Wanneer mense aan troues dink, is die beeld gewoonlik een van die bruid wat al die reëlings tref en die bruidegom wat net opdaag. Maar hoekom moet dit so wees? ’n Troudag is immers ’n viering van twee mense, en albei se insette behoort te tel. Laat ons dus praat oor hoe om die bruidegom meer betrokke te kry by die troubeplanning – en hoekom dit belangrik is.
Die Stereotipe: Net Opdaag
Kom ons wees eerlik, die algemene stereotipe is dat troues vir vrouens is. Mans hoef net te wys, “I do” te sê en die res van die aand drankies te geniet. Maar volgens Angelo, wat ons gevra het oor sy ervaring met troubeplanning, is hierdie siening oudmodies.
Hy erken dat dekor en blomme dalk nie so opwindend is vir die meeste mans soos dit vir vrouens is nie. Maar om net te sit en wag vir die eindresultaat? Nee dankie. Hy wil weet wat aangaan, betrokke wees, en voel dat sy stem gehoor word. Trouens, hy het die uitnodigings en gastelys hanteer terwyl hy oorsee gestudeer het.
So, die punt is: jou bruidegom hoef nie alles te organiseer nie, maar gee hom ’n rol wat by sy sterkpunte pas. Miskien hou hy van logistiek, of miskien kan hy jou help met die musiekkeuses. Dis belangrik dat hy voel hy dra by tot die dag.
Vind Sy Belangstellings
Nie elke bruidegom gaan mal wees oor die kleurpalet of tafelversierings nie, maar daar is ander aspekte waarby hy betrokke kan raak:
Kos en drank: Wie hou nie daarvan om spyskaartopsies te toets nie? Betrek hom by die besluit oor die kos en drankies wat gaste gaan geniet.
Musiek: Laat hom help met die liedjies wat gespeel gaan word. Hy kan die DJ of orkes kies, of dalk ’n paar van sy gunstelingliedjies by die lys voeg.
Gastelys: Hy ken dalk mense wat jy vergeet het, of hy kan help om te besluit wie op die kortlys behoort te wees.
Strooijonkers: Laat hom besluit oor die aantrek van sy strooijonkers. Dis sy mense, en hy weet wat hulle gemaklik gaan dra.
Maak dit Pret
Die idee van troubeplanning kan oorweldigend voel – veral vir iemand wat nie van nature ’n beplanner is nie. Maak dit ’n spanpoging en sorg dat daar humor en ligte oomblikke is. Gaan toets wyn saam of hou ’n proe-aand vir die spyskaart. Hierdie oomblikke maak nie net die beplanning meer draaglik nie, maar bou ook herinneringe voordat die groot dag aanbreek.
Verskille in Prioriteite
Wat belangrik is vir jou, is dalk nie so belangrik vir hom nie. Hy mag dalk dink die venue is belangriker as die blomme, of die musiek belangriker as die stoele. En dis oukei. Deur die take te verdeel en elkeen toe te laat om op sy/haar prioriteite te fokus, maak die proses makliker en minder stresvol.
Kommunikasie is Sleutel
Die grootste uitdaging in enige troubeplanning is kommunikasie. Maak seker dat julle gereeld praat oor hoe die proses vorder en dat julle albei gemaklik voel met die besluite wat geneem word. Angelo het genoem dat dit vir hom belangrik was om “in die know how” te wees – al was hy fisies nie daar nie. Deur foto’s en opsies aan hom te stuur, kon sy verloofde hom steeds betrokke laat voel.
Hanteer Familie-Insette
’n Ander groot uitdaging is om familie-insette te balanseer. Angelo deel dat hulle soms van ’n venue gehou het, net om deur familie gekritiseer te word. Uiteindelik het hulle geleer om na raad te luister, maar om hul eie besluite te neem. Dit is, na alles, julle dag.
Sy Perspektief op Trou Beplanning
Angelo het dit perfek opgesom: “Trou beteken nie die einde van vryheid nie. Dit beteken ek wil die wereld sien, maar met haar aan my sy. Dit beteken ek weet ek wil elke oggend en aand daardie lippe soen.”
Vir hom is troubeplanning nie ’n taak nie, maar ’n avontuur. Dis ’n geleentheid om saam ’n lewe te begin bou. En al is die beplanning nie altyd maanskyn en rose nie, is dit ’n voorbereiding vir ’n lewe van kompromie en samewerking.
Finale Gedagtes
Om jou bruidegom by die troubeplanning te betrek, beteken nie hy moet elke lint en kaartjie keur nie. Dit gaan oor saamwerk en seker maak dat julle albei se stemme gehoor word. Dit gee hom die kans om deel te wees van die reis, en dit help om die druk van een persoon af te neem.
Onthou, troue is ’n viering van julle albei. Maak seker dat julle albei ’n rol het wat die dag spesiaal maak. So, gryp jou agenda, maak ’n lys van take en vra: “Wat sal jy graag wil doen?”