Dit was weer 'n stryd vir die eeue die afgelope naweek toe Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool kragte gemeet het vir nog ‘n Classic Clash.
Hop, hop spinnekop, die bal het in die gat gehop!
Die onderskeidelike eerste spanne van Gimnasium (hokkie, rugby en netbal) het almal weghol oorwinnings ingepalm teen Volkskool. Spoed en stamina was aan die orde van die dag en op Vrydag, 17 Mei, het besoekers, ouers en ondersteuners na Volkskool se gronde gestroom om die netbalspanne te ondersteun. Honderde ondersteuners het die netbalbaan omring en luidkeels hul spanne aangemoedig - no pressure. Gimmies het koelkop gebly onder die druk en tuisgrondvoordeel om voetfoute en hantering minimaal te hou tydens hul wedstryd en het met ‘n baie indrukwekkende telling van 36-15 geseëvier.
'n Hoekie is 'n goal!
Na die netbal, het die konvooi na die NWU se astrobane beweeg om die hokkiespanne aan te moedig en ondersteun. Die seuns en dogters se hokkiespanne het die blou en wit hoog gehou en het 3-0 en 4-0 onderskeidelik gewen. Ouers, Alumni en leerders het die koue trotseer en die skole tot die einde toe ondersteun. ‘n Spesiale seremonie, waartydens die spanne aangekondig is, was besonders en die spanne was deur ‘n harde applous verwelkom.
Gebore met 'n rugbyhart
Saterdag het nog méér voete gesien tydens die rugby en ouers en ondersteuners het al van vroegoggend af by Volkskool se hekke tougestaan. Die hoogtepunt van die dag was beslis toe beide skole se eerste span rugbyspelers op die veld draf onder die harde gejuig van die skare. Krete was geskree, vlaggies was gewaai en elke nou en dan het die blou en rooi ‘vlagmanne’ van beide skole om die veld gehardloop. Die eerste helfte was naelbyt rugby en met halftyd was die telling 6-10 in Gimmies se guns. Beide spanne se afrigters het hard gepraat en dit was Gimmies se spelers wie met hernude passie en entoesiasme die veld betree het. Die tweede helfte het klipharde duikslae gesien en Gimmies het ‘n hele paar keer agter die doelpale gaan kuier, maar Volkies het nie een keer gaan lê nie. Die telbord het 30-13 gelees met die eindfluitjie en Gimmies se leerders het soos een man op die veld gehardloop om die oorwinning saam met die span te vier.
Die Classic Clash sien jaar na jaar uitnemende spangees en sportmanskap tussen die leerders, ouers, onderwysers en ondersteuners. Die atmosfeer is altyd elektries en vriendelik en op die ou end van die dag is die liefde vir die sport(e) die dryfkrag agter hierdie kragmetings en kan die spelers en afrigters saamkom om in die oorheersende passie te deel.
Ons, as die Potchefstroom gemeenskap, wil graag Hoër Volkskool bedank vir die moeite en reëlings wat in die beplanning gegaan het - julle was besonderse gashere. Wel gedaan aan Potchefstroom Gimnasium met julle oorwinnings om vanjaar se titel in die sakkie te steek! Ons sien alreeds uit na volgende jaar se Gimmie-Volkie Classic Clash.
Johané van Dyk - Potchefstroom
_________________________________
Nog foto's van die eerste spanne tydens die Gimmie-Volkie Classic Clash