Met haar krulhare en sigeuner voorkoms, kan ‘n mens hiérdie kunstenaar nie juis miskyk nie. Jonel Scholtz sê ‘n ding soos hy is - what you see is what you get. Nes sy, is haar kuns onopgesmuk en kom haar talent en boodskap so helder soos daglig na vore.
Waar alles begin het
Die reis na professionele kuns kan onvoorspelbaar wees en vir sommiges begin dit sonder 'n spesifieke bron van inspirasie of ‘a-ha oomblik’. "Ek het net geweet ek sal nooit gelukkig wees as ek nie kuns doen nie," deel Jonel, wie deur die werk van die Amerikaanse kunstenaar, Burton Silverman geïnspireer is. Ure se verdieping in Silverman se boeke het 'n blywende indruk gelaat en 'n sielvolle benadering tot haar eie kuns geïnspireer.
Kreatiwiteit en Jonel se proses
Kunswerk begin dikwels met 'n impuls en vir Jonel wissel dit afhangende van die projekte wat sy hanteer. “Ek het nie altyd die luuksheid om te kan verf wat ek wil nie, juis omdat ek baie besig is met kommissies.” Wanneer sy nie besig is met haar kommissie werke nie, fokus sy op die uitbeelding van groot, persoonlike gesigte, wat 'n varsheid bring na 'n genre wat dikwels as onpersoonlik beskou word. "Ek sal 'n gesig soek wat my prikkel en dan improviseer totdat die gesig [eindelik] vir my werk," verduidelik sy. Die grootste uitdaging met hierdie gesigte is om dit anders te maak as dié van ander kunstenaars. Rugby, musiek, en dokumentêre reekse bied die agtergrond wat haar help om in die kreatiewe 'zone' te kom. Wanneer iets haar ‘raak’ of die lig en donker kontras staan uit, sal sy dit gebruik as wegspringplek vir ‘n skildery, “maar niks eindig ooit op soos dit in my kop was aan die begin nie”, vertel sy laggend.
Unieke uitkyke op die lewe
Een van Jonel se grootste uitdagings was 'n weergawe van die Laaste Avondmaal, waar uitdaging en verveling hand aan hand gegaan het. Nietemin, sy het geleer om deur te druk, selfs wanneer inspirasie laag is en vind dat die harde werk uiteindelik tot kreatiwiteit lei. "Jy werk net, dit is al wat jou daardeur dra," verklap sy. Kunstenaars sien en ervaar die lewe anders as die res van ons - hulle floreer wanneer dinge moeilik gaan. “As jy worstel met ‘n ding, maak dit vir goeie creative juices. Kreatiewe blocks kom maar as jy stoei met iets wat jou siel krap; jy moet daardie gekrap gebruik om jou pot te stir en al [daardie emosie] in jou canvas inwerk.”
Dis ‘n 'tawwe' loopbaan
Die lewe van ‘n voltydse kunstenaar is ‘n moeilike een en sit nie in elke ou se verfkwas nie. Jonel noem dat deursettingsvermoë seker die belangrikste eienskap is wat enige kunstenaar moet hê. “Jy sal net weet of jy ‘n kunstenaar gaan wees as jy meer as tien jaar lank dit reeds doen en steeds wil aanhou.” Beslis ‘n beroep vir die long run. Die besigheidskant van kunstenaar wees—veral bemarking en verkope—vereis 'n strategiese benadering. "Jy moet meer bemark as wat jy enigsins kan imagine," beklemtoon sy. Sosiale media bied 'n platform, maar dit bring ook uitdagings met die kwaliteit van werk wat gepubliseer word. Kunstenaars ontbloot hulself alreeds deur hulle kuns met die wêreld te deel, maar jy moet jouself gedurig bemark, Instagram Reels maak en pryse markverwant hou. “Ons moet elke geleentheid aangryp en jouself so ‘opdring’ dat dit naderhand soos sonde voel.”
Dan is daar natuurlik Jan Alleman op straat wat ook sy of haar ‘kuns’ verkoop - iets wat Jonel witwarm onder die kraag maak. “Die publiek moet geskool word op goeie kuns en [leer] hoe om die koring van die kaf te skei”, noem sy. Verder noem sy dat die suksesvolste kunstenaar nie dié een is wie die sterkste finansieel is nie, maar wel die een wie die beste kan bemark en wie se kuns deur die publiek verstaan word. Op die ou end gaan dit oor die publiek wat inkoop in die kunstenaar se visie.
'n Persoonlike gunsteling
Jonel se gunstelingstuk is 'n portret van haar dogter, getiteld "The Seeker", geskilder gedurende 'n moeilike tydperk in hul lewens. Die werk verteenwoordig hul gesamentlike soeke en oorlewing. Terwyl sy oor hierdie stuk praat, is dit amper asof daar ‘n sluier oor haar gesig getrek word en skielik is sy weer daar in haar studio, besig om haar dogter te skilder. “Ons het vir lank gesoek in daardie tyd, ek dink partykeer soek ons nog steeds.”
“It takes as much energy to wish as it does to plan.”
Sy beplan verskeie uitstallings en is betrokke by projekte wat strek van Potchefstroom tot Hermanus. Die toekoms is onseker, maar sy is toegewyd om haar kuns en visie voort te sit, ongeag die uitdagings wat voorlê. Hou ons Events Calendar dop om die uitstallings nie te mis nie.
Kunste en die gemeenskap
Kuns alleen kan nie maatskaplike verandering dryf nie; dit vereis 'n kollektiewe menslike poging. Tog speel plaaslike kunstenaars 'n belangrike rol in die kulturele landskap, veral in tye van nood, waar kunstenaar en gemeenskap saam 'n verenigde front vorm.
Volg haar op sosiale media
Om meer van Jonel se werke te sien, volg haar op Facebook, Instagram of besoek haar webtuiste. Beter nog, loer in by haar studio in 169 Beyers Naude om die kunswerke in persoon te waardeer.
Ons sien uit na nog meer meesterstukke wat uit Jonel se verfkwas gaan kom en kan nie wag om dié werke op canvas te sien en waardeer nie.
Johané van Dyk - Potchefstroom