Oor die jare was daar al soveel stories oor Potchefstroom Dam. Wat eens as trekpleister vir studente en inwoners van die Potchefstroom gemeenskap gedien het, is deesdae vervalle, vol rommel en daar is ‘n (ou) vigilante wat studente met sy knopkierie jaag wanneer hul ‘n sekere area van die dam se perseel betree.
Die Potch Gazette stel ondersoek in
Vir diegene wie wel braaf genoeg is om teen alle kanse ons dorp se dam te besoek, is dit óf ‘n kolskoot óf heeltemal mis. Die plasings op sosiale media ontlok ook gemengde gevoelens en reaksies by die gemeenskap. Op een plasing blink die skoon swembad en so paar plasings later, is daar ‘n foto van die onooglike badkamer fasiliteite. Ons het self gaan ondersoek instel en die bevindinge en gewaarwordinge, soos op 10 Februarie 2024, is as volg:
Ingangsfooi en dagbesoekers
‘n Fooi van R133 word vir twee persone en ‘n voertuig gehef en gelukkig is daar kaartfasiliteite vir besoekers wat nie kontant byderhand het nie. Die personeel is nou nie oorstelp om nuwe besoekers te verwelkom nie, maar is ook nie ongeskik nie. So, dit was minstens ‘n goeie begin aan ons besoek. Heelwat families en gesinne het die sonskyn tot hul voordeel gebruik en dam toe gegaan om die dag daar deur te bring. Daar was bote op die water, ‘n hele paar mense wat vis gevang het en langs die rivier uitgespan het.
Hope potensiaal opgesluit
Daar is só baie potensiaal vir hierdie vakansieoord, maar ongelukkig word die gronde nie ordentelik onderhou nie deur die JB Marks Munisipaliteit nie. Daar is wel redelik asblikke regoor die terrein, maar die rommel lê langs die asblikke, die gras kom omtrent tot by jou knieë, die Plesierboot se kantoor is permanent gesluit en die trapbootjies dobber net op die water rond. Die chalets en rondawels lyk op die oog af of dit goed instand gehou word, alhoewel daar ‘n paar stukkende blinders in een eenheid was (wat ons van buite af kon sien).
Uit op 'n leeujag
Een sosiale media plasing op 16 Desember 2023, het wel bevestig dat die veiligheidshekke van die rondawels nie gesluit is nie en dat dit blyk of daar plakkers in dié huisies bly. Alhoewel die meerderheid van die klimrame in die parkie nie gebreek is nie, is daar ‘n paar swaaie wat wel stukkend is en ook hiér is die gras hopeloos te lank. My oupa sou gesê het ‘n mens kan gaan leeus jag in dié lang gras. Daar is (natuurlik) ‘n paar slaggate op pad na die dam toe en op die gronde self. Die groot saal waar daar menige dinees en geleenthede gehou was, staan ook toe en daar is palisades wat ‘n mens verhoed om na die klein eiland te gaan. Die kleiner rondawels, wat reg aan die begin van die gronde sit, kan beslis opgeknap word en weereens, die gras moet gesny word.
Badkamer fasiliteite - iets uit ‘n gruwelfilm
Hiérdie is die groot kopseer, oogseer en sommer maagpyn ook van Potch Dam. Dit hang ook af watter ablusieblokke jy gebruik. Die badkamer wat ons (die Potch Gazette) betree het, was die naaste aan die familie eenhede en was verbasend in ‘n bruikbare toestand; ek het myself vir die absoluut ergste voorberei. Alhoewel die toilette se water bly loop het en sommige van die toiletbakke nie ‘n deksel gehad het nie, kon ‘n mens nog die fasiliteite gebruik tot ‘n mate. Dieselfde aand het Lorraine van der Merwe ‘n plasing op sosiale media gemaak om te vra wie sy kan kontak in verband met die haglike toestand van die badkamers by Potch Dam. Ons het na haar toe uitgereik en gevra of sy vir ons foto’s sal stuur, juis omdat ons dieselfde middag daar was. “My familie het deurgekom vir die dag en wou daarheen gaan want die advertensies lyk goed. Tot ons dit gesien het. Ons wou Tanglewood toe gaan, maar Potch Dam is naby aan my huis so dit was baie gerieflik.” Wat ook verstommend was, was dat haar broer ingang moes betaal, maar sy was net deurgelaat. “Daar is niks goed aan die plek nie. Dis afgryslik. Ek onthou die goeie dae. Dis wanneer laas ek daar was”, vertel sy ontsteld.
Potch Dam - óf ‘n kolskoot óf heeltemal mis
Alhoewel dit nou nie die duurste ingangsfooie is nie, kan 'n mens nie help om te wonder waarheen daardie fondse gaan nie; want dit is duidelik dat dit nie vir instandhouding gebruik word nie. Die munisipaliteit sal hul sokkies moet optrek voordat Potch Dam en die fasiliteite in 'n (erger) hool verander. Sal ek die dag daar deurbring? In sekere areas, heel moontlik. Sal ek daar oorslaap? Geensins. Sal ek die dam aanbeveel vir enigiemand? Waarskynlik nie. Is daar potensiaal? Hope en hope. Potchefstroom Dam is óf ‘n kolskoot óf heeltemal mis; die bal is in die JB Marks Munisipaliteit se baan.
Potchefstroom - Johané van Dyk