"Die kinders het my die hele pad gemotiveer."
Vrydagoggend, 4 Oktober 2024, het Max Williamson saam met ‘n paar van sy vriende om 03h00 in die kar geklim en die pad aangedurf Parys toe en omstreeks 03h45 het sy verder-as-’n-marathon amptelik begin. In die stikdonker het Max die stewige 54km begin om fondse in te samel vir Abraham Kriel Kinderhuis Potchefstroom.
Met ondersteuning van vriende en vreemdelinge, het Max kilometer vir kilometer afgelê. Met sy aankoms by Abraham Kriel Kinderhuis, het ‘n gejuig hom ingewag, ballonne het gewapper en Super Max het in die agtergrond gespeel. Dit was ‘n emosioneel belaaide Max wat by die kinderhuis se gronde aangekom het en onder die applous van personeel en kinders kon hy eindelik uiting aan sy emosies gee. Hy het slegs die eerste tien kilometer alleen gehardloop, die res van die pad was daar die heeltyd iemand wat hom vergesel en motiveer het.
Terwyl hy na 'n potgooi geluister het, het daar 'n kragtige aanhaling hom getref en as verdere motivering gedien "If it doesn't make a difference in someone's life, why are you living?"
Meneer Christie Saayman, Hoof van Abraham Kriel Kinderhuis, het ook vir Max gewag en hom hartlik geluk gewens na die tyd en sy dankbaarheid, vanaf beide hom én die kinders, uitgedruk. Met hierdie fondsinsameling het Max ‘n hele paar rand ingesamel vir die kinderhuis (wat later bevestig sal word). Hy het genoem dat hy 'n marathon aan die einde van die maand het, maar spottend bygevoeg dat hy dink nie hy gaan aan dáárdie wedloop deelneem nie.
“Die kinders het my die hele pad gemotiveer”, het hy tydens sy onderhoud na die tyd genoem. “Ek het nie te veel daaroor gedink nie, ek het geweet ek kan dit doen en geweet dit is vir 'n goeie doel." ‘n Spesiale dankie gaan aan NBD Crossfit, waar Max 'n lid is, en ook aan Rocomamas wat hom met ‘n hamburger, skyfies en ‘n lekker pienk melkskommel na die uitmergelende afstand bederf het. Hy het ook sy waardering teenoor sy vriende uitgedruk en dit is duidelik dat hulle ‘n groot deel van sy ondersteuningsraamwerk uitmaak. "Almal wat vir my gebid het, het my ook definitief deurgedruk."
Van die hele Potchefstroom gemeenskap se kant af, wil ons bitter baie dankie sê aan Max vir sy onbaatsugtige opoffering; dit gaan beslis nie ongesiens verby nie.
Die oomblik toe Max by Abraham Kriel se hekke inhardloop
Johané van Dyk - Potchefstroom