionele uitdaging is dat borge hul debietorders kanselleer soos die ekonomiese toestand vererger.
Abraham Kriel in 2029
Caro is baie optimisties en wil graag sien dat Abraham Kriel oor vyf jaar die titel van ‘Grootste Liggiefees’ dra. Die kinderhuis in geheel wil op ‘n plek kom waar dit altyd baie goed gaan met die kinders, waar hulle kan groei en ontwikkel soos nog nooit tevore nie en hulle (as personeel) wil altyd net beter vir hierdie kinders kan bied én wees. Een van die doelwitte is dat wanneer die kinders die kinderhuis verlaat, hulle bydraende lede van die gemeenskap en samelewing is.
Fondsinsamelings regdeur die jaar
Alhoewel daar deur die loop van die jaar donasies en verskeie skenkings ontvang word, is daar tog ‘groot’ fondsinsamelingsprojekte wat op Abraham Kriel se kalender gemerk is. Die eerste projek is die Gholfdag wat alreeds die 15de Maart by die Potchefstroom Buiteklub plaasvind en natuurlik die jaarlikse Liggiefees tydens Desember. Alle en enige skenkings of borge is enige tyd welkom, hetsy dit kos, klere, skryfbehoeftes, finansies of mediese bydraes is.
Hoe meet julle julle sukses?
Hierdie was ‘n vraag wat haar so bietjie laat dink het en na so rukkie het sy genoem dat hul die sukses van die kinderhuis meet aan die geluk van die kinders. “As hulle gelukkig kan wees en gelukkig hier kan uitstap, is elke kind ‘n sukses storie.”
Om ‘n verhouding met die gemeenskap te vorm, bou en versterk is een van 2024 se doelwitte en dít kan net gebeur wanneer die verhouding wedersyds is. Dit is hoekom Abraham Kriel die publiek uitnooi om by hulle te kom kuier* deur die loop van die jaar en nie net tydens die Liggiefees nie.
*Besoeke is slegs beskikbaar per afspraak
Johané van Dyk - Potchefstroom
__________________________________
Indien jy betrokke wil raak by die Borg 'n Kind Projek, kontak gerus vir Caro by: maatskaplik2@akpotch.co.za
Hou ons Events Kalender dop vir nog geleenthede en gebeure wat deur Abraham Kriel Kinderhuis gereël word.