Sy het harte gesteel as die kopskud-sanger en liedjieskrywer van Die Kontrak se tweede seisoen, en in 2023 het sy groot opslae gemaak met haar debuutsnit “#23”, wat landwyd op radiostasies gehoor is. Nou maak Lisie Basson weer golwe met haar tweede enkelsnit, “Klaar Geweet”.
Lisie se Prestasie en Inspirasie
Lisie se debuutsnit, “#23”, is onlangs benoem vir ’n Aitsa Afrikaanse Musiektoekenning in die kategorie Alternatiewe/Rock Liedjie van die Jaar. “Dit het my so baie inspirasie gegee en my só aangemoedig om meer te skryf en net te groei as ’n kunstenaar,” sê Lisie. Hierdie prestasie het haar die selfvertroue gegee om voort te gaan met haar kreatiewe reis, wat gelei het tot haar jongste uitreiking.
Lisie se Prestasie en Inspirasie
Die inspirasie vir “Klaar Geweet” spruit uit die begin van ’n verhouding, wanneer jy net weet dat daardie persoon ’n groot rol in jou lewe gaan speel. “Ek het iets probeer skep wat mense se aandag dadelik trek en waarop jy sommer dadelik wil begin dans,” verduidelik Lisie oor die liedjie, wat sy saam met die talentvolle jong liedjieskrywer, Bella Coleske, geskryf het.
’n Lig en Dansbare Gevoel
Sy hoop dat die liedjie dieselfde ligte gevoel by luisteraars sal wek as wat musiek vir haar gee. “Vlinders in jou maag van ’n liedjie is régtig ’n ding. Al gee hierdie liedjie net vir een mens daardie gevoel, sal ek gelukkig wees,” sê Lisie. Saam met die liedjie word haar heel eerste musiekvideo ook uitgereik.
Die Eerste Musiekvideo
“Ja, dit is my heel eerste musiekvideo en beslis nie my laaste nie,” sê Lisie selfversekerd. Sy beskryf dit as een van die grootste voorregte wat ’n kunstenaar kan hê om 'n liedjie met ’n musiekvideo uit te reik. “Deesdae word dit nie sommer gedoen op die vlak wat hierdie musiekvideo gedoen is nie.”
’n Intieme Blik op Lisie Basson
Die musiekvideo, verfilm deur die bekroonde Eric T Graham en Tehan Buys, gee ’n intieme blik op wie Lisie Basson is. “Die hele idee van die musiekvideo was om mense te wys wie ek as kunstenaar is. Ek ken vir Georic Lomas al van die dae af toe ek altyd by kuiergeleenthede musiek gemaak het, en hy het destyds al gesien hoe ek in aksie lyk. Hy het voorgestel dat ons dit in die video wys—dat mense sien wie Lisie Basson regtig is.”
Lisie se Visie vir die Toekoms
Lisie besin ook oor haar deelname aan Die Kontrak en hoe dit haar musiekreis gevorm het. Sy erken dat dit aanvanklik ’n moeilike tyd was toe sy in die top-4 uitgeval het, maar vandag besef sy dat dit haar op die regte pad geplaas het.
“Ek het nie daardie tyd geweet wie Lisie Basson is nie, maar nou weet ek. Ek is gereed om die musiekbedryf aan te pak met die wete dat God ’n groter plan vir my gehad het.” Met 2025 om die draai, is Lisie se planne duidelik: “Skryf, skryf, skryf en soveel musiek as moontlik bymekaar sit om te kan begin uitreik,” sê sy met opgewondenheid.
Lisie Basson - Klaar Geweet
Indien jy ’n radio-onderhoud met Lisie Basson wil doen oor die liedjie is jy meer as welkom om vir Tanya te kontak by tanya.smith@coleskeartists.co.za of 082 323 4949.