Met die toenemende petrol- en dieselpryse, duurder lewenskostes en salarisse wat dieselfde bly, spandeer al hoe meer gesinne en families Kersfees in hul tuisdorpe. Hetsy jy ’n inwoner van Potchefstroom is of hier kuier oor die Kersseisoen, daar is iets vir almal om te doen in hierdie plattelandse dorp en omliggende areas.
Eerste stop
Die eerste stop wat Jan maak, is by die avontuurlistige geeste. Daar is verskeie aktiwiteite vir hierdie adrenalien junkies om te kies en keur. Valskermspring, ziplining en river rafting in Parys sal sorg vir hope pret en adrenalien vlakke wat die hoogte in skiet. Moenie vergeet van die perdry, boogskiet, paintball en selfs go- karts wat ook geniet kan word. Hierdie Desember kan ook dalk die maand wees wat jy besluit om ’n nuwe stokperdjie te vind en bemeester. Indien laasgenoemde opsie klink na iets wat jy eerder hierdie vakansie sal wil doen, verruil die vasteland vir die wonderlike onderwater-wêreld en leer om te skubaduik – hier in die hartjie van Noord-Wes!
Tweede stop
Die tweede stop neem ons na ons gesinne in die gemeenskap. Daguitstappies na omliggende lodges en oorde sorg vir hope pret vir die hele gesin. Wawiel Park in Stilfontein, Stonehenge River Lodge in Parys en Tangle Wood Nature Estate net buite Potchefstroom is slegs ’n paar oorde wat gesinne kan besoek tydens hierdie Kersseisoen; boonop sal dit nie die sak ruk nie. Alhoewel die jaar besig is om na ’n einde toe te kom, is daar steeds ’n paar laaste, plaaslike vlooimarkte wat Potchefstromers en kie kan bywoon; onderandere die Vars Mark wat elke Saterdag plaasvind, die Snowflake Mark en die laaste Dromersmark vir die jaar. Laasgenoemde sal ’n Kersmark wees wat by Bona Bona Game Lodge plaasvind, so dit kan ook sommer dien as ’n daguitstappie ook – twee voëls met een klip. Daar is ook ’n lekker paar flieks waarna die jongklomp kan uitsien en selfs escape rooms vir die ouer kinders. Fietsry- en staproetes is altyd ’n wenner vir gesinne en gelukkig is daar ’n verskeidenheid om van te kies.
Onthou die jaarlikse hoogtepunt
Natuurlik is daar ook die jaarlikse Liggiefees by die Abraham Kriel Kinderhuis wat ’n hoogtepunt en gunsteling is vir jonk en oud. Hierdie fees duur die hele Desembermaand en lok elke jaar duisende besoekers. Die fondse wat gedurende die fees ingesamel word, gaan direk aan die kinderhuis en hul behoeftes. Besoekers word bekoor deur duisende kersliggies en word na ’n wonderland geneem, terwyl laggende kindertjies en vrolike kersmusiek die lug vul.
Laaste pitstop
Jan se laaste stop is by diegene wat die jaar op ’n rustige noot wil eindig – met die klem op rus. ’n Wildsbesigtigingsrit by Lekwena Nature Estate gevolg deur ’n heerlike ontbyt klink mos na ’n ideale Saterdagoggend of hoe? Gaan pluk jou eie vars groente en vrugte of ontspan sommer in een van die vele koffiewinkels waarmee ons dorp spog. Ontdek jou kreatiewe kant en woon ’n pottebakkery klas by of laat die hare ‘n bietjie hang en besoek ’n brouery vir bier proe.
Ons dorp en die omliggende areas het soveel verborge juwele en bied iets vir almal – ’n mens moet net weet waar om te kyk. Maak hierdie vakansie op die platteland een vir die boeke!
Vir meer aktiwiteite in en om Potchefstroom, kliek op die foto hieronder:
Potchefstroom - Johané van Dyk