Met elke wedstryd wat op hierdie baan gespeel word, sal Juffrou Marisca Badenhorst se menswees onthou en gevier word.
Van grondbreek tot amptelike opening
In Meimaand was dit die amptelike grondbreek seremonie by Hoër Volkskool Potchefstroom wat die begin van die astrobaan-projek aangedui het - ‘n droom wat Juffrou Marisca Badenhort al vir vyf jaar lank in haar hart gedra het en sy het die voorreg gehad om die begin van hierdie droom te sien verwesenlik. Ongelukkig kon sy nie die voltooide projek aanskou nie, weens haar afsterwe vroeër vanjaar.
Die droom sprei eindelik sy arendsvlerke
Op Vrydag, 11 Oktober 2024, het hierdie droom sy arendsvlerke gesprei. Die astrobaan is amptelik geopen en die hele Volkie-familie was daar om hierdie spesiale geleentheid te vier. Die leerlinge het ‘n kranslegging gehou ter nagedagtenis aan Juffrou Marisca. Daar was toesprake vanaf Meneer Swart, Juffrou Pieters, Meneer Hammond en Beheerligaam lid, Willie van den Heever. Daarna het die seremonie plaasgevind en Menere Gerhard Swart en Jaryd Hammond het die lint geknip, wat die amptelike opening van die astrobaan aangedui het. Die skoollied is gesing, waarna ‘n harde applous ontstaan het ter viering van hierdie jarelange droom.
'n Spesiale dankie gaan aan die gemeenskap
Meneer Hammond het na die tyd gesê: “Dit gaan ons na hoër hoogtes neem; dit is van kardinale belang dat ons op oppervlaktes soos dié begin speel. " Juffrou Welma Pieters het bogenoemde beaam deur te noem dat niemand eintlik meer op grasbane speel nie. “Ons ouers en komitee was almal wonderlik en ons is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning wat ons van hulle, sowel as die gemeenskap, ontvang het", het Meneer Hammond afgesluit.
Oop harte en hande
“Dit is maar ‘n emosionele dag vir ons en dit is regtig ‘n voorreg om vandag hier te staan”, het Juffrou Pieters genoem. Toe daar gevra is oor hoe die hele proses verloop het, het Juffrou Pieters gesê “hoe nader ons aan die tyd gekom het [dat die astro voltooi en onthul moet word], hoe meer het die gemeenskap hulle harte en hande vir ons oopgemaak.” Hierdie is sekerlik een van die projekte wat die Potchefstroom gemeenskap se hartsnare die meeste geroer het en van daar die baie ondersteuning. “Ons weet sommer Volkies hokkie gaan van krag tot krag gaan”, het Juffrou Pieters verder genoem.
Sy het afgesluit met vyf kragtige woorde wat hierdie astrobaan se droom in ‘n realiteit verander het: Moet nooit ophou droom nie! Met elke wedstryd wat op hierdie baan gespeel word, sal Juffrou Marisca Badenhorst se menswees onthou en gevier word.
Johané van Dyk - Potchefstroom
__________________________________