Die Afrikaanse sanger Ruhan du Toit het die geliefde FAK-liedjie deur Rozanne Botha, Kan ’n Man Dan Nie afgestof en nuwe lewe ingeblaas met sy weergawe, getiteld Kan ’n Man.

Dié liedjie, wat oorspronklik uit die FAK-skatkis kom, het ’n vars klank gekry met nuwe lirieke geskryf deur Marco van Deventer en Georic Lomas, terwyl die melodie steeds getrou bly aan die oorspronklike. “Die oorspronklike weergawe is so uniek, en ek onthou nog presies waar ek was toe ek dit die eerste keer gehoor het. Dít is mos waaroor musiek gaan—om herinneringe te skep,” sê Ruhan.
Ander Projekte word nog Beplan
Hy verduidelik dat sy besluit om hierdie spesifieke liedjie af te stof aansluit by die FAK-segment wat hy al die afgelope vier jaar by sy vertonings insluit. “Dit gaan steeds baie goed af by gehore, soveel so dat ek dit selfs in 2023 by Afrikaans is Groot opgevoer het. Dit sluit ook mooi aan by ander projekte wat nog beplan word,” voeg hy by.
’n Nuwe Weergawe
Die nuwe weergawe van die liedjie vertel die storie van ’n jong enkellopende man wat op soek is na die liefde van sy lewe. “Vir sommige kom dit net makliker en natuurliker as vir ander,” verduidelik Ruhan. “Dis lig, dis vol humor, en soms bietjie stout. Dis vrolik en pret—die perfekte manier om jou bolla los te maak.”
Kan ’n Man luisteraars se harte sal verower
Ruhan is vol vertroue dat Kan ’n Man luisteraars se harte sal verower. “Ek glo dit kan ’n glimlag op jou gesig sit en ’n huppel in jou stap bring. Dit is eerlik en net iets om te geniet—glad nie ingewikkeld nie.” Hoewel daar tans nie ’n musiekvideo in beplanning is nie, kan aanhangers uitsien na ’n lekker liriekvideo wat die liedjie sal vergesel.
Kan 'N Man -Ruhan Du Toit
Indien jy ’n radio-onderhoud met Ruhan Du Toit wil doen oor die liedjie is jy meer as welkom om vir Tanya te kontak by tanya.smith@coleskeartists.co.za of 082 323 4949.