Op 4 Oktober het die Potchefstroom Drop Rugbyklub hul jaarlikse prysuitdeling gehou—'n aand vol prestasies, toewyding en groot aankondigings. Spelers, gades, borge en ander lede van die klub het bymekaargekom om die seisoen te vier en hulde te bring aan die spelers wat uitgestaan het.
Hoofborg vir 2025
Een van die hoogtepunte van die aand was toe Drikus Viljoen, 'n sleutelfiguur by die klub, aangekondig het dat The Go-To Guy, een van die klub se grootste borge, volgende jaar weer as hoofborg sal dien. Hierdie vennootskap het die rugbyklub baie gehelp, en met die bydrae van 'n astronomiese R100 000, is daar groot verwagtinge vir die komende seisoen.
Reg vir die nuwe seisoen
Die atmosfeer was vol opgewondenheid toe Viljoen die nuus bekend gemaak het, en die klub se lede was duidelik dankbaar vir die finansiële ondersteuning wat hul toekoms verseker. Die borge, spelers en hul gades is almal gemotiveerd om volgende jaar nóg sterker uit die wegspringblokke te kom.
Die spelers het puik presteer die afgelope seisoen, met 'n paar spelers wat meer as 1 000 minute op die veld deurgebring het - dís nou indrukwekkend en behoorlike toewyding!
Hoe die manne presteer het
Derde Span
Voorspeler van die Jaar - Tshiamo Pheto
Agterspeler van die Jaar - Reggy
Tweede Span
Voorspeler van die Jaar - James
Agterspeler van die Jaar - Franco van Niekerk
Eerste Span
Voorspeler van die Jaar - Marnus Venter
Agterspeler van die Jaar - Victer Vlok
Ander toekennings
o/21 Speler van die Jaar - Wian Fourie
Opkomende Speler van die Jaar - Jandré
Nuweling van die Jaar - Delarey Swart
7’s Speler van die Jaar - Ronaldo de Lima (Ronaldo is ook gekies om deel te raak van die Toyota Cheetah Akademie)
Klubman van die Jaar - Wally
Spelers se Speler van die Jaar & Mans Speler van die Jaar - JP Olivier
Erekleure
Armand du Preez - 5+ jaar aaneenlopend eerste span
Jackie Kriel - Luiperds Afrigter (Vroue)
Angelo Jacobs - Luiperds Afrigter (Vroue)
Francois Weideman - Luiperds Speler
Nadat al die formaliteite afgehandel was, is die vure aangesteek en is daar tot laataand gekuier - die beste manier om 'n klipharde seisoen af te sluit. Die Potchefstroom gemeenskap sien uit na die nuwe seisoen, asook om nuwelinge te verwelkom en staan bankvas agter ons dorp se rugbyspan.
Johané van Dyk - Potchefstroom
______________________________
Nog foto's van die aand