Hierdie is seker een van die oulikste inisiatiewe wat die Potchefstroom gemeenskap in ‘n lang tyd gesien het. Noah Fouché (Laerskool Mooirivier), Janco Oosthuizen (Laerskool Baillie Park) en Ulrich Geldenhuys (Laerskool M.L. Fick) het Vrydag, 18 Oktober, en Maandag, 21 Oktober, matriekleerlinge van beide Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool gaan ‘bemoedig’ voor hul die eindeksamen aanpak.
Dié klein lyfies het vir groot vermaak gesorg tydens die saal sessies en het leerders en onderwysers in die regte luim gekry voor die eindeksamen amptelik begin. Hiér is wat hierdie drie knapies te sê gehad het aan die klas van 2024:
Noah Fouché - Laerskool Mooirivier
Goeiemôre dames en here, ek is Noah Fouche, die slimste Gr. 1 in Laerskool Mooirivier en my ma sê die oulikste een ook. Ek moet vir julle bietjie raad kom gee vir julle laaste eksamen. So hier is dit, luister nou mooi.
No. 1 Hoop julle kry al die regte antwoorde en nie die verkeerde vrae nie en onthou dagga is gagga!
No. 2 Om te meet is om te weet - wat dit ookal mag beteken?
No. 3 Moet asseblief nie julle potlode kou nie – bring maar eerder ‘n toebroodjie! En vir die dames; dalk bruin brood. Onthou, hulle sê wit sit nè…
Matrieks van 2024, names die Tokkies baie sterkte, gee net julle beste en onthou niemand hou daarvan om Matriek twee keer doen nie! Dink mooi.
Ulrich Geldenhuys - Laerskool M.L Fick
Goeiemôre. My naam is Ulrich Geldenhuys en ek is in Graad 1 in Laerskool M.L. Fick. Kan julle glo julle was 12 jaar terug so groot soos ek? My ma, juffrou en selfs ek het gewonder wat kan ek vandag vir julle kom sê want ons almal weet mos matrieks weet alles!
Ek wil graag vir julle ‘n paar dinge saamgee vir die eksamen:
Koffie – om julle te help om wakker te bly as julle tot laat moet leer.
‘n Paperclip – om daardie senuwees bymekaar te hou.
‘n Kit-Kat – vir ‘n welverdiende ruskans.
‘n Uitveër – om jou foute te kan uitvee.
‘n Ballon – om vir jou te sê: Mik vir die maan, as jy mis, beland jy steeds tussen die sterre!
En laaste, maar die heel belangrikste: geloof. Doen net jou deel en God sal die res doen. Sy genade is vir jou genoeg.
Ek gee graag vir elkeen van julle Jeremia 29:11 saam: Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here. Voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.
Janco Oosthuizen - Laerskool Baillie Park
Goeiemôre.
Dit is ‘n groot lekkerte om vandag by julle te kuier en natuurlik is dit nooit sleg om ‘n bietjie skool te mis nie.
Vandat my juffrou my vertel het hoe baie werk julle het, het ek geweet julle het my goeie raad nodig. Ek weet sommer julle sal ook beter leer met prentjies.
Prit : Plak julle boude vas op julle stoele.
Wie nie leer nie kom nie deur nie.
Kit Kat: Vat ‘n breuk vat ‘n Kit Kat
Batterye: Die Here is my krag en my beskerming.
En laaste
Tastic: want julle is Fan Tastic
My ma en Dricus sê ek weet nie wat julle weet nie, maar ek het darem nog 11 jaar om te leer. Van almal by Baillies - baie sterkte met die eksamen!
Met die bogenoemde woorde van bemoediging, hoe kan die matrikulante nie gemotiveer wees om hul bes te gee nie? Dankie aan al die onderwysers en ouers vir hierdie oulike inisiatief, redenaars is beslis in hierdie knapies se toekoms.
Baie sterkte aan elke matrikulant met die eindeksamen. Doen jou bes en jy sal die vrugte pluk!
Johané van Dyk - Potchefstroom