Nes die res van die laerskole in Potchefstroom, het daar vandag, 15 Januarie, hordes ouers en kinders deur Laerskool President Pretorius se hekke gestroom om die nuwe skooljaar te begin.

Onderwysers sien net so uit na die nuwe skooljaar
Met die graad een opedag wat verby is, is die nuwe maats reeds bekend met hulle omgewing en was daar groot opwinding toe hulle die res van die leerders vanoggend by die skool sien aankom. Die entoesiasme was ook tasbaar by die onderwysers, oud en nuut. Een juffrou in besonder, Laurie-May Henrico, sien só uit na hierdie nuwe skooljaar dat sy haar hele klas van hoek tot kant versier het met portrette, doen-dit-self muurpapier en selfs koffers. Daar is geen twyfel dat vanjaar se graad ses leerders Afrikaans Eerste Addisionele Taal vreeslik gaan geniet in hierdie vrolike klas nie.

Dit is soveel meer as 'n beroep
Elke leerder se 'geskenkpakkie' het ook reeds op hul tafel gewag. Dié geskenkpakkies bevat boeke, skryfbehoeftes en dies meer. Juffrou Laurie-May se moeite met haar klas stel beslis die toon vir die jaar en leerders kan uitsien na insiggewende lesse en klasse vanjaar. Wanneer 'n mens na haar klas kyk, kan 'n mens sien dat onderwys nie net vir haar 'n werk is nie, maar 'n passie - nes dit vir soveel ander onderwysers is. Onderwys is nie net 'n beroep nie, dit is 'n roeping wat op individue soos dié se lewe geplaas is en dit kan, onderandere, gesien word in iets eenvoudig soos die detail wat in die versier van 'n klas gaan.
Ons wens elke leerder, onderwyser en personeellid alle sterkte toe met 2025. Mag dit een vir die boeke wees!
Johané van Dyk - Potchefstroom
______________________________
Nog foto's van Juffrou Laurie-May Henrico se klas
*Alle foto's geneem deur Drikus Viljoen




