As jy nog nie gehoor het van First Saturdays by Snowflake nie, dan mis jy uit op een van Potch se lekkerste maandelikse kuiergeleenthede. Hierdie keer val dit op Saterdag, 5 April 2025, en dit begin klokslag om 18:00 – en hou aan tot die voete nie meer wil nie.
Groot saal, groter vibes
Elke eerste Saterdag van die maand word die groot saal by Snowflake op 2 Kockstraat in Central, Potchefstroom, omskep in ’n dansvloer waar daar van sokkie tot langarm, losdans en sommer net vry dans is. Dis ‘n plek waar jy kan gaan uitswaai, of jy nou met jou eie moves kom of net jou tone wil tap.
Die musiek is 'n mengsel van dance classics, covers, en vanaf 10pm tot 2am neem ou DJs van die legendariese Bourbons oor – ‘n regte throwback vir die wat daardie dae onthou.
Almal welkom – regtig
Die geleentheid is oop vir almal, so bring jou vriende, ouers, kollegas – en daai een vriend wat altyd sê hy kan nie dans nie. Niemand oordeel nie, en almal's welkom.
Wat kos dit?
Die kaartjies is by die deur beskikbaar en werk op 'n slim stelsel:
6pm – 10pm: R20
10pm – 12am: R30
12am – 2am: R40
So ja, hoe later jy aankom, hoe dieper moet jy grawe – maar dit bly steeds sakpas.
Honger en dors gaan jy nie wees nie
Daar’s 'n kontantkroeg (ja, bring kontant – die plek se naam is nie eWallet nie), en pizza en meer is op die spyskaart. Perfek vir daai midnight munchies.
So as jy hou van musiek, dans, mense, en pizza (dis basically almal), dan sien Snowflake jou op 5 April. Kom vroeg, dans laat – en onthou jou tekkies.
