Hoër Volkskool het op Dinsdag, 7 Mei, 'n jarelange droom verwesenlik met die amptelike grondbreekseremonie vir hul astro-hokkievelde.
Erewag van swart en geel
Die seremonie het afgeskop met 'n erewag wat deur die leerders gevorm is. Me. Badenhorst en Mnr. Kruger het leiding geneem, gevolg deur die hokkie afrigters en eindelik die hokkiespanne. Meneer Gerhard Swarts het die seremonie geopen waarna Meneer Le Roux Kruger aan die beurt was. Natuurlik het Me. Badenhorst ook kans gekry om die leerders toe te spreek, asook Willie van den Heever (voorsitter van die Beheerliggaam Infrastruktuur ). Die seremonie het tot 'n einde gekom met Meneer Stephan Pieters wat die skool begelei het tydens die skoollied, gevolg deur die kreet.
'n Besonderse nalatenskap
Emosies het hoog geloop op Volkies se sportgronde, veral toe Me. Mariska Badenhorst aan die beurt was om so paar woorde en dankies te deel met die ouers, onderwysers, borge en die skoliere. "As jy vir my in Januarie gesê het ek gaan hier staan, het ek nie eers gedink ek sal kan loop tot hier nie", het sy met 'n knop in haar keel gesê.
Hiérdie astro-droom van Me. Badenhorst is al vyf jaar in werking en dit was vir haar ‘n emosionele gebeurtenis toe hierdie droom eindelik arendsvlerke kry. Tydens Mnr. Le Roux Kruger se toespraak het hy genoem dat Me. Badenhorst hom destyds genader het en hulle het besluit om ‘n astrobaan vir Volkies agter te laat nog voordat hulle by die skool se hekke uitstap. Cecilia Potgieter (voormalige komitee voorsitter) en Me. Badenhorst het "baie braaf die hoof gaan sien." Presies vier jaar en elf maande gelede het die eerste advertensie uitgegaan wat die publiek in kennis gestel het van die groot droom wat Volkies het. Heel bo aan die advertensie het die volgende aanhaling gepronk: If your dreams don't scare you, they aren't big enough. En dít is waarmee die droom begin het.
Die dromer en die realis
Meneer Kruger is nie 'n groot dromer nie, hy is 'n realis en "gebruik dit wat voor hom op die tafel is." Juffrou Mariska is steeds die dromer tussen dié twee onderwysers en het aanhou glo dat hul wel die nodige fondse sou bekom op een of ander manier. En na vyf jaar se bloedsweet, fondsinsamelings en steun vanaf die gemeenskap, staan Mnr. Kruger saam met Me. Badenhorst steeds op die skoolgronde en kyk met trots hoe die gekose veld ingewy word.
Hulle kan ys aan 'n Eskimo verkoop
Me. Badenhorst en Mnr. Kruger was baie oortuigend, soveel so dat hulle selfs vir Me. Welma Pieters oorreed het om te skydive om fondse in te samel vir die einste astro. 'n Spesiale woord van dank het ook aan tannie Hannelie en oom Johan gegaan; hulle het Me. Badenhorst bygestaan om seker te maak hul doen alles in hul vermoë om aansoeke in te stuur vir die nodige fondse. Die Badenhorst gesin was Me. Mariska se grootste ondersteuners en steunpilare terwyl sy hierdie groot projek aanpak, terwyl sy haar eie stryd ook geveg het.
Beloftes maak skuld
Tydens haar toespraak het Me. Badenhorst die afrigters, personeel en ouers bedank. Sy het ook, tong in die kies, diegene wat aan haar genoem het "ons sal begin geld gee as ons sien dit word gebou" herinner dat beloftes skuld maak. "Of jy deel geword het van Volkie Vonk of jou naam op die bord het, wil ek vir jou dankie sê."
In samewerking met Trompie Groep
Trompie Groep is die maatskappy wat gekies is om die astrobane te bou. Hierdie nuwe bane sal vir die spanne die geleentheid bied om die sport op 'n hoër vlak te speel, veral met die ligas wat aanhou verbeter en op 'n meer kompeterende vlak plaasvind.
Me. Badenhorst het haar toespraak afgesluit met die volgende: "Mag elkeen van julle wat op 'n stadium op die astro oefen of speel, herinner word aan drome wat kan waar word."
Johané van Dyk - Potchefstroom
_________________________________
Hou hul Facebook en Instagram blaaie dop vir nog foto's van hierdie spesiale dag